Hannes Ollewagen
“ALLEENLIK, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie.” Filippense 1:27
Een van die mees effektiewe wapens wat die satan gebruik om gesinne, families en volke uitmekaar te skeur, is tweedrag. Die gees van twis, tweedrag en onmin het ’n opdrag vanuit die hel ontvang om vernietiging en verwoesting te saai waar hy ookal beweeg. Die woord tweedrag beskryf so duidelik wat uiteindelik ná die twis ontstaan: verdeeldheid.
Die wapen wat die bose geldmagte (dienaars van die satan) met groot sukses ingespan het om ons volk ten gronde te rig, was dan ook natuurlik tweedrag. Hierdie magte wou nie net die rykdom van ons land inpalm nie, hulle wou ons volkstradisie van Christelike geloof wat soos ‘n goue draad deur ons geskiedenis geweef is, vernietig. Ons kan dus met reg sê dat dit nie net ‘n aanval op ons land en volk was nie, maar veel dieper gerig met die oog op die vernietiging van ons Christelike geloof. Ons geskiedenis getuig immers van ‘n volk wat uit talle dale van doodskaduwees herrys het. Dit was telkens te danke aan ons geloof in die Drie-enige en almagtige God van hemel en aarde. Hy is almagtig en daarom kon ons met soveel gerustelling in die wete leef dat enige mag wat ons wou aanval en probeer vernietig, Hóm eers sal moet oorwin - dít weet ons is natuurlik nie moontlik nie.
Satan weet ook dat hy en sy magte God nooit kan oorwin nie. Satan weet egter goed dat mense van God af weggerokkel en mislei kan word en hierdie geleentheid om selfs ‘n hele volk van God afvallig te probeer maak het hy nie laat verbygaan nie. Die skade wat hy die Christelike geloof hierdeur sou berokken, moes vir hom ongelooflike genoegdoening verskaf het. Alhoewel die aanslag baie hewig was en verskeie wapens suksesvol in hierdie stryd teen ons gebruik is, volstaan ons in hierdie skrywe net by die wapen van tweedrag.
Tweedrag het veroorsaak dat ons in menige gevalle selfs onbewustelik meegewerk het aan die vernietiging van ons kerke, staatkundige regeermag, ons kultuur, skole en soveel ander lewensnoodsaaklikhede wat nodig is vir die gesonde bestaan en vooruitgang van enige volk. Alhoewel daar vyande is wat doelbewus daarop uit is om hierdie dinge en ons volk as ‘n geheel te vernietig, kon ons die aanval sover nie stuit nie. Dit juis omdat ons te besig is om met mekaar te baklei terwyl die vyand ongehinderd voortgaan met sy vernietigingswerk.
Wanneer ons die omvang van die geestelike stryd waarin ons gewikkel is begryp, sal dit vir ons duidelik word dat dit vir enige normale individu en ook vir ‘n geringe volkie soos ons, ‘n onbegonne taak is om jouself in hierdie stryd te begewe.
Soos wat die bose werkers van Satan hul wapentuig van leuens, verraad, bedrog, TWEEDRAG, ens. opneem, het ons Vader ons ook elkeen met verskillende gawes toebedeel wat ons moet opneem in die stryd teen die bose. (Lees asseblief hier eers 1 Korinthiërs 12). Let daarop dat die verskillende gawes bespreek word in verse 1 – 11. In verse 12 – 31 word die klem egter verskuif na die gebruik van hierdie gawes. Dit word duidelik aan ons gestel dat ons nie hierdie geestelike gawes selfsugtig en eiesinnig moet aanwend nie, maar dat ons mekaar (en sodoende ons Meester, Jesus Christus), daarmee moet dien.
- Daar is sommige onder ons wat die gawe van onderskeid ontvang het. Hulle onderskei maklik tussen waarheid en leuen - wat soms só naby aan mekaar kan wees. ‘n Halwe waarheid lyk maklik na die waarheid maar dit is steeds ‘n leuen!– Kom ons luister na hul waarskuwings aangesien hul moet wees soos wagters op die mure om te waak teen die vyand se aanslae.
- Daar is ander tussen ons met ‘n wye politieke kennis en insig. Kom ons slaan ag op wat hulle sê aangesien die stryd vir ons Christelike geloof nie tot ons volk alleen beperk is nie.
- Daar is diegene onder ons wat gestuur is om te vermaan, tereg te wys, te leer en te bemoedig. Kom ons waardeer hulle as mense wat as boodskappers van die Vader optree.
- Daar is diegene onder ons met die gawes van vertroosting en bemoediging. Kom ons koester hulle, want ons gaan hulle in die nabye toekoms baie nodig kry. Daar is reeds soveel hartseer en ellende onder ons volk waar hul werksaam moet wees; oms moet hul daarin ondersteun.
So is daar vir elkeen van ons taak om te vervul in hierdie edel stryd vir ons geloof.
Dit is tyd dat ons daadwerklik begin om mekaar (en sodoende ons Meester) in nederigheid te dien met die geestelike gawes wat aan ons gegee is sonder om geestelik hoogmoedig te raak:
“EN Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.” Lukas 18:9: (Lees gerus die hele gelykenis in Lukas 18:9-14).
Die tyd het aangebreek dat ons opstaan en uitgaan in die werk van ons Meester en volhard daarin – selfs wanneer ek ongevraagde kritiek op goedbedoelde werk ontvang, want sodoende bring ek geestelike offers van gehoorsaamheid aan my Meester wat vir God baie welbehaaglik is.
Die tyd vir geestelike volwassenheid het aangebreek; 'n tyd dat ons mekaar in liefde en selfbeheersing sal verdra. Ons verduur sommiges wat ‘n totale teenoorgestelde lewensbeskouïng as ons het, maar met mekaar het ons weinig geduld. Ons sien gedurig die splinters in die oog van ‘n ander, maar die balk in ons eie oog merk ons nie op nie. Ons staar ons soms só blind teen die foute van ‘n ander (waarsonder nie een van ons is nie) dat ons menigmaal nie eers die goeie werk wat hy/sy vir ons volk, taal, land en selfs die behoud van ons Christelike geloof doen, bemerk nie. Ons doen menigmaal selfs onbewustelik soveel skade wanneer ons afbreuk doen aan die goeie werk van iemand anders deur ondeurdagte kritiek te lewer op sy/haar tekortkominge. Waarsku Christus ons nie in Lukas 9:40 teen sulke optrede nie? “...want wie nie teen ons is nie, is vir ons.” Die oes is alreeds groot en die arbeiders min – wil ons hierdie arbeidsmag nóg verder uitdun?
Ek sê geensins dat ons nie beginselvas moet wees en weerstand moet bied teen die aanslae van die vyand nie. Ons stryd is immer vir die behoud van ons geloof en beginsels. Ons moet egter versigtig wees om nie by ons selfopgestelde beginsels te staan en mense daarvolgens te oordeel nie. Wanneer ons almal egter dieselfde maatstaf gebruik om ons beginsels te toets, nl. die onfeilbare Woord van God, sal ons sin vir reg en verkeerd baie meer ooreenstem as wanneer ons elkeen ons eie stel reëls gebruik. Ons sal verder ‘n duideliker beeld vorm van die vyand teen wie ons stry, en ‘n groter bewuswording van ons individuele verantwoordelikheid ervaar om die stryd teen die bose te voer – soms alleen en soms in 'n gesamentlike geloofstryd.
Ek glo dat ons as volk sondebevlek voor ons hemelse Vader staan. Ek glo egter dat ons kan begin om geestelike skuldoffers aan Hom te bring as bewys dat ons waarlik berou het oor ons ongeregtighede en dat ons vergifnis vuriglik van Hom begeer en afsmeek. Ons moet offers van gehoorsaamheid, verdraagsaamheid, EENSGESINDHEID, opregtheid en nederige onderdanigheid aan Hom bring.
Onthou, offers vereis opoffering van die een wat dit bring. Vergeet dus die dwaalgedagte dat daar te veel ander volksgenote is wat dwalende en goddeloos voor God handel en daarom sal jou “offers” vrugteloos wees. Sorg dat jou saak met Hom reg is en jou gesindheid teenoor Hom opreg is; laat Hom Self die offers van ander eis wat dit nie vrywillig wil bring nie, soos wat Hy weet regverdig is.
Deur voordurende geestelike offers aan Hom te bring, te bid en vir Hom te werk, wag ons op Hom wat vir ons verlossing sal bring op die tyd soos HÝ dit bepaal het:
“Wag op die HERE, o Israel! want by die HERE is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing, en Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede.” Psalm 130:7, 8.
Ons kan dus op Hom vertrou, Hom vra om die hart van klip uit hierdie volk van God te haal en vir ons ‘n hart van vlees te gee.
Ons kan intussen nie net agteroor sit en wag nie. Ons werke moet tog ons geloof toon; daarom moet ons as kinders en diensknegte van God met eensgesindheid sy akker gaan werk!