VAN TUGROEDE TOT...

 ...VOORWERP VAN VERNIETIGING?

Hannes Ollewagen

Die Bybel ontbreek nie aan voorbeelde waar God se volk van Hom afvallig geword het en dan as ‘n direkte gevolg van hul ongehoorsaamheid, baie lyding en verdrukking verduur onder ‘n vreemde en goddelose regering nie.

Gesien in die lig daarvan dat die Afrikanervolk aan die suidpunt van Afrika geplant is om te leef tot eer  van God  (1 Petrus 2:9&10: “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”) en ook verder by Bloedrivier met ‘n Gelofte aan Hom verbind is – kan ons ook sy tugroede te wagte wees wanneer ons dwaal.

God gebruik menigmaal ‘n goddelose regering om sy volk te straf vir hul afvalligheid.  Die Bybel en die geskiedenis leer ons ook dat hierdie goddelose regerings en hul volgelinge kort-voor-lank  begin verstik in eiewaan en om met hul woorde en optrede die Almagtige God van hemel en aarde te tart en uit te daag.   Omdat hierdie goddelose mense God nie ken nie, sal hul Hom moeilik vrees en ons kan met ‘n redelike sekerheid ook sê dat hul sy tekens van waarskuwing moeilik raaksien en herken.

Sou ons as God'skinders nie sy waarskuwings raaksien nie, beteken dit noodwendig dat selfondersoek dringend in my lewe nodig is.  Wanneer ons rondom ons kyk, sien ons hoe die regering van die dag en sy volgelinge lasterlike uitlatings kwytraak, landswette goedkeur wat Hom uittart en regspraak lewer wat lynreg indruis teen reg en geregtigheid.  Dit is al asof hierdie dinge gedoen word om te kyk wat God dan nou daaraan sou doen?  Soos wat ‘n mens kan verwag, staar hierdie goddeloses hulself so blind teen hul eiewaan en dwaasheid dat hul nie eers opmerk dat hul handewerk feitlik op ‘n daaglikse basis vernietig word nie.  Dit is mos heeltemal normaal (of toevallig?) dat ekonomiese reusagtige ondernemings soos die SAL, SAPK, EVKOM, SAPS, SANW, openbare hospitale en –skole, water- en rioolaanlegte en die paaie – alles, ja alles waar hulle hul hand aan slaan, (of juis nie slaan nie...) vernietig word?

Buiten die feit dat hulle werk tot niet gemaak word, is daar toenemend natuurverskynsels wat as buitengewoon beskou kan word.  In hierdie aarbewings, storms, ens. word daar maar ‘n deeltjie van God se krag vertoon.  Sy magsvertoon sal egter deur die goddelose wetenskap ondersoek moet word of een of ander komitee van ondersoek sal daarvoor saamgestel moet word.  Daar sal geen bewondering daarvoor wees, laat staan nog die erkenning van God se krag daarin!  Geen wonder dat God met hulle spot nie.  Psalm 2:4:  “Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle.”

Terwyl ons voor ons eie oë sien hoe hierdie voorwerp van tugroede in God'shand besig is om ‘n metamorfose te ondergaan na ‘n voorwerp van verwoesting, moet ons onsself voorberei op daardie dag van verwoesting wat naderkom.  Ons moet ons verhouding met ons Vader in orde kry om sodoende met ‘n vaste geloofsvertroue dapper in die stryd te kan staan terwyl die vyand se spotliedere, hoon en dreiging al harder rondom ons weerklink.  Ons hoef nie groot in getalle te wees nie – God gebruik Gideonsbendes, want hoe kleiner die bende – hoe groter die eer van sy Naam!

Ons hoef ook nie sterk te wees om as instrumente gebruik te word nie, want God se krag word in swakheid volbring.  (2 Kor. 12:9: “En Hy het vir my gesê:  My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.  Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.”). Ons moet wel gehoorsaam wees, nie vrees nie, nie ongelowig wees nie, maar ons moet op Hom alleen vertrou.  (Psalm 84:13: “HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!”).

Mag die oorblyfsel van God se volk in nederige onderdanigheid en met ‘n vaste geloofsvertroue die vaandel van ons geloof voor ons vyande se aangesig ophef wat hulle beskaamd sal laat staan en sal laat verskrik.  (Psalm 83:18&19: “Laat hulle beskaamd staan en verskrik wees vir ewig, en laat hulle rooi van skaamte word en omkom; sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam HERE is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.)