WEES TEVREDE MET WAT JOUE IS

Hannes Ollewagen

Matt. 20:1-16

“Neem dan wat joue is, en gaan heen.  Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou.”

In ons humanistiese samelewing herinner dié gelykenis mens aan die voldwonge feit dat ons nie God se regters is nie maar diensknegte.  Dit is nie ons taak om sy weë en handelinge te bevraagteken of as onregverdig te beskou nie, maar om in gehoorsaamheid sy opdragte uit te voer.

Dit voel menigmaal asof ons al die moeilikheid van die wêreld op ons skouers moet dra as verantwoordelike mense deur ons geloof in Christus terwyl die res van die wêreld wat “minder gelowig” as ons blyk te wees, dieselfde of selfs ‘n groter loon as onsself ontvang.  Hierdie gelykenis bring die begrip tuis dat ons fokus nie op ‘n ander se loon en verdienste moet wees en ek in die proses waardering vir my eie loon verloor nie.   Dit is menslik om soms te voel dat God ons onregverdig behandel wanneer ons ons lewens met ander mense s’n probeer vergelyk, maar dit is verkeerd en sal vir ons onnodige ongelukkigheid meebring, aangesien ons die vreugde van die loon wat ons wel regverdig ontvang ook in die proses sal verbeur.

Die moderne mens is alewig op soek na groter en beter dinge wat vir hom geluk sal bring en wanneer hy dan die groter rykdom, die duurder motor, die vakansiehuis of die beter werk gekry het, is dit ook maar net ‘n kwessie van tyd alvorens hy daaroor begin kla.  Dit gebeur omdat die mense met wie hy homself vergelyk dan natuurlik verander en dan is daar weer ander mense met groter, beter en meer begeerliker besittings as hyself.  Ons vergeet in hierdie nuttelose gejaag na wind dat geluk vir elke gelowige in Jesus Christus gebied word aangesien ons in vrede kan leef met die vooruitsig van die ewige erflating wat ons in die lewe hierna sal ontvang.

Beteken dit dat ek maar verlief moet neem dat ‘n gelowige in Jesus Christus geteister sal word deur hartseer en swaarkry en dat ek skuldig moet voel wanneer dit met my goed gaan?  Allermins.  Die Bybel getuig van menige mense wat groot sukses behaal het, met groot rykdom geseën is en groot vreugde in die Here gesmaak het, maar hierdie mense het hierdie dinge wat hulle uit genade ontvang het, nie hul lewensdoelwit gemaak nie.   Hulle het egter steeds waardering daarvoor gehad.

Die Woord leer ons dat elkeen van ons wel dink dat dit wat ons doen regverdig is en daarom dat ons seker ook ons eie loonverdienste probeer bereken.  “Elke weg van ‘n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte.”  Spreuke 21:2.  Ek moet egter onthou dat my lewe ‘n geskenk uit God se hand is en daarom dat ons uit dankbaarheid aan Hom gehoorsaam moet leef.  Dit is Hy wat ons elke more die gawe van ‘n nuwe dag skenk en ons beveel om te leef, daarom dat Hy verwag dat sy kinders hulle lewe aan Hom wy.  Ons durf nie reken dat God onregverdig is nie, want deur sy genade het Hy ons alreeds die ewige lewe geskenk wat soveel meer is as wat enige persoon ten tye van sy lewe op aarde kan verdien.

Ons leef nietemin in ‘n land waar dit blyk dat al die verantwoordelikheid op die Godsvresende en gelowige mense neerkom terwyl die opbrengs van die harde hande-arbeid in die hande van goddelose mense val. Dikwels laat hulle sedelose leefwyse mens walg maar hierdie waarneming beteken nie dat ons veroordelend staan nie. Uit die Woord van God kry ons ook raad in hierdie opsig.  “WEES nie afgunstig op die kwaaddoeners nie, en begeer nie om met hulle saam te wees nie.  Want hulle hart bedink verwoesting, en hulle lippe spreek moeite.”  Spreuke 24:1&2.

Die beste manier om in “vrede” te leef in ons verlore erfenis wat besig is om uitmekaar te val is om in vrede met ons Skepper te leef.  Elkeen van ons moet seker maak dat ons ons dag in vrede met Hom begin en met Hom afsluit en elke dag streef om ons allerbeste vir Hom te gee gedagtig daaraan dat dit Hy is wat aan die einde van ons skof ons loon vir ons sal bepaal.  Ons moet dus onthou dat ons loon deur Hom bepaal word en nie deur ons omstandighede nie.

Dit is belangrik dat ons as gelowiges mekaar sal ondersteun in hierdie wingerd van Hom aan die suidpunt van Afrika wat in puin lê – daar is oorgenoeg werk wat gedoen moet word terwyl die arbeiders maar min is.  Dit bring ons weereens tot die besef dat die getroue arbeiders nie ‘n minuut het om te verspil om te staan en rondkyk of ‘n ander nie dalk “onregverdig” bo my bevoordeel word nie.

Ons sal ‘n reuse verskil in ons lewens sien wanneer ons begin om te bid asof alles van God afhang en te werk asof alles van onsself afhang.  Jy sal ‘n reuse verskil sien wanneer jy vandag dít wat jou eie is neem en God se belang daarmee dien eerder as jou eie. . .