PLIGTE VAN GODS- GEHOORSAME KINDERS

Hannes Ollewagen

1 Petrus 3:1-7

In die bose samelewing waarin ons leef raak ons soms só verstrengel in die stryd vir ons geloof en beginsels dat ons amper uit die oog verloor waarvoor ons stry. Dikwels maak ons onsself ook aan ongehoorsaamheid aan die Evangelie skuldig.

Ons stryd aan die suidpunt van Afrika is ‘n edele stryd teen die bose en vir die behoud van die Christelike geloof en Evanglie in ons land, want sou ons volk as ligdraer hier ten gronde gaan, word die Evangelie bes moontlik saam met ons begrawe.

“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.” 1 Petrus 2:9,10.

Dit is daarom lewensnoodsaaklik dat ons nooit sal ophou stry hiervoor nie, maar net so belangrik dat ons self ook gehoorsaam sal bly aan hierdie Evangelie waarvoor ons stry - dit is waarlik die weg van die lewe.

In 1 Petrus 3 vind ons opgeteken die pligte van onderskeidelik die godvresende vrou en die godvresende man.  Petrus vermaan die vrouens om aan hul eie mans onderdanig te wees en hul sodoende te versterk, maar ook deur ‘n onderdanige godvresende lewenswandel tereg te wys wanneer hulself dalk verkeerd handel.  Hierdie is een van die min gedeeltes in die Woord waar die godvresende vrou daarop gewys word hoe sy ‘n welgevallige geestelike offer aan God kan bring.  Sy kan dit doen deur die verborge mens, m.a.w. deur ‘n sagmoedige en stille gees wat baie kosbaar voor God is (vers 4).  Is hierdie woorde nie vir elke vrou ‘n besondere uitdaging nie?  Jy kan op ‘n wyse handel wat die Almagtige God van hemel en aarde as ‘n kosbare offer sal beskryf wat jy met jou lewe aan Hom bring.

Aanhangers van die  humanistiese lewensbeskouing sal nou onmiddellik daarop wys dat bogenoemde optrede van die vrou tot gevolg sal hê dat haar man haar mag vertrap en dat sy dit nie mag toelaat nie.  Sou ‘n godvresende man dit waag om die waarskuwing in vers 7 te ignoreer?  Petrus waarsku die godvresende man om aan sy vrou, as die swakkere wat in onderdanigheid, sagmoedigheid en ‘n stille gees met hom moet saamleef, eer te betoon.  Hy wys die man daarop dat hy dus nie die onderdanigheid, sagmoedigheid en stille gees van sy vrou, wat baie kosbaar voor God is, mag vertrap nie, want dan sal sy gebede verhinder word.  (Vers 7).

Hierdie eenvoudige riglyne wat in God se Woord aan ons gegee is word in die teenswoordige tyd nie meer na waarde geag nie.  Dan vra ons nog waarom die gesinslewe in ons volk uitmekaar val!   Ons reken die riglyne hierin is verouderd en het net vir die mense van die Bybel gegeld; dat die omstandighede te veel verander het om vandag  van toepassing te wees.  Dit is seker waarom egskeiding in daardie tyd ‘n “groter sonde” as vandag was en dus baie minder algemeen?  Die verwysing in Genesis na Sara om dieselfde riglyne wat hier gegee word te onderhou en die bevestiging van dieselfde riglyne in die 7e laaste boek van die Evangelie, wys ons dat God se insettinge nooit verouderd raak nie, maar dat dit eerder die samelewings is wat verdorwe raak weens die feit dat mense kies om nie God se raad en weë te volg nie – daardie raad en weë van die lewe waarvan ons in die Skrif leer.

Dit is ons as opregte kinders van God se plig om die Evangelie in die bedorwe wêreld rondom ons te verkondig.  Dit is ook ons plig om die riglyne daarvan in ons eie lewens op 'n nederige wyse te gehoorsaam. So toon ons aan die wêreld dat dit goed is om in die weë van die Here te wandel.  Alhoewel dit moeilik is om reg te doen in ‘n onregverdige en verdraaide samelewing, is dit tot ons eie beswil om die pad wég van die moeras van morele en sedelike verval te kies. Dit lei boonop na die Ewige Eindbestemming wat op ons wag.

Mag elke godvresende vrou hierdie pad met ‘n sagmoedige en stille gees stap.  Doen dit met ‘n rein lewenswandel en wees aan jul eie mans onderdanig om hulle sodoende in hierdie moeilike tye staande te hou.  En mag elke godvresende man sy vrou opreg waardeer en eer om sodoende met vrymoedigheid voor God te kan kniel sonder dat sy gebede verhinder word.  Gebed is een van die min wapens wat ons in die stryd teen die bose het - ons wil nie verhinder word in die gebruik daarvan nie.

“EN mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!  Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!  Amen.” - 1 Petrus 5:10&11.