Hannes Ollewagen
Eségiël 36:1-38
In vers 17-21 lees ons hoedat die volk van God hulself skuldig maak deur hul land te verontreining deur hulle goddelose wandel en handelinge. Ons eie volk hier in Suid-Afrika het ons ook skuldig gemaak aan dieselfde oortredinge en het ook die Heilige Naam van God in ons land verontreining deur van Hom afvallig te raak en Hom te vergeet. En is óns volk nie óók onder die nasies verstrooi en in ander lande versprei soos wat ons lees met die volk Israel gebeur het nie? Is ons nie ook geoordeel volgens ons handel en ons wandel nie? (Vers 19)
Ons is as ‘n geringe volkie geplant aan die suidpunt van Afrika met ‘n roeping om as Godsvolk te leef tot eer van sy naam. Ons was veronderstel om dit wat kosbaar en heilig vir ons volk was, nl. ons geloof in God Drie-enig en ons geloftes aan Hom, te vertroetel, te beskerm en die kennis daarvan aan ons nageslag oor te dra. Ons was bestem om ons kinders in die weë van die Here op te voed en hulle te leer van die wonders wat God vir ons volk gedoen het.
(Ps. 78:1-7). Ons het egter verkies om die weë van heidense nasies te volg. Ons het gekies om meer tyd aan sport te spandeer as aan ewigheidssake; ook om ons kinders meer tyd daaraan te laat spandeer as om hulle in God se weë te laat onderrig. Dit is ook belangriker om my kind se akademiese en tersiêre opleiding te bevorder as sy vertroue in God. Ons dink mos God is verleë oor ons en as my kind oor een of ander uitstaande universiteitsgraad beskik of in sport uitblink, kan ons des te meer sonder Hom en Hy sonder ons oor die weg kom.In hierdie gedeelte leer ons opnuut dat God nie een van ons nodig het in sy diens nie. Ongeag hoe belangrik die moderne humanistiese “godsdiens” die mens ook al in die samelewing mag laat lyk en voel, bly ons nietige en sondige wesens. Die feit dat God ons die verantwoordelikheid en roeping gegee het om as sy volk tot sy eer te leef, is niks anders as ons voorreg nie!! Dit is nie ons reg nie, want ons as mense het nie REGTE nie, net voorregte - wat ons van Hom ontvang. Selfs net om vanoggend die nuwe lewenslig te kon aanskou, was ‘n VOORREG uit sy Hand. Wanneer ons dus die voorreg het om sy volk te wees en tot sy eer te leef, is dit mos volgens sy voorwaardes, nie waar nie? Dit beteken wanneer ons as volk van Hom afvallig word, ons noodwendig gestraf sal word. Ons het egter die wonderlike beloftes in sy Woord dat hy regverdig en getrou is en dat Hy Hom oor ons sal ontferm en nie vir altyd sal straf en nie vir ewig die toorn sal behou nie. Hy sal ook die verkeerde vergewe en ons genees.
Ons volk is huidiglik ook in die posisie waar ons voos geslaan is. Ons mense raak vervaard, moedeloos, angstig en die toekoms lyk uit ‘n menslike oogpunt baie grou. Dit laat menige volksgenote radeloos gryp na verskeie vorme van hoop, maar die hartseer is dat hulle hul hoop en vertroue op mense stel wat uit selfsug hul eie belange nastreef, of selfs in sommige gevalle die belange van die vyand bevorder. Wat moet ons dan anders doen? sal baiemense vra Ons kan tog nie niks doen nie? Ons het lank genoeg niks gedoen nie. Dit is van niks doen dat ons in hierdie benarde situasie verkeer. Maar is dit waar? Ek sou sê dit is van misplaaste vertroue in mense in plaas van op God dat ons hier beland het! Is dit God wat ons verraai het of is dit mense wat ons volk uitverkoop en verraai het? . . .
Laat ons ophou om uit koppigheid ons eie heil te probeer bewerk in ons strewe na eie belang. Wanneer ons by die klein dingetjies wat God van ons vra begin, sal Hy na ons kom om ons self van ons onreinheid af te was en uit ons volksiel die hart van klip weg te neem en ‘n hart van vlees gee. Hy sal sy Gees in ons binneste gee sodat ons in sy insettinge sal wandel en sy verordeninge sal onderhou, maar ons moet elkeen by ons eie lewenswandel begin deur vir Hom plek te maak om daar te woon! Hy wil sy Gees in ons laat werk, maar as ons nie vir Hom plek maak en oopmaak wanneer Hy klop nie, sal Hy ons forseer of eerder uitlos? Want kyk, Hy kom na ons en wend Hom na ons toe (vgl. vers 9), maar sal Hy ‘n hart van ootmoed by ons vind waar ons onsself in nederige onderdanigheid aan sy wil onderwerp?
Ons kan verseker wees dat indien laasgenoemde wel die geval is wanneer die Almagtige Hom na ons wend, die woorde in vers 28 ook weer opnuut ‘n lewende werklikheid in ons Afrikanervolk se bestaan sal word: “En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees.”