DIE LOSPRYS VIR JOU SIEL?

Hannes Ollewagen

Markus 8:34-38

In vers 38 leer Jesus vir ons:  “…Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” Is dit verniet dat Christus ons self leer dat wanneer ons besluit (deur God se oortuiging in ons lewens) om Hom te dien, ons onsself moet verloën?  Is dit nie in teenstelling met die hedendaagse humanistiese “godsdiens” waar alles in der waarheid oor myself gaan nie?  Hoe leer Christus dan nou die teenoorgestelde?

Die wêreld verkondig ‘n “godsdiens” wat rondom die mens draai en daarop uit is om die mens bewus te maak van sy regte en ook hoe wonderlik as wese hy dan nou is.

  Ons kan in die gelese gedeelte opnuut sien hoe die euwel van humanisme na vore kom en dat humanisme presies die teenoorgestelde is wat Jesus op aarde vir sy dissipels en die skare(s) wat na Hom gaan luister het, geleer het!  Ons bely met die lippe dat ons agter Hom wil aanloop, maar ons wil nie onsself verloën nie en ons wil ook nie die kruis opneem en Hom volg nie?  Mense wil God dien op hulle voorwaarde – m.a.w. mense wil God dien vir wat Hy vir hulle kan doen en nie vir wat hulle vir Hom kan doen nie?  Dit is nie diens nie – dit is ‘n verwaande en dwase redenasie wat gesetel is in die wensdenkery dat jy God kan manipuleer!  Laasgenoemde wat nie moontlik is nie, want Hy sien en weet alles.  Hy toets die harte en die gedagtes. (Psalm 11:4:  “Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders.”).

Mense besef nie dat hulle in hulle verstand so verduister raak deur die humanistiese afgodediens nie, dat dit net maar ‘n kwessie van tyd is voor hulle sal begin redeneer, leef en bid asof God daar is om hulle te dien.  Jou gebede, gedagtes en strewes raak ‘n selfsugtige gejaag na wind, want jy glo dat jy tot alles in staat is - jy kan net roep en God sal moet gereedstaan om jou te help.  Dit is onteenseglik waar dat God hoor wanneer sy kinders Hom aanroep, maar dit sal nie wees om hul eie vleeslike, selfsugtige begeertes, baie keer ten koste van ‘n ander, te bevredig nie.

Die humanistiese godsdiens is die teenoorgestelde van  'n lewe van ootmoed, nl. nederige onderdanigheid aan God, waarvan Christus ons leer en vir ons die voorbeeld kom stel het.  Hy het ons kom leer dat wanneer ons iets aan een van hierdie geringstes doen, dit so goed is dat ons dit aan Hom gedoen het.  Hy het vir ons geleer dat ons eie wil ondergeskik moet wees aan God se wil vir ons lewens toe Hy gebid het dat die lydensbeker by Hom verby sal gaan, maar laat dit steeds volgens God se wil en nie sy wil nie, geskied.  Hy het ons in Woord en in daad kom leer dat ons op aarde is om God te dien, nie Hy vir ons nie.

Ons het soveel genade van Hom ontvang deur van die ewige verderf verlos te word deur die kosbare soenbloed van ons Verlosser, Jesus Christus, dat ons Hom nooit genoeg daarvoor kan dank nie.  Daarbenewens seën God ons met wonderlike gawes van verstand, gesondheid, ambag, ens. wat ons dan ook natuurlik mag en moet gebruik na die beste van ons vermoëns, maar ons mag nooit daardie gawes van ons meer liefkry as die Gewer nie, want dan sal ons ons gawes begin dien i.p.v. dat ons gawes ons dien en ons dit gebruik om Hom te dien.  Dink maar daaraan hoe die doel van geld eintlik is om die mens se lewe te vergemaklik en m.a.w. daargestel is in diens van die mens, maar daar is mense wat so behep is met laasgenoemde dat hulle verkneg is daaraan!  Hoe tragies is dit nie, want hulle bely met die lippe dat hulle vry is omdat hulle glo in Jesus Christus, maar in hul lewe is hul verkneg en onder die las van die afgod Mammon?!

Is ons bereid om onsself te verloën, ons kruis opnuut op te neem en Christus te volg?  Is ons bereid om die pad van die waarheid te stap, die pad van stryd – stryd vir die behoud van die ware Christelike geloof in ons land waar die waarheid vertrap word en gebuk gaan onder die leuen in hierdie owerspelige en sondige geslag waarin ons bly,  of begin ons vir die waarheid ook skaamkry?  (Vers 38).

Sou ek die mooiste motor koop, my kind na die beste universiteit toe stuur, my kind die bekendste sportster in die wêreld raak, ek die mooiste huis bou of die grootste plaas koop, ek die hoogste kwalifikasie denkbaar in menseheugenis verwerf, maar ek volg Hom nie, is ek verseker dat ek die ewige lewe gaan misloop!  Vir die meeste dinge in die lewe word ‘n mens meer as een kans gegee, maar nie op die ewige lewe nie.  Jy word wel genoeg tyd gegun om jou keuse te maak, maar wanneer dit finaal is, is daar nie ‘n tweede kans nie en ook nie ‘n losprys vir jou verkeerde keuse nie!