OFFER VAN GEHOORSAAM- HEID

GEHOORSAAM TOT WAAR DIT MÝ PAS?

Hannes Ollewagen

1 Samuel 15:1-35

Ons lees in vers 3:

“Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het;  en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.”

Hier gee die HERE aan Saul opdrag om in oorlog teen Ámalek op te trek.  Hy beveel Saul om alles wat aan Ámalek  behoort met die banvloek te tref insluitend die beeste en kleinvee.

Ons lees hoe Saul met sy 210,000 manskappe die stad van Ámalek met die banvloek tref, maar ook dat hy die koning van die stad saam met die beste vee asook die naasbestes van die lammers en alles wat van waarde was, na hul eie land terugbring.  Dit was vir hulle maklik om die onaanneemlike met die banvloek te tref, maar hul begeerte om van Ámalek se besittings vir hulself te neem, was sterker as hul begeerte om aan God gehoorsaam te wees. Daarby was Saul baie trots op sy roemryke oorwinning.

  Hy probeer egter sy ongehoorsaamheid aan God regverdig met dié verskoning dat dit vir ‘n goeie doel is – om die weggevoerde buit aan God te offer!  (Vers 15).  Saul probeer met elke beskuldiging wat die profeet Samuel na hom swaai sy daad regverdig deur die skuld op sy manskappe te laai.  (Verse 15 en 21).

Nadat Samuel vir Saul daarop wys dat gehoorsaamheid aan God vir Hom baie meer aanneemlik is as enige ander fisiese offer wat ‘n mens kan bring, besef Saul hoe verkeerd hy was en erken dan sy skuld in vers 24:

“Toe sê Saul vir Samuel:  Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.”

Sy vrees vir sy manskappe het gelei tot ongehoorsaamheid aan God.   Omdat hy nie geheel en al sy vertroue op God geplaas het nie, het God hom as koning van sy volk verwerp!

Hoeveel keer is ons nie net soos Saul ook aan God gehoorsaam nie, maar net tot by die punt waar dit vir ons ongerieflik of ongemaklik raak.  Ek sal God gehoorsaam, maar as dit my aansien voor my vriende negatief kan beïnvloed, dan sal ek maar so bietjie laat vaar met die standvastigheid, my gehoorsaamheid of beginsels.  Ek sal God gehoorsaam, maar ek sal my kinders so bietjie meer gehoorsaam, want ek wil nie hê hulle moet vir my kwaad wees nie.  Ek sal aan God gehoorsaam wees, maar daar waar dit vir my groot finansiële verlies kan veroorsaak in die handelswêreld sal ek mos maar ‘n bietjie moet toegee – ek gee immers my tiende in die kerk – so as ek met oneerlikheid ‘n groter wins kan maak kan ek mos ‘n groter tiende gee?  Ek sal dalk selfs meer as net ‘n tiende van hierdie wins wil afstaan omdat ek my gewete probeer sus (klink dit nie baie soortgelyk aan Saul se optrede wat ook die gedagte van die Roomskatolieke aflasbriewe in die gedagtes laat opkom nie?).  Tereg dat Samuel vir Saul in vers 23 daarop wys dat eiesinnigheid afgodery en beeldediens is.  Dit kom dus daarop neer dat wanneer jy vir God op jou voorwaardes wil aanbid, jy met afgodery besig is.

Sonder dat ‘n mens dit dalk besef, is ongehoorsame optrede ‘n teken van ongeloof.  Waarom wil jy oneerlik sake doen wanneer jy glo dat God die Gewer van alle goeie gawes is en dat Hy aan elkeen van ons sal gee soos Hy weet nodig en goed vir ons is?  Behoort die aarde en die volheid daarvan nie aan Hom nie?   Waarom wil ek nie my kind(ers) in God se weë opvoed terwyl ek weet Hy alleen die Gewer van lewe is en hulle in die eerste plek aan my geskenk het nie?  Is ‘n Godsvresende opvoeding (gehoorsaamheid) nie die minste wat ek in dankbaarheid aan Hom kan teruggee as dankoffer vir hierdie pragtige geskenke van Hom nie?

Vers 35:

“…en die HERE het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.”

As ek op hierdie oomblik moet opstaan en rekenskap gee oor die werk, gemeente, vriende, sakeonderneming, meisie, vrou en/of kinders wat God aan my toevertrou het, sal Hy berou daaroor hê dat Hy sommige daarvan aan my toevertrou het aangesien ek nie daarmee handel soos Hy vra nie?  Of sal Hy met welgevalle na my kyk en sien hoedat ek Hom met ywer in gehoorsaamheid dien met alles wat Hy aan my toevertrou het?

Laat elkeen van ons elke dag probeer om met ‘n gesindheid van nederige onderdanigheid die welgevallige offers van gehoorsaamheid aan die stem van ons God aan Hom te bring.  Mag hierdie offers soos ‘n lieflike reukwerk na Hom opstyg. Mag Hy ons volk wat tans so verwerp voel weens ons ongehoorsaamheid, weer aanneem en ons op die bestemde tyd verlos.