STRY IN EENSGESINDHEID VIR DIE EVANGELIE
Hannes Ollewagen
Filippense 1:27 – 2:18
Vers 27: "ALLEENLIK, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom enjulle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor en julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie.”
Nie net berispe Paulus die Filippense om ‘n lewe te leef wat by die bekering en geloof in Christus pas nie, maar moedig hy hulle ook aan om eendragtig saam te stry vir die geloof van die evangelie. Die evangelie, die onweerlegbare waarheid, moet deur gelowiges nie net eendragtig beoefen word nie, maar ook eendragtig verdedig word wanneer dit bedreig word.
Sedert ons volk se ontstaan, kon ek nêrens in ons geskiedenis ‘n tyd opspoor waar die Christelike geloof tot só ‘n mate bedreig is as tans nie. Hierby sluit ek nie in die groot bedreiging tot totale uitwissing wat ons volk by Bloukrans en Bloedrivier in die gesig gestaar het nie.
Ons word nie alleen fisies aangeval nie, maar ons geloof, nl. die evangelie van ons Verlosser, ons Heiland, ons Koning, ons Saligmaker, word bedreig en aangeval op elke moontlike vlak in die samelewing. In ons vermaak (wat deesdae klaarblyklik grootliks uit televisie bestaan) word ons geloof aangeval en word hierdie manier van ontspanning as kragtige instrument teen ons gebruik om ons volk te breinspoel. In die media word die waarheid verdraai, in die skole word ons geloof afgewater tot soortgelyk of selfs benede heidense gelowe en word dit aan ons kinders geleer. Ook in die kerke word daar openlik vir mense van die kansels af leuens toegedig wat in stryd met die evangelie is! Wat doen ons hieromtrent – ons verdra dit!! Ons verdra die leuen, ons verdra die bose, maar my broeder in Christus kan nie dieselfde verdraagsaamheid van my verwag nie.
In vers 5 lees ons: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” Ons moet met dieselfde gesindheid leef en God dien as waarmee Hy dit gedoen het. Christus het nie onder sy dissipels en broers in die geloof rusie gemaak en twis verwek nie. Christus het nie leuens verdra nie, ook nie die misbruik van die huis van God as ‘n handelshuis nie. Hy het die slegte en die vyande bestry, maar diegene wat aan sy kant saam aan die koninkryk gewerk het, het Hy verdra – ten spyte van die feit dat Hy volmaak en hulle sondig was. Hy het nie iets gedoen uit selfsug of uit ydele eer nie (vers 3). Hy was gehoorsaam aan God – ja, gehoorsaam tot die dood aan die kruis wat die mees veragtelike dood van daardie tyd was.
Sal ons elkeen voortgaan met sy eie ydele, selfsugtige stryd op soek na eie belang of sal ons die voorbeeld van ons Meester in gehoorsaamheid aan ons Vader navolg sodat ons kan skyn soos ligte in ‘n donker wêreld? (Vers 15). Sal ons kies om ons Meester se voorbeeld te volg en ook mekaar se belange te soek (vers 4), m.a.w. om ook weer te gaan soek na die voortbestaan van ons volk as ‘n eenheid in Christus wat Hom in eensgesindheid sal dien en verheerlik sodat ons tot sy eer sal leef? Om Hom as ‘n volk in eensgesindheid te dien beteken nie om almal in een kerk te gaan sit op dieselfde tyd en plek en saam te bid en lofprysinge te sing nie. Dit beteken dat ons elkeen wat Hom liefhet, aan Hom gehoorsaam sal wees in nederige onderdanigheid en daardie liefde nie net met lippediens aan Hom toon nie, maar ook met dade ons geloof en toegewydheid aan Hom te wys met my verdraagsame optrede teenoor my naaste en broeder in die evangelie, maar ook my weersin en afsku van die leuen en vyande van die waarheid en die evangelie.
Dit beteken ook dat ons sal waak teen geestelike hoogmoed wat veroorsaak dat ek my wil onttrek van ons volksaak omdat ek voel dat ek die laaste behoudende Christelike Afrikaner is wat oorgebly het terwyl almal hulle beginsels oorboord gooi! Hierdie geestelike hoogmoed sal veroorsaak dat jy jou lus en krag sal verloor om te stry, aangesien jy heeltemal geïsoleerd sal voel in die stryd (want eensaamheid is ‘n noodwendige gevolg van selfsug).
Dit beteken natuurlik nie dat ek my met mense wat in ongebondenheid leef moet meng nie, maar dat ons verdraagsaamheid jeens mekaar sal hê in die stryd vir die evangelie. Wie nie teen ons is nie, is vir ons. Wanneer iemand nie teen die evangelie werk nie, moet ek nie daardie werk gaan afbreek nie – hoe onbenullig dit uit my oogpunt mag lyk. Ons is daar om mekaar tereg te wys en te vermaan en te berispe waar ons verkeerd doen, maar wanneer ons dit met die regte gesindheid doen, sal ons die waarde wat die werk wat ‘n persoon doen met geen ander maatstaf meet as die waarde wat dit tot ons Vader se koninkryk hier op aarde toevoeg nie.
Die tyd het vir ons aangebreek dat ons die las van afgodediens van ons afwerp. Daardie afgodediens waarmee ons elkeen daagliks besig is of dit nou genot, geld, sport, roem of wat ookal is wat veroorsaak dat ek in selfsug net my eie belang soek en nie dié van my naaste, my volk en my God nie; sodat ons ook ons Vader kan dien met die gesindheid wat daar in Christus Jesus ons Verlosser was.
Ons kies om in selfsug binne ons gemaksone te probeer om te bly voortbestaan en daar wegkruip met dié verskoning dat ons eers op God se redding moet wag; òf, ons kan ons oë oopmaak en besef dat Hy ons wil red, maar van ons verwag om daadwerklik op te tre.
Ast jy jou gesindheid teenoor Hom herstel het, sal jy jouself geroepe voel om opnuut toe te tree tot die stryd vir die behoud van die Christelike geloof hier aan die suidpunt van Afrika met alles wat ons hier moet handhaaf en hou! Ongeag die kritiek wat jy in hierdie stryd sal moet trotseer, sal jy wil aanhou stry, aangesien jy dit nie om ydele eer doen nie, maar uit opregte dankbaarheid teenoor ons Skepper en Vader.
Onse Vader wil sy Hand van barmhartigheid na ons uitstrek en sy grote Naam deur ons verheerlik, maar wag daarop dat ons gesindheid en optrede ‘n bewys sal wees dat ons ook daardie begeerte het dat Hy ons genadig sal wees. Laat ons nie in blindheid bly rondtas en sodoende liederlik die waarheid mistas nie, want dit sal veroorsaak dat ons ook hierdie waarskuwing nie ter harte neem nie, Lukas 19:44: “…omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.”
Ons hoef nie blindelings rond te tas nie, ons weet waar Hy is. Gaan saam met jou mense in jou huis, rig jou knieë na die grond en jou oë omhoog, en ons sal Hom weer vind!