Boodskap vir die Afrikaner in 2015
Hannes Ollewagen
"Klink my tot kruik waarin u Gees weer water vir my volk sal wees.” - G E Watermeyer
Hoséa 6:1:
”KOM en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.”
Ek is seker dat die jaar 2014 deur die meerderheid van ons volksgenote as ‘n stormagtige jaar beskryf kan word; ‘n jaar waarin storms op alle lewensterreine gewoed en ons in vele opsigte benoud gemaak het. Maar juis hierdeur kon ons in retrospek weer die waarheid en toepaslikheid van God se beloftes in ons huidige lewensomstandighede ervaar – Jesaja 43:2: "As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” Alhoewel die storms rondom ons hewig was, is ons egter nie daardeur oorweldig nie.
Ons moet egter nie in naïwiteit onsself verblind deur te glo dat met die omblaai van ‘n kalenderblad hierdie storms wat tans teen ons as volk woed vanself gaan bedaar nie, inteendeel.
Ons bevind onsself midde-in ‘n geestelike oorlog en kan ‘n verskerpte aanslag in die nuwe jaar verwag. Ons hoef egter nie paniekbevange en verskrik op die vlug te slaan of wag om vernietig te word nie, want ons weet mos dat die God wat ons aanbid – Almagtige, Drie-enige, ewiglewende God van hemel en aarde – deurgaans in beheer is van alle omstandighede. Jesaja 43:1:”MAAR nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” Hy het ons as Afrikanervolk ook by die naam geroep; derhalwe MOET ons Hom, en Hom alleen, vertrou met ons volk se toekoms.Dit is bemoedigend om te merk hoe menige opreggesinde volksgenote weer geroepe voel om toe te tree tot die stryd vir die behoud en handhawing van ons volk. Talle volksgenote, met goeie leierseienskappe toegerus, het geblyk die afgelope aantal jare van die toneel te verdwyn. Hulle het nie weggeraak omdat hul ons volk en die stryd vir die behoud en handhawing van ons volk versaak het nie, maar omdat elkeen in sy/haar eie smeltkroes ingelei is om gelouter en gefolter te word. Alvorens ons bruikbare instrumente in sy Hand kan wees, moet ons gereining, gesuiwer en gelouter word om van ons eiewaan en trots wat in die pad van God se eer staan ontslae te wees. Hy versamel vir Hom arbeiders wat sal stil woord soos die Godsvresende digter, G.E. Watermeyer, met die pleidooi: "Klink my tot kruik waarin u Gees weer water vir my volk sal wees.” Ons moet bereid wees om as klei in die Hand van die Pottebakker gevorm te word tot ‘n kruik wat gevul sal wees met:
- Waarheid
- Geregtigheid
- Reg en Regverdigheid
- Liefde
- Trou
- Ware vrees vir God wat kennis van Hom sal meebring wat wysheid skenk
- Opregtheid
Uit hierdie kruike sal vloei strome van water wat ‘n volk se siel sal verkwik, maar ook riglyne sal kan bied om ons volk terug te lei na ons Koning en ons God.
Ons moet as rigtingwysers vir verdwaalde en verwarde volksgenote dien. Alhoewel ons op die oog af sonder ‘n leier op staatkundige gebied in ons vaderland verkeer, moet ons allermins ons hoofde in moedeloosheid laat sak. Ons moet veel eerder ons knieë buig, hoofde na Hom, ons ewige Leidsman, en bid om vir ons ‘n volksleier te stuur, een wat Hy uitgekies het.
2 Samuel 23:3&4: "Die God van Israel het gesê, die Rots van Israel het tot my gespreek: ‘n Heerser oor mense, ‘n regverdige, ‘n heerser in die vrees van God, is soos die môrelig by sonsopgang, ‘n môre sonder wolke as deur die glans ná die reën grasspruitjies uit die aarde uitkom.”
Ons moet Hom vra om ons volk se oë te open om verby die “menslike standaarde” van leiers te kyk om sodoende op God se standaarde vir 'n volksleier te fokus, want met die maatstaf van menslike standaarde het ons volk al vir ons leiers gekies wat ons volk “voel-voel die donker in” mislei het. Met God se maatstaf was ons daarenteen geseën met Godsvresende leiers soos ‘n Paul Kruger wat met nederige manlikheid teen ‘n Goliat ‘n uitklophou kon lewer met dié woorde:
"Salisbury sê: ‘Hierdie volk mag nie meer bestaan nie!’ God sê: ’Hierdie volk sál bestaan!’ Wie is dan die sterkste? Tog sekerlik die Here.’”
Dit is vir ons as Afrikanervolk nie nodig om verder in die donker rond te tas nie. Ons weet by Wie ons heil lê – by Wie dit nog altyd was, maar ons moet begin om ons weg na Hom terug te vind. Ons het die verantwoordelikheid om ons lewensligte só te laat skyn dat ons elkeen, tesame met steeds-verdwaalde volksgenote, genoegsame lig sal hê om die weg te sien wat terug na ons Leidsman lei.
As ‘n geroepe volk, die enigste Geloftevolk wat hulself en hul nageslag onlosmaaklik in trou aan Hom verbind het, moet ons in liefde en trou hierdie ongelooflike voorreg teenoor Hom uitleef. Ons moet leef om die weg te baan vir Hom van wie ons lees in Jeremia 23:6: "…DIE HERE ONS GEREGTIGHEID”, want ons is geplant, geroep en uitverkies deur Hom – om voor sy Aangesig te wandel tot sy eer!