ONS OFFER VAN ONSELFSUG

Hannes Ollewagen

Jakobus 3:16: “...want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.”

Wanneer ons die samelewing waarin ons leef goed bekyk pas die woorde wanorde en gemene dade asof in ‘n legkaart.  Dit is wat geword het van die land en ook ons volk wat hier gevestig is deur die Almagtige God van hemel en aarde;  ‘n volk wat geplant is met die doel om goeie vrugte te dra maar wrang vrugte voortgebring het.

Die gemeente van Christus is 'n onsigbare eenheid wat binne die hart en gees van elke volksgenoot behoort te funksioneer.  Saam vorm ons ‘n woonplek vir Hom; kinders van die Here wat hul hele ryksgebied só in beslag neem – onselfsugtig van aard en in nederigheid onderdanig aan sy Wil vir ons lewens...  Dit klink so amper na hemel op aarde!  Nou ja, toe.  Was ons as Christenvolk nie veronderstel om vir die nasies van die wêreld só 'n voorbeeld te wees nie?

Hier staan ons egter sowat 176 jaar later, ‘n land wat pryk met geboue wat genoem word kerke/huise van God, maar daarin is klaarblyklik geen plek vir Hom nie.  In hierdie 'huise' heers selfsug, leuens, ongebondenheid, twis, gierigheid, partyskap en selfs hoerery, en dan durf mense reken dat die Heilige God daar tuis sal voel!  Niks van hierdie dinge  strek  tot eer van sy Naam nie.  Sommige kerkgeboue moet selfs met ses voet hoë heinings beskut word teen die huidige wanorde in ons land terwyl die kerke SWYG oor die ONREG wat heers!  Dit is dieselfde land wat ons voorouers met harde werk, opoffering en ‘n vaste geloofsvertroue in God Drie-enig, in ‘n beskawing omskep het waarin hul nageslagte veronderstel was om in rustigheid te leef en God te dien.  Doen hulle dit?  Nee, dit word deur die afgelope paar geslagte se ongeloof, goddeloosheid, afguns en selfsug verteer en afgetakel na ‘n staat van wanorde met allerhande gemene dade.

Verkondiging van die dwaalleer van humanisme waar die mens tot sy eie god verhef word, is grootliks te blameer vir hierdie selfvernietigende kanker wat die karakter van soveel mense verteer.  In ‘n samelewing wat ontaard het na ‘n gevegsterrein vir oorlewing, is dit moeilik om hierdie oorweldigende aanslae van die satan af te weer, want sy pyle van selfsug reën op die inwoners van hierdie land neer.  Sou ons nie sterk gewapen en uiters paraat op hierdie geestelike gevegsterrein beweeg nie, kan ons seker wees dat ons swaar gewond sal raak.  Het jý al ondersoek ingestel na die hoeveelheid trefslae van die satan? Hoe lyk die volgende aspekte van jou lewe?

  • TYD:  Elke dag is ‘n geskenk wat jy uit sy Hand ontvang.  Was dit nie vir God se genade, sorg en beskerming nie, sou jy nie hierdie nuwe dag se lewenslig aanskou het nie.  Tog is jou dag só besig dat jy nie veel tyd aan Hom afstaan nie.  En tyd aan Hom beteken nie noodwendig om Bybel te lees en te bid nie, alhoewel dit van kardinale belang is om ‘n goeie verhouding met Hom te bou en te handhaaf.  Jou gedagtewêreld kan egter ook deurgaans op Hom gerig wees om al jou handelinge aan sy goedkeuring te toets.  Hoe sou jy God se leiding volg as jy nie stil raak voor Hom om te luister en te vra nie?
  • BEROEP:  Meet jy die sukses van jou beroep aan jou salarisstrokie of aan die hoeveelheid positiewe resultate wat jy terug ontvang?  Doen jy jou werk doodeenvoudig om soveel as moontlik te ontvang vir die minimum insette, of doen jy dit met ‘n dankbare en  onselfsugtige gesindheid van verantwoordelikheid teenoor God en jou medemens?  Almal verwag goeie diens en waarde vir hul geld, maar hoeveel mense lewer by hul werksplek die kwaliteit wat hul verwag om te ontvang wanneer hulle aan die bedienkant staan?  Wat is hierdie anders as ‘n vorm van selfsug?  “Ek mag iemand bedriegas dit met my  broekskeur gaan want ek het kinders om voor te sorg.” Wat van die persoon wat bedrieg word?  Het hy/sy nie ook kinders wat versorg moet word nie?  Is dit toevallig dat daar só baie mense is wat ongelukkig is in hul werksomstandighede?  Menige mense vertrap mekaar om ‘n beter pos (of eintlik net salaris) vir hom-/haarself te bekom, terwyl die nodige ervading en vaardighede vir die pos ontbreek.  Nadat jy uit selfsug iemand anders uit sy/haar pos onthef het, is jy verbaas wanneer jy nie so gelukkig daarmee is soos wat die persoon was wat dit met vaardigheid en ‘n goeie gesindheid van onselfsugtigheid beklee het nie.
  • BESIGHEID:  Om in die huidige ekonomiese omstandighede as ‘n goeie rentmeester op hierdie gebied op te tree, verg baie krag en selfbeheersing.  Jy besef dat jou onderneming se deure oopgehou moet word ten einde brood op jou eie tafel asook op die tafels van jou werknemers te plaas.  Dit is natuurlik reg om besorgd te wees oor jou werknemers en ook hard te arbei ten einde hul werk en inkomste te beskerm.  Dit is ook nie onredelik om van hulle te verwag om niks minder as 100% inset te lewer nie – hul ontvang mos nie minder as 100% van hul vergoeding nie?  Ons moet egter daarteen waak om nie meer van mense te verwag as waartoe hul instaat is en sodoende mense sonder die nodige kennis en/ervaring in poste aan te stel en te probeer dryf na hoogtes wat doodeenvoudig nie binne hul bereik is nie.  Ons moet ook onthou dat dit ons Vader is wat ons elkeen versorg en brood op elkeen se tafel sit, nie onsself nie.
  • KINDERS:  As die kosbaarste geskenk wat ek uit God se Hand ontvang het, voed ek hierdie kinders van my onselfsugtig op volgens God se voorskrifte vir my in sy Woord of is my kinders vir my ‘n instrument in my eie hande waarmee ek die akademiese- en/of sportprestasies najaag wat ek as kind nie self kon behaal nie.  Is ek onselfsugtig wanneer ek my kind nie tugtig wanneer hy verkeerd doen nie en sodoende toelaat dat die lewe hom/haar later self sal leer wat reg en verkeerd is – laasgenoemde wat baie seerder maak as die nodige pakslae wat ek hom/haar op die nodige tyd toedien.  Is die skoolonderrig wat my kind huidiglik ontvang die beste wat ek hom/haar kan bied wanneer ek dit beskou vanuit ‘n Godsvresende oogpunt met ‘n verantwoordelikheid teenoor Hom en my kind?  Dalk is my kind in sy huidige skool bloot omdat dit vir my gerieflik of goedkoop is en gee ek nie om dat hy geestelike skade berokken word nie.  Wat jy saai, sal jy ook maai.  Wanneer hierdie geestesskade aan jou kind in die toekoms wrange vrugte dra wat hartseer voortbring a.g.v. die verkeerde besluite, moet jy mooi dink alvorens God se regverdigheid bevraagteken word.
  • GELD:  Dit is onteenseglik waar dat die mensdom só behep geraak het met geld dat feitlik niks en niemand ontsien word om dit te bekom nie.  Hoe selfsugtig wend ek my geld aan?  Is dit uitsluitlik vir my eie gerief, voordeel en genot of word dit aangewend ten einde my eie asook ander se behoeftes te dien?  Wend ek my geld aan om te dien of is ek besig om my geld te dien?   Dalk is my hele lewe ‘n selfsugtige gejaag na wind waar almal rondom my laag moet buig sodat ek hard genoeg kan trap om te voorsien in my eie, selfsugtige begeertes.

Wanneer my lewe gevul is met eindelose selfsugtige begeertes, is dit noodsaaklik dat ek sal besin oor die kant waaraan ek veg in hierdie geestelike oorlog waarin ons as God se volk tans verkeer.  As ek aan Christus se kant veg, moet ek volgens sy reëls in die stryd optree:

“Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.” (Fil. 2:3).