BRANDER AAN N.G.KERK-MODDERMAKER

OPE BRIEF AAN PROF. NIEMANDT

(MODERATOR VAN DIE N.G. KERK VAN SUID-AFRIKA)

29 Julie 2014

Professor Niemandt,

I/S:  BERIG OP VOORBLAD VAN DIE VOLKSBLAD, 28 JULIE 2014

Luidens die berig wat in die Volksblad verskyn, meen u dat die N.G. Kerk se onlangse opname in die WRK, die herstel is van ‘n geskiedkundige fout wat dié kerk 50 jaar gelede begaan het.

Ek wil u egter daarop wys dat die huidige probleem van die N.G. Kerk nie in ‘n geskiedkundige misstap gesetel is nie, maar veel eerder is hierdie probleem gesetel in ‘n sielkundige fout om te probeer om die wêreld (mense) ter wille te wees in plaas daarvan om aan God Drie-enig gehoorsaam te wees.

Nie een maal in hierdie berig word daar eers na die Almagtige God verwys nie.  ‘n Mens sou immers verwag dat die “kerk” na sy leiding sal soek in sake soos hierdie.  Laasgenoemde verbaas my egter nie in die minste nie, aangesien dit duidelik uit hierdie organisasie se optrede blyk dat Hy lank reeds nie meer die Leidsman, Koning en God van hierdie “kerk” is nie.  Hierdie organisasie het as werktuig in Satan se hand geval om die Afrikanervolk van sy God af weg te lei!

U meen verder dat hierdie organisasie ‘n sterk ekeumeniese ingesteldheid het en dat dit kernbelangrik vir kerke is om “hul geloofstandpunte teen mekaar te kan toets”.  Die kerk is nie veronderstel om as ‘n laboratorium op te tree om polities-korrekte menings te toets om te bepaal watter een van dié menings die meeste fondse in bankrekenings laat invloei nie.  Die WARE kerk is veronderstel om rigting te gee in ‘n verwarde wêreld en om die weg te wys vir mense na God se koninkryk.  Verder is die kerk daarvoor verantwoordelik om te waak teen dwalinge, tereg te wys, te vermaan en te berispe en sodoende mense, en selfs die regering van die dag, op koers te hou en terug te bring wanneer hulle van die waarheid (en sodoende van God) afdwaal.  Ek twyfel egter of u hierdie kern-waarheid sal verstaan, aangesien u as die hoogste gesag van hierdie organisasie (want God is duidelik nie ‘n erkende gesagsfiguur in u hiërargie nie) self erken dat u verdwaald is in die volgende woorde:  “Dit help jou om sáám na die waarheid te soek.”  Hoe kan u mense in die regte rigting lei terwyl uself nog soekend in die donker rondtas?  Het Jesus Christus nie self gesê dat een blinde nie ‘n ander blinde kan lei nie?

Is die kerk dan op die been gebring om na die waarheid te soek eerder as om die waarheid te verkondig en te verdedig wanneer dit bedreig word?  Indien die kerk dan as die bruid van Christus op aarde Hom die rug gekeer het om die pad agter die wêreld aan te stap en sodoende troubreuk teen Hom gepleeg het, sal u steeds met reg kan sê dat hierdie organisasie se “soektog na die waarheid” ingestel is om sy Wil te volbring?

Indien dié organisasie se soeke wel was om die wil van God te volbring, wil ek u daarop wys dat u spoedig u strategie in die “soeke na die waarheid” sal moet verander, aangesien u allermins die waarheid sal vind by ander organisasies wat ook dwalend rondtas.  Die waarheid kan slegs gevind word in die bestudering van die onfeilbare Woord van God – nie in die verandering en hervertaling daarvan nie, maar in die bestudering daarvan.  Johannes 14:6:  “Jesus antwoord hom:  Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”  Johannes 8:31&32:  “En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het:  As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.  En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

U bereidwilligheid om uself en ook die organisasie te onderwerp aan die gesag van die Allerhoogste God, sal vir die wêreld toon wie se belang u waarlik op die hart dra.  Ongeag van wat u die wêreld laat glo, wees verseker dat niks vir God se oë verborge is nie en dat Hy self sy uitverkorenes se oë sal oopmaak sodat hulle  tot die besef sal kom dat hul nie na die waarheid opsoek is nie.  Die waarheid is reeds aan ons gegee in die Woord van God en bevestig deur Jesus Christus, ons enigste Verlosser en Saligmaker.  Die enigste soeke wat oorbly, is om die Wil van God te doen.

Die uwe

J.F. Ollewagen