Hannes Ollewagen
“EN die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en hulle het die Baäls en die Astártes gedien, en die gode van Aram en die gode van Sidon en die gode van Moab en die gode van die kinders van Ammon en die gode van die Filistyne, en hulle het die HERE verlaat en Hom nie gedien nie.” - Rigters 10:6:
Ons kan tog so verdraagsaam wees teenoor die kwade en bose, maar teenoor mekaar se gebreke is daar nie eens sprake van hierdie verdraagsaamheid nie.
Die verkeerde gesindheid van misplaaste verdraagsaamheid is by ons gekweek deur werkers van die bose magte. Soos hulle ons lewens kom vul het met nietige afgode wat ons van ons God en sy Woord vervreem, só is ons ook oorspoel met booshede wat ons maar móés verdra om ‘n daaglikse bestaan te voer.
Die probleem is egter dat ons só gewoond geraak het aan verdraagsaamheid teenoor die bose dat ons tot ons eie ondergang talle verkeerde dinge gewilliglik “verdra” of selfs genot daaruit put deur onwetend daarin mee te doen. Om onkundig te wees, is sekerlik menslik. Om onkundig te bly, is egter ‘n dwase keuse.Ons verdra:
- ...die sonde in ons lewens wat ons die vrymoedigheid ontneem om tot ons Vader in gebed te nader;
- ...die duiwelsdoos (televisie) in ons huise tot ons gesin se eie nadeel. Hierdie afgodsaltaar wat die plek van die huisaltaar (huisgodsdiens) in feitlik elke voorheen Godsvresende Afrikanerhuishouding ingeneem het. Hierdie afgodsaltaar verdra ek nie alleen nie, maar ek bring daagliks offers van ongeregtigheid daarop. Ek offer die tyd wat ek aan my kinders moet wy om hulle meer van God te leer, op hierdie altaar. Ek offer my kind se kanse op suiwer denke en standvastigheid op hierdie altaar deur hierdie euwel toe te laat om my kind(ers) te leer om verdraagsaam te wees teenoor die misbruik van God se heilige Naam.
Hierdie euwel leer my kind ook dat die huwelik nie ‘n eerbare, reine instelling van ons Vader is nie, maar dat geslagsomgang eerder ‘n sinlike genieting is wat op allerlei wyse beproef moet word. Wanneer dit beoefen word, word ‘n deur vir die satan oopgemaak om mense se denke oor te neem sonder dat hulle dit besef! Hierdie duiwelsdoos-euwel leer my kinders die teenoorgestelde van wat die Evangelie as onweerlegbare Waarheid ons leer.
My kind leer ook om offers te bring – nie offers waarin hy sy lewe aan God toewy nie, maar dieselfde offers wat die ouers hom geleer het. Offers op die afgodsaltaar – my kind offer waardevolle akademiese tyd voor hierdie nuttelose afgod en wanneer die akademie daaronder ly, moet die fout voor die onderwyser of skool se deur gelê word, en niemand ondersoek ander oorsake nie. - ...die onregverdige Mammon in ons midde. Ons kinders leer by aanskoue van die ouers se doen en late dat die samelewing mense weeg ten opsigte van hul aardse rykdom en nie oor die bydrae wat hul tot die samelewing lewer nie. Om 'n groot inkomste te hê al verdien jy dit nie, is mos nie belangrik nie solank jy jou duur motors en eiendomme kan betaal. Soms gaan dit ook met onreg teenoor ander persone gepaard. En soms moet jou kinders hoor hoe jy almal onregverdiglik kritiseer, hulle selfs afskeep in die proses van geldnajaag in plaas daarvan dat jy hulle leer hoe om eerlik met aardse middele om te gaan.
- ...die dikwels onderskatte sportgod in ons midde. 'n Geruime tyd gelede het sekere persone tereg opgemerk dat onderhandelinge oor rassebeleid in sport net voorbrand gemaak het vir onderhandelinge op staatkundige terrein. Hulle is as waansinnig en paranoïes gebrandmerk. Mettertyd het hulle waarskuwings egter die waarheid geblyk maar dieselfde situasie herhaal hom steeds. Was ons staatkundige vryheid nie ‘n groot genoeg offer op hierdie afgodsaltaar nie? Wil ons ons nageslagte ook daarop gaan neerlê? Ons wil nie ons Godsdiens, huwelike, staatkundige mag, ens. met anderskleuriges deel nie maar voor die sportafgod buig ons gedweë. Die goue kalf uit die Ou Testament word blou gekleur en so word 'n hele volk verblind en oor die afgrond gelei! Is dit regtig só vêrgesog om te sê dat offers van eensgesindheid, kameraadskap, goeie akademiese opleiding, ens. op hierdie altaar van sport geplaas is?
Is u nie bekommerd oor die gevaar daarin verskuil om u kind aan hierdie trojaanse perd bloot te stel nie? U leer u kind dat dit reg is om beginsels op ‘n afgodsaltaar te plaas wanneer daar genoeg maats is wat dieselfde doen. Is dit hoe ons ons kinders moet voorberei op die toekoms waar hulle as stryders en vegters vir die Christelike geloof moet optree? Die Messias waarsku ons juis in die Skrif dat tye van vervolging ter wille van ons geloof op ons wag. Dan is dit mos nou tyd om ook ons kinders hierop voor te berei.
Ons is by herhaling deur Godsvresende leiers gewaarsku dat ons ons Christelike grondslag en staatkundige vryheid sou prysgee om die wêreld ter wille te wees. Ons word steeds teen die skade gewaarsku wat ons en ons kinders sal ly deur sosiale menings oor politieke korrektheid, aanvaarbaarheid en gewildheid onder vriende, maar wat maak ons met hierdie waarskuwings? Kan u met reg sê dat u God liefhet terwyl u kind se verhouding met mense groter gewig dra as u kind se verhouding met God?
Sou ons volk ons sondes bely sonder om dit te laat staan, maak ons ‘n bespotting van God en kan ons verwag dat sy Hand wat alreeds swaar op ons rus, nóg swaarder sal druk. Ons roep Hom dalk dag na dag aan om verlossing, maar waarom gee Hy nie gehoor nie? Dalk omdat ons in die verkeerde dinge volhard al bely ons dit daagliks?
“Toe roep die kinders van Israel die HERE aan en sê: Ons het teen U gesondig, want ons het onse God verlaat en die Baäls gedien.” Rigters 10:10
Vers 13-16: “Maar julle het My verlaat en ander gode gedien; daarom sal Ek julle nie meer verlos nie. Gaan heen en roep die gode aan wat julle verkies het; laat dié julle verlos in die tyd van julle benoudheid. Toe sê die kinders van Israel aan die HERE: Ons het gesondig; maak met ons soos dit goed is in u oë; verlos ons tog net vandag. En hulle het die vreemde gode uit hulle midde verwyder en die HERE gedien; toe het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel.”
Dit is elke man, as hoof en priester van sy eie huis, se verantwoordelikheid om ondersoek in te stel na die afgodery in sy huis om dit sodoende uit te roei. Daar is nie plek vir afgodsaltare én die huisaltaar in dieselfde huis nie - soos daar nie plek is vir God en afgode in dieselfde hart nie.
“Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” - Lukas 16:13
Ek kan die keuse nie namens u maak en u ook nie verwyt of veroordeel oor u keuse nie, want dit kom my nie toe nie. U alleen is verantwoordelik vir u keuses, soos wat u verantwoordelik is vir u kind se welstand EN OPVOEDING - u alleen gaan rekenskap daarvoor gee.
Vrees dan nou die Here en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon, maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” - Josua 24:14&15