Hannes Ollewagen
1 Petrus 4:1-19
“...om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlihede van mense te leef nie, maar volgens die wil van God.”
Hoeveel mense is daar nie wat hul lewens inrig om na die begeerlikhede van ander mense te leef nie? Ons almal het seker iemand vir wie ons lief is en wie se sieninge vir ons belangrik is maar ons moet egter altyd so leef dat dit God se goedkeuring wegdra.
In vers 3 vind ons die aanklag wat verklaar dat ons ook nie ‘n lewe geleef het wat anders as dié van die heidene is nie. Is dit nie waar van ons volk wat as God se volk en eiendom veronderstel is om tot sy eer te leef in die land wat Hy uit liefde en genade aan ons gegee het nie? Wanneer ons die Afrikanervolk wat 176 jaar gelede plegtig trou gesweer het aan God vandag langs enige ander volk op die verhoog van volkere plaas, sou ons lewenswandel anders lyk ? Sal ons Verlosser en Koning se naam grootgemaak kan word deur ons lewenswandel?
Dit het tyd geword vir ons as God se volk om op te meedoen aan daardie dinge wat Hom nie behaag nie en ons van ons verkeerde weë te bekeer. Ons verwag dat God ons van ons ellende moet verlos maar ons weier om van ons kant die dinge wat meegehelp het om ons in hierdie ellende te dompel, te laat staan. Wat sal die mense van my sê? Hulle sal agter my rug vir my lag en my bespot! Vers 14: “As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.” Het mense se opinie van my lewe waarlik belangriker geraak as God se opinie van my?
Wat het geword van die liefde en gasvryheid jeens mekaar? Dien ons mekaar met die genadegawes wat ons ontvang het of misbruik ons daardie genadegawes tot ons eie voordeel of selfs om mekaar uit te buit en dan in eie krag te roem oor my eie voortreflikheid en grootheid?
Hoe lank sal ons huiwer om na Hom terug te keer? Is ons gereed vir die oordeel wat alreeds aan die gang is in ons land? “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?" (Vers17).