HOE STAAN ONS VOOR HOM?

Hannes Ollewagen

Kol. 1:3-23

“...sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei,” (:10)

“Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel;”(:21&22).

'n Mens wonder vir hoeveel mense dit nog belangrik is om hulself waardiglik voor die Here te gedra – oftewel waardiglik voor Hom te wandel?  Mense mat hulself met ywer af om groter besighede te bou, die nuutste motors aan te skaf en hul kinders tot die hoogste prestasies te dryf sodat hul voor ander mense goed kan vertoon.  Dit is juis hierdie gesindheid wat mense van ‘n gerusstellende vrede ontneem en hulle verstrik laat raak in die najaag van die begeerlikhede van die vlees terwyl hul geestelike lewe feitlik sterf.

  Mense verstaan dan nie waarom hulle alles wat ‘n mens kan begeer besit en steeds nie gelukkig is nie.  Die rede is dat jy al die vleeslike begeerlike kan bevredig, maar nie geluk sal vind nie, aangesien geluk uit die siel voorkom, die geestelike binneste van ‘n mens.  Dit is daarom met goeie reg dat God se Woord ons leer dat dit jou niks sal baat om selfs die hele wêreld te win, maar aan jou siel skade te ly nie.

Ek sê nie dat 'n strewe om die beste te wees in dit wat God jou geroep het verkeerd is nie.  Dit is noodsaaklik en ook ons verantwoordelikheid om in elke rol wat in ons lewens aan ons gegee is, uit te munt.  Daar is egter meer as een rol aan ons gegee en in ‘n dinamiese samelewing is dit moeilik om die balans te behou deur in alles jou allerbeste te gee.  Daar is die verantwoordelikheid om ‘n goeie vader/moeder te wees, ‘n goeie man/vrou, ‘n goeie bestuurder by die werk en dan dalk ook nog ‘n goeie vriend(in) in my vriendekring.

Die massamedia het ‘n ontstellende groot invloed op die meningsvorming van soveel mense en hierdeur word mense beïnvloed om dinge na te streef wat hulle nie hoef te wees nie.  Dit is van uiterste belang dat ons as Godsvresende mense baie versigtig sal wees om dinge na te streef wat sosiaal-aanvaarbaar is, maar nie in God se Woord vir ons aanbeveel word nie.  Dit kan selfs wees dat God se Woord ons hierteen waarsku, maar meestal reken ons dat dit belangriker is om in mense se guns te wees. En, “tye het mos verander”, glo ons, daarom sal God se raad nie meer heeltemal van toepassing wees nie?

Daar is soveel mense wat voel dat hulle doodeenvoudig net nie meer kan voorgee om kop bo water te hou in ‘n samelewing wat besig is om weg te sink in sy eie ongeregtigheid nie.  Die antwoord op oorlewing is om te kyk na Hom wat die Weg en die Waarheid en die Lewe is.  Hy het alle dinge geskape en ons hoofdoel is om Hom te behaag   -  nie die samelewing rondom ons nie.  Dit is nie nodig dat ons aan die “kunsmatige standaarde” wat die media en die goddelose filmwêreld van Hollywood vir ons voorhou probeer voldoen nie.  Laasgenoemde is uit die aard van die saak ‘n baie minderwaardige standaard as God s'n.  Die wêreld stel baie lae standaarde waaraan ‘n mens maklik kan voldoen, nl. selfsug, sedeloosheid, liefdeloosheid, onreinheid en hoerery.  Dit is dan ook geen wonder dat die loon daarvan depressie, gebroke huwelike, eensaamheid, hartseer en gebrokenheid is nie.   Dit sal jou die vrede met jou Skepper ontneem en veroorsaak dat jy in vyandskap met Hom leef.  “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen.” (:21).

Die volmaakte losprys is egter deur Jesus Christus betaal vir elke sondaar wat tot ware geloof in Hom kom en nie langer onder die slawerny van sonde wil leef nie.  Hy bied u gratis vryheid aan en daarmee saam ‘n riglyn in sy Woord om u te help om na die hoogste standaard lewe te streef waarin u nie meer ‘n slaaf van die sonde sal wees nie, maar die sonde met u hele wese sal beveg om die vryheid in Christus as die hoogste skat te bewaar!

As ons opnuut besef dat dit ons verantwoordelikheid is om Hom – deur Wie en tot Wie alle dinge geskape is - te behaag en dat alle dinge in Hom standhou, sal ons dalk opnuut ons verantwoordelikheid in ons Vaderland besef om ‘n samelewing wat uitmekaar val, te probeer herstel.  Dit sal ons dalk opnuut tot die besef bring waarvoor God ons as ‘n volk aan die suidpunt van Afrika geplant het en sal ons dalk dryf om die goddelose wêreld rondomons  voor stok te kry en die lae en verfoeilike standaarde wat gestel word, aan te spreek en teen te staan.  Dit kan tot gevolg hê dat die heiligdom wat ons as Afrikanervolk in 1838 beloof het om vir Hom te bou, weer in ere herstel word volgens die riglyn van sy Woord.

Die vraag is of ons wat sy kinders is, daarna streef om die wêreld te behaag en of ons daarna streef om heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te leef en eendag so te verskyn?  Ons sal moet besef dat ons vryheidstrewe ‘n roeping is om op te tree as kinders van God om te waak en te heers oor die werke van sy Hande om Hom daardeur te verheerlik en dat dit nie ‘n geveinsde vryheidsug is waarin God se Naam maar net gerieflikheidshalwe gebruik word omdat Hy maar telkens die Een is wat red nie.

As ons nog nie bereid is om sy heiligdom wil herstel omdat ons vir Hom diensbaar wil wees nie, is ons nog nie opreg en gesuiwer nie.  En as ons gesindheid van so 'n aard is dat onsself die hoof van hierdie heiligdom wil wees met so klein bietjie hulp van Hom,  is ons nog nie onberispelik voor Hom nie en is daar nog baie selfondersoek te doen.

Wanneer ons egter erken dat Hy die Hoof en Heer oor alles is, ook oor ons lewens, ons gesinne, ons volk en ons land, kan ons onsself voor Hom stel en in ootmoed voor Hom kniel met hierdie bede:

“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23&24).