... VOOR ‘N GODDELOSE KONINKRYK
Hannes Ollewagen
Daniël 3:1-30
(:28) ”Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.”
In 1838 het ons voorsate by Bloedrivier hulle op God verlaat en Hom aangeroep om hulp en Hy het hulle uitgered. Hulle het onderneem om vir Hom ‘n huis te bou, sou Hy hulle uit hul benoudheid red. Inderdaad het ons volk vir Hom ‘n huis hier aan die suidpunt van Afrika bewerk deur hierdie land woonbaar te maak en volgens die voorskrifte uit die Woord te probeer leef en heers.
Dit was egter nie lank voordat daar ook afgodsbeelde in ons land ingesleep is en ons volk spoedig van sy beloftes aan God vergeet en ontrou aan Hom geword het nie. Mense het verkies om hulle maar liefs voor die aanskoulike beelde wat die wêreld aan hulle voorgehou en opgedring het neer te buig aangesien almal dit maar doen. Ons het glo geen ander keuse nie, want ons sal kwansuis nie kan oorleef as ons nie buig nie. Ons moes nie net agteroor buig om ons vyande te akkomodeer nie, maar sonder dat ons dit besef moes ons selfs neerbuig voor ‘n goddelose regering met ‘n goddelose grondwet. Wat waar is, is egter dat elkeen van ons 'n keuse het – sal ek neerval voor ‘n goddelose en heidense bestel om daaraan gelyk te word, of sal ek kop en skouers uitstaan omdat ek regop BLY staan vir die waarheid waarin ek glo?
Die drie vriende van Daniël was die enigste drie siele tussen mense van verskillende volke, nasies en tale wat geweier het om tot op die vlak van afgodsaanbidding te daal t.w.v. selfbehoud. Hulle houding was geensins verwaand of uittartend nie, slegs beginselvas. Hulle was nie arrogant teenoor God dat Hy nou aan hulle verlossing verskuldig is omdat hulle bly staan het by hul geloof in Hom nie; hulle gesindheid was een van ware geloofsvertroue in Hom as Almagtige Redder. “As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.” (:17&18).
Hoeveel mense buig nie agteroor met hul beginsels t.w.v. sosiale-aanvaarding nie? Hoeveel 'Christene' gebruik nié die Woord as riglyn vir hul lewens nie, maar misbruik dit om hul verkeerde lewenswyses te probeer regverdig? Hoeveel mense is nog gevul met soveel geloofsvertroue in die Woord en in God dat hulle bereid is om daarvoor te bly staan – al sou dit beteken dat hierdie beginselvastheid die lewe vir hulle hier op aarde warm sou maak?
Daniël se vriende was nie daarop uit om moeilikheid te veroorsaak of om daarvoor te gaan soek nie. Hulle het in ‘n land met ‘n heidense regering geleef omdat hulle daarheen weggevoer was in ballingskap en het in rustigheid die menslike wette van hierdie regering nagekom, maar net tot op die punt waar hulle gehoorsaamheid aan hierdie owerheid noodwendig ongehoorsaamheid aan God sou beteken. Hierdie toegewing was vir hulle nie aanvaarbaar as diensknegte van God nie en hulle moes dus hierdie bevel van die heidense owerheid verontagsaam. (Handelinge 5:29:”En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”).
Die Afrikanervolk verkeer onder ‘n baie soortgelyke situasie vandag. Die ironie is egter dat mense vinnig is om opstandig te raak en verskonings te soek om nie die daaglikse wette van die huidige heidense regering na te kom nie, bloot omdat hulle daardeur verontrief word. Hulle misbruik dan die verskoning dat die regering ‘n heidense owerheid is en nie gehoorsaam hoef te word nie. Baie volksgenote sal egter nie versuim om Bybelse beginsels oorboord te gooi in hierdie goddelose bestel ter aanvaarding van ander mense nie. Baie volksgenote sal beginsels oorboord gooi in keuses wat vryelik uitgeoefen word en waarin daar geen verpligting op hulle rus nie, byvoorbeeld om maar die weeklikse inkopies op Sondae te gaan doen. Waar lê ons lojaliteit dan regtig?
Ons is vandag in die situasie waar die opregte diensknegte van die Allerhoogste sal moet REGOP staan vir sy Waarheid – al beteken dit dat ons kop-en-skouers bo ander sal uitstaan en selfs kritiek uitlok, want dit sal wees tot verheerliking van die Here se Naam. Die mense rondom ons sal dalk nie ‘n engel langs my en u bemerk nie, maar as kinders van die Geestelike verbond met ons hemelse Vader deur sy Seun, Jesus Christus, sal die wêreld wel merk dat daar ‘n sterker Gees in ons is as ons eie. Dit was opmerklik dat God sy diensknegte bygestaan het deur die engel wat die koning langs hulle in die vuuroond aanskou het en so sal die wêreld die Gees wat Jesus Christus vir ons nagelaat het ook in ons lewens sien wanneer ons Hom in waarheid dien en stry vir sy Koninkryk.
Ons is in 'n ernstige geestelike oorlog gewikkel in ons Vaderland en ons het die geleentheid om as diensknegte van die Allerhoogste ‘n lewende getuienis te wees - wat in die geskiedenis van die wêreld opgeteken sal word ter ere van ons Almagtige God. Sekerlik sal andere wat eendag na ons kom ook kan leer en getuig dat daar geen ander god is wat kan verlos soos ons God nie!