WAAR IS DIE HERE?

Hannes Ollewagen

2 Konings 2:13-25

“…Waar is die HERE, die God van Elia, ja Hy?  En toe hy op die water slaan, is dit na weerskante verdeel, en Elísa het deurgegaan.”

Elke gelowige was seker al in ‘n situasie in sy/haar lewe waar hulle ook soos Elísa in hierdie gedeelte wou vra – “Waar is die HERE?”  As ek dan sy kind is, waarom gaan dit so sleg met my?  As ek dan sy kind is, waarom hoor Hy nie wanneer ek na Hom roep nie?  Dalk voel u om soos Job te vra in die Woorde van Job 13:24: "Waarom verberg U u aangesig en hou my vir ‘n vyand van U?” Dit kan selfs wees dat u beproewing u laat twyfel aan die egtheid en/of die korrektheid van u geloof.  Die groot rede vir laasgenoemde is waarskynlik grotendeels weens leraars wat “voorspoedteologie” verkondig en wanneer swaarkry en beproewing in mense se lewens woed, tuimel hulle geloofshuise omdat dit nie op die Vaste Rots gebou is nie.  Leraars wat “voorspoedteologie” verkondig en aan mense vertel dat God net liefde is en jou geloof in Hom jou van alle teëspoed vrywaar, sou feitlik vir al die geloofshelde moes vertel dat God hul nie liefgehad het nie – wat ons natuurlik weet nie die waarheid is nie.

Wanneer ons die Bybel indringend bestudeer, sien ons dat al God se kinders sy Aangesig ernstig soek in hul tye van beproewing.  Dit was selfs in die lewe van Jesus Christus nie anders ten tye van sy lewe op aarde nie.  “En toe Hy in ‘n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.” (Lukas 22:44)  Hy het ook geweet van die beproewing wat op Hom wag en waarin Hy Homself bevind het.  Hy het in hierdie tyd, soos ook die ander geloofshelde in die Bybel, nie God se raad en resag bevraagteken nie, maar Homself aan God se wil vir sy lewe onderwerp en met gehoorsaamheid sy kruis gedra.

Die moderne mens het heeltemal te vinnig begin om sy lewe van genot en plesier as van groter belang te ag as ‘n lewe van getrouheid voor God.  Die lewenskoers wat mense inslaan word bepaal deur die gerief en die gemak wat die pad bied en nie in die rigting waarin God hul noodwendig wil lei nie.  Dit is vir mense te maklik om uit te draai voor elke versoeking, beproewing en struikelblok wat op hul lewenspad kom, aangesien hulle met hierdie “wegdraai-taktiek” hulself nie hoef te “vermoei” om God se Aangesig indringend te soek en na sy raad en wil te vra nie.  Laasgenoemde is te veel moeite omdat dit nie vinnig en in ‘n kits beskikbaar is soos die meeste ander dinge in die wêreld wat mense daagliks najaag nie.

Moenie die wêreld se voorbeeld volg om die beproewing in u lewe te hanteer nie, want dit kom op wegvlug neer. Ons kan leer uit die Woord van God dat nie een van sy kinders se lewens op aarde sonder beproewing en teëspoed was nie – selfs nie eers dié van sy geliefde Seun nie.  Hy het egter nie een van hulle in die steek gelaat nie.  Hy was altyd getrou, Hy was altyd daar.

U beproewing mag dalk ook soos talle voorbeelde in die Bybel, u juis louter en reinig. Daarmee saam moet 'n mens ernstig selfondersoek doen om te weet watter verkeerde dinge gesuiwer moet word. Dit is 'n voorwaarde vir heiligmaking. Dit is God se wil dat u Hom opsoek ten tye van jou beproewing, Hom moet aanroep en smeek om u heel te maak en te reinig om met ‘n vaste gees in u binneste toegerus te word.  “Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.” (Ps. 51:12).

Wanneer ek na die uitdrukkings op mense se gesigte kyk en luister na die stories en probleme van mense in ons volksgeledere, kan ek nie anders as om te dink dat die Afrikaner homself tans in ‘n folteringsproses soos selde in die geskiedenis bevind nie.  Die beproewings waarmee feitlik elke huishouding te doen kry, is dalk ‘n antwoord op jare se gebede dat onse Vader vir ons ‘n nuwe hart en nuwe gees moet gee deur die hart van klip uit ons binneste weg te neem?  “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.” (Eség. 36:26)  Die pyn om hierdie verstokte hart uit ons uit te sny is allesbehalwe ‘n plesier, maar as dit nodig is om aan ons volk beterskap te gee, laat ons in ootmoed voor sy heerlike Majesteit buig en Hom as Pottebakker vertrou in die werk van sy hande.

Mag elke ware gelowige se fokus in sy tyd van beproewing en foltering in selfondersoek gerig wees om sy verhouding met God te verbeter, want sodoende sal ons alle twyfel en gedagtes wat God se regverdigheid in twyfel trek, kan verdryf.  As ons die beloftes van oorwinning en verlossing wil beleef, moet ons bereid wees om die nodige opofferings te maak in nederige ootmoed voor ons liefdevolle hemelse Vader.  Wanneer ons dit doen, kan ons dalk weereens besef WAAR God in ons volk se lewe inpas – dan kan ons dalk ook weer onthou, hoe naby Hy regtig is.  Miskien neem Hy dan weer sy volwaardige plek in elke volksgenoot se lewe in – op die troon van ons harte!

Ps.  139:1-10

“U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.

U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.

Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, HERE, U ken dit geheel en al.

U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.

Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.

Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?

Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!

Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,

ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.”