DIE WAARHEID VERRUIL VIR DIE LEUEN?
Hannes Ollewagen
Romeine 1:18-32
“...omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.”
Leef ons nie ook in ‘n samelewing vol mense wat wel van God weet of Hom ken, maar Hom nie met hul lewens verheerlik of dank nie? En is dit nie wat ‘n mens doen wanneer jy Sondag na Sondag in die kerk sit, maar Maandag tot Saterdag ‘n lewe leef waarin daar geen plek vir God is nie?
Een van die gewigtigste redes waarom God nie meer verheerlik en gedank word nie, is die eensydige verkondiging dat Hy slegs ‘n God van liefde is. Dit is waar dat die Almagtige, Drie-enige God van hemel en aarde ‘n God van liefde is, daarom dat Hy sy Seun gestuur het om ons van ons sondes te verlos, maar Hy is níé net ‘n God van liefde nie. Hy is ook ‘n God van waarheid, geregtigheid, heiligheid, regverdigheid en selfs ‘n God van wraak oor die kwade. Durf ons God se Wese afwater tot een enkele eienskap omdat dit vir ons gerieflik is?
Die verkondiging van ‘n halwe waarheid klink goed maar bly steeds ‘n leuen. Dít het mense ook met ons volksgeskiedenis gedoen. Ons wat as ‘n Godsvresende volk bekend gestaan het, het gekies om die skepsel bo die Skepper te vereer; Hy wat tot in ewigheid geprys moet word (vers 25). Ons het dit eerstens gedoen deur in te stem dat ons voormalige grondwet waarin God as hoogste gesag erken is, plek moes maak vir ‘n humanistiese grondwet. Ons het gekies om menseregte hoër as God se Woord te ag. Dié dwase optrede het gou daartoe aanleiding gegee dat gruwelikhede soos homoseksualisme ea onder die dekmantel van “menseregte” gewettig is. (Vergelyk ook verse 26&27).
Dit het vir die meeste mense in ons land te veel moeite geword om erns met hul Godsdiens te maak, selfs huisgodsdiens te hou. Dus kan ons met reg sê dat die meerderheid van ons volk dit nie die moeite werd ag om God in erkentenis te hou nie (vers 28). Al hierdie dinge word kristalhelder in God se Woord uiteengesit maar steeds staan ons verbysterd wanneer ons in ‘n samelewing moet leef wat as volg daar uitsien: “...hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug, vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid, nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,” (verse 29-31).
Die vraag vir elke Godsvresende Afrikaner: wat is jou gesindheid daarteenoor? Is ons besig om deur die oorweldigende oormag van goddeloosheid en boosheid aan hierdie gruwelikhede mee te doen? Ons is veronderstel om gedurig selfondersoek te doen en die slegte gesindhede en dade uit ons lewens uit te roei. Wanneer ons van mening is dat ons daarvan vry is het ons voorts die verantwoordelikheid om geestelik nederig te bly en volksgenote te vermaan om nie aan hierdie verkeerde lewenswandel gelykvormig te word nie.
As knegte van die Allerhoogste het ons die verantwoordelikheid om in alle omstandighede as sy skepsels, ons Skepper te dien en Hom te prys tot in ewigheid, amen.