Hannes Ollewagen
Esra 5:1-17
“En hulle het ons die volgende antwoord gegee en gesê: Ons is knegte van die God van hemel en aarde, en ons bou die huis wat baie jare gelede gebou is, wat ‘n groot koning van Israel gebou en voltooi het. Maar omdat ons vaders die God van die hemel vertoorn het, het Hy hulle oorgegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, die Chaldeër; hy het hierdie huis verwoes en die volk na Babel weggevoer.” (:11-12)
My gedagtes gaan terug na 1838 – na ‘n volk wat voor God beloof het:
“...dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig, waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.”
‘n Volk, die Afrikanervolk, wat beloof het om vir God ‘n heiligdom te bou en daar tot sy eer te leef, ook die toekomstige geslagte. Hierdie onderneming was nie dat ons ‘n klomp kerkgeboue sal oprig nie, want ons weet dat sy heerlikheid nie vasgevang kan word in tempels wat met hande gemaak is nie. Hierdie onderneming van ons volk was om die erfdeel wat ons as volk van Hom sou ontvang, tot sy eer op te rig, daarin te leef en ons kinders te leer dat hulle daaraan moet voortbou, elke opkomende geslag.
Ons kyk vandag rondom ons en sien hoedat hierdie huis wat ons veronderstel was om vir Hom op te rig in puin lê. Dit word verwoes deur selfsug, korrupsie, nydigheid, haat, diefstal, moord, afguns, bedrog, luiheid, sluheid, laksheid en lafhartigheid. Ons het ons Christelike grondwet verruil vir ‘n grondwet wat 'godsiensvryheid' sou meebring. Dit blyk dat onder hierdie Grondwet met 'godsdiensvryheid' daar plek vir enige geloof is, buiten dié van die Christendom.
Die antwoord in vers 11 van die gelese gedeelte stuur my gedagtes terug na die laaste strofe van ons volkslied, die Stem, wat lui: “Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.” Ons antwoord aan die wêreld was ook eens op ‘n tyd – die Afrikaner is knegte van die Allerhoogste, vir Hom ywer ons, vir Hom dien ons, vir Hom bou ons en vir Hom leef ons! Ons het met lof erken dat dit ons eer is om laasgenoemde te doen omdat ons onsself as God se kinders kon sien, as sy eiendom. “Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.” (Hand. 15:14-17).
Baie van ons roem daarop dat ons nie skuldig staan teenoor die nalating van die Gelofte van 16 Desember 1838 nie, want ons gedenk getrou hierdie dag oor die afgelope jare op die 16de Desember van elke jaar. Dit is dan ook nie verkeerd nie, maar dit is nie die voltrekking van die hele Gelofte nie. Wat van die ander 364 dae van die jaar? Wat van die ander voornemens van die Gelofte as om slegs dié dag jaarliks as ‘n dankdag te gedenk? Wat van die Gelofte om ‘n huis tot sy eer op te rig en daaraan te bou tot in alle opkomende geslagte?
Ons kyk na die profeet Haggai se woorde, na wie verwys word in vers 1 van die gelese gedeelte en toets dit aan omstandighede soos van toepassing op ons huidige omstandighede. Haggai 1:7-10: "So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het! Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek ‘n welgevalle daaraan hê en My verheerlik, sê die HERE. Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop. Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou.” Kan ‘n profesie van soveel duisende jare gelede so van toepassing wees as God Hom nie meer daagliks met sy kinders bemoei nie? Is hierdie nie ‘n direkte wekroep van God om sy kinders se oë oop te maak en Hom te soek nie?
Die feit dat ons daarvoor skaam kry dat ons sy huis tot ‘n puinhoop laat verval het, maak hierdie skande nie ongedaan nie. Die vraag is egter wat my en u gesindheid daarteenoor is? Ons het die keuse om die oë daarvoor toe te hou en aan te hou om net vir ons eie huise in selfsug te ywer terwyl ons moet sien hoedat ons kinders en kleinkinders in die vreemde na ‘n heenkome moet gaan soek waar hulle kan probeer om kinders volgens Christelike standaarde op te voed en groot te maak omdat daar hier ter plaatse, weens ons laksheid, nie meer plek is vir ons Heer en Meester en die Christendom nie. Ons kan alternatiewelik kies om ons versuim en skuld te erken en daadwerklik werk te maak hiervan.
‘n Groot probleem waarvoor ons te staan kom wanneer ons na hierdie vervalle puinhoop in ons Vaderland kyk, is die feit dat ons nie ‘n idee het waar om te begin nie. Die verval, die puin en die ellende is só verskriklik groot dat ons menslike verstand ons wil laat glo dat geen mens dit sal kan herstel nie. Dit is juis waar ons antwoord lê – in ons menslikheid is hierdie uitdaging veels te groot, maar ons het die wapen van gebed om ons Vader te nader om hulp en raad vir dit wat ons in sy diens moet doen, van die regte hoek te benader en met goeie oorleg aan te pak.
Ons leer in 1 Kor. 3:9-16: “WANT ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”
Dit bevestig dat nie een van ons mens-alleen hierdie bouwerk sal kan voltooi nie. Inteendeel, die fondament is reeds gelê en elkeen van ons het die verantwoordelikheid om op hierdie Fondament voort te bou, maar ons moet met sorg daarop bou om daarvan rekenskap te kan gee aan die Opperhoof.
Dit is dalk tyd om uit die gemaksones te skuif en vir ‘n wyle te gaan ondersoek instel na die stand van sake rondom die heiligdom van ons Heer, of daar nie dalk werk vir my is nie – is daar nie dalk plek waar ek ‘n hand kan bysit om hierdie werk te voltooi nie? Daar is dalk selfs mense wat reken dat dit oorbodig sou wees om met hierdie bouwerk te begin, aangesien hul van mening is dat die wederkoms van onse Heer reeds op hande is? Niemand van ons weet wanneer Hy weer sal kom nie, maar Hy stel dit onomwonde in sy Woord dat ons baie versigtig moet wees met dit waarmee Hy ons besig sal vind wanneer Hy weer kom. Wil ek ‘n slegte en luie dienskneg wees wat nie my kant bring nie en hê dat Hy my so sal aantref, of verkies ek om ‘n goeie en getroue dienskneg vir Hom te wees wat hard en ywerig besig is om vir Hom te arbei wanneer Hy sy opwagting maak?