CHRISTUS, OF ÉK?

‘n LEWE VIR MYSELF OF ‘n LEWE VIR CHRISTUS?

Hannes Ollewagen

GALÁSIËRS 5:16-26

Sommige mense wil die onderhouding van die wet tot die uiterste neem om daardeur selfregverdiging te probeer kry, terwyl sommiges die verlossing van Jesus Christus en die genade wat ons daardeur ontvang, probeer misbruik om sonder ‘n gewetensaanklag ‘n lewe van ongebondenheid te leef.

Dit is juis omdat geen mens in staat was om ‘n lewe van regverdigheid voor God te lei nie, dat Jesus Christus na die aarde gekom het om ons los te koop van die mag van sonde.  Wanneer ‘n mens waaragtig tot die besef en aanvaarding kom dat Christus waarlik die Seun van God is en ook vir jóu sondes aan die kruis gesterf het, sal jy nie weer deur sonde gebind wil word nie!  Jy sal deur ‘n oorweldigende dankbaarheid gedryf word om God te gehoorsaam en die verordeninge wat Hy vir ons in die Ou sowel as die Nuwe Testament gegee het, uit dankbaarheid probeer onderhou.    Jy sal tot die besef kom dat jy nie die heerser en lotsbepaler van jou eie lewe is nie, maar dat jou lewe, soos alles op hierdie aarde, ondergeskik is aan God se wil.

Vers 24:  “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig.” Hierdie vers uit die Nuwe Testament laat die hele humanistiese afgodediens in duie stort.  Hierdie vers leer ons opnuut ‘n baie groot kernwaarheid van die lewe – die lewe gaan nie net oor jou en jou begeerlikhede nie.  Jou lewe, as ware gelowige, is veronderstel om ‘n instrument in God se hande te wees sodat jy diensbaar in sy Koninkryk en ook hier op aarde sal wees.  Ons kan nie besluit wie die Koninkryk van God beêrwe nie, maar ons kan ons beywer om ‘n lewe te leef wat tot eer van sy Naam sal strek.  ‘n Lewe wat sal getuig van ‘n ware geloof in Hom – daardie lewe en optrede wat mense tot bekering kan bring!  Dit voel soms na ‘n verlore stryd in ‘n land en ‘n wêreld waar dit lyk asof mense God nie ken of waarlik in Hom glo nie.  Ons moet onthou dat die ligte van ons lewens soveel helderder  in donker plekke skyn.

Alhoewel dit waar is dat ‘n lig helderder in donkerder omstandighede vertoon, moet ons nie passifisties terugsit totdat die duisternis die lig oorweldig nie. As gelowiges het ons hier aan die suidpunt van Afrika 'n stryd om te stry.  Dit is 'n stryd in hierdie donker tyd waarin owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge (verwys na verse 19-21) hoogty vier.  Paulus sê dat mense wat laasgenoemde doen die koninkryk van God nie sal beêrwe nie. Waarom wil ons hulle dan toelaat om tussen ons op aarde te woon?  Indien dit nie God se wil vir die Koninkryk is nie, sal dit sy wil wees dat ons dit hier op aarde toelaat en gelate aanvaar?

As ons die Woord van God noukeurig bestudeer en ook ons volk se geskiedenis in oënskou neem, dan besef ons opnuut dat ons as ‘n volk geroep was om te leef en te stry vir ‘n die behoud van die Evangelie.  Ons is nie geroep om maar net die Woord van God oraloor aan mense te gaan verkondig nie, maar om te leef soos kinders van God wat gekoop is deur die dure bloed van Jesus Christus om die vrugte van liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing voort te bring.  Ons geloof in God is nie veronderstel om lippediens te wees nie, maar ‘n keuse om die selfsugtige “eie ek” en vleeslike begeertes te kruisig en sodoende ons eie wil ondergeskik aan God se wil vir ons lewens te stel.  ‘n Lewe wat daagliks getuig van erkenning dat jy aan Hom behoort is tog ‘n lewe van selfversekerdheid en ‘n vaste vertroue op die loon en die beêrwing van die ewige lewe hierna!

Dit sal moeilik gaan om ‘n lewe van ootmoed volgens God se wil vir jou lewe met ‘n gebrekkige Skrifkennis te leef, aangesien Bybelstudie die antwoord bied op wat sy wil vir jou lewe is.  Alhoewel ons as ‘n uitverkore  verbondsvolk klaaglik misluk het om soos ware gelowiges te leef, kan ons ons sondes voor Hom bely en daadwerklik begin om “geestelike offers” voor God te bring - hierdie geestelike offers wat ons sal help om onsself los te maak van die wêreldse begeerlikhede waarin ons dalk verstrengeld geraak het.  Dit sal aanleiding daartoe gee dat ek my meer daarop sal toespits om ‘n God-welgevallige lewe te leef as ‘n lewe waarin ek mense probeer tevrede stel.  Dit kan ook  daartoe aanleiding gee dat ek opnuut bereid sal wees om vir my beginsels, vir reg en verkeerd, en vir die eer van God te stry, al is dit dalk nie voor mense aanneemlik nie, want ek sal nie ‘n soeker van ydele eer wees nie (vers 26).

“En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.  Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” (Gal. 6:9&10).