Hannes Ollewagen
Lukas 2:1-7
“...en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.” (:7)
Hy moes sy oë oopmaak in ‘n wêreld waar daar geen plek vir Hom was nie. Ons leer God in Génesis ken waar Hy deur die Woord, Jesus Christus, alle dinge geskape het. Die heelal het dus deur Hom ontstaan en ons weet dat geen ding wat ontstaan het, of wat standhou, sonder Hom ontstaan het of standhou nie. Daar is m.a.w. geen lewende organisme op hierdie aarde wat die gawe van lewe nie aan Hom te danke het nie. Die besluit wat in Génesis gemaak is, is egter ‘n besluit wat die mens vandag steeds moet maak – kies ek vír Hom, of téén Hom?
In die Paradys het die listige Satan vyandskap teen God veroorsaak en daardie stryd sal voortduur tot met voleinding van die wêreld. Dit is egter noodwendig ‘n vereiste dat ‘n mens sal kies of jy in onderdanigheid aan Hom wil leef as sy kind, en of jy in vyandskap sal probeer wegkom van God en gedurigdeur probeer om sy bande van jou af te ruk om “vry te kom” van sy verorderinge. (Verw. na Ps. 2).
Satan wag gedurig om plekke aan te val waar mense aan God se roepstem gehoor gee om hulself aan sy gesag te onderwerp. Wanneer mense so doen, is die gevolg daarvan ‘n vredevolle samelewing waarin mense die son oor mekaar sien skyn en elkeen sy persoonlike verantwoordelikheid op sy lewensterrein nakom. Die rede daarvoor is dat daardie mens besef dat hy sy lewe as ‘n gawe van God ontvang het en die verantwoordelikheid het om te leef en nie bloot te bestaan nie. ‘n Mens besef dat rykdom, verstand, kinders, familie en al die ander mooi dinge gawes is wat jy uit God se Hand ontvang het omdat Hy dit alles geskape het en dat jy met goeie oorleg en liefde daaroor moet waak.
God het die ellende wat die sonde aan die mensdom aanrig gesien, en uit liefde besluit om sy Seun na die aarde te stuur om in te gryp. ‘n Mens wonder soms hoeveel anders die lewe nie sou wees indien die wêreld Hom erken en aanvaar het as die Hoof oor alle dinge i.p.v. om Hom aan ‘n kruishout op te hang? Hy het hier op aarde sy lewe gewy om aan mense goed te doen en het alles wat Hy gehad het gegee om hierdie gebroke wêreld te herstel. Hy het selfs sy lewe in gehoorsaamheid aan God afgelê om daardeur voor God aanvaar te word as Middelaar vir hierdie sondige wêreld. Uit Jesus Christus se lewenswandel is dit duidelik dat ‘n perfekte staatkundige bestel op aarde in der ewigheid onder menslike invloed nooit opgerig sal kan word nie. Die sondige menslike natuur en invloede is heeltemal te groot daarvoor. Dit beteken egter nie dat daar nie plek vir God se Koninkryk hier op aarde is nie net omdat die mensdom Hom nie verwelkom hier benede nie. Dit beteken nie dat dit ‘n sonde is om daarna te strewe om jou lewe in toewyding aan Hom te leef nie, hetsy in jou gesin, jou werk en selfs die politieke strewes wat jy koester; inteendeel, dit is hoe dit behoort te wees vir gelowiges.
Ons bly in ‘n land waar dit menigmaal vir ‘n mens voel asof hier geen plek meer vir jou is nie. Hoe meer jy streef na ‘n rein en vlekkelose lewenswandel voor God, hoe meer voel dit asof die wêreld jou toenemend hard behandel. Dit voel asof die goddelose al die goeie dinge geniet sonder om oor enigiets te bekommer, terwyl Godsvresende kinders hul bekommer oor die verderf waarheen die samelewing afstuur. Die magtelose frustrasie wil ‘n mens soms tot raserny dryf, maar dan is dit noodsaaklik om weer te berus in die wete dat die stryd alreeds oorwin is. Dit beteken nie dat ons tot die wederkoms op ons louere moet rus nie, want die stryd wat in Génesis begin is, sal voortduur tot en met die voleinding van die wêreld, maar ons moet heldhaftig stry in die wete dat selfs die dood ons nie kan oorweldig en oorwin nie.
Die vraag waarvoor elkeen van ons vandag te staan kom, is natuurlik of daar nog ‘n plek vir Hom in my en u lewe is? ‘n Mens sou verwag dat die Koning van die heelal immers in ‘n paleis omring met weelde gebore sou word, maar allermins was dit die geval. Daar was vir Hom niks beters as ‘n krip waarin Hy neergelê kon word nie. ‘n Mens sou dienooreenkomstig verwag dat onder ‘n Godvresende volk, soos die Afrikanervolk, daar vir Hom die hoogste agting in mense se lewens en harte sou wees, maar ek dink ons sal leuenaars wees as ons sê dat dit die geval is. Ek is nie deur God as ‘n regter oor die Afrikanervolk aangestel om te veroordeel nie, maar wanneer ek in beskeidenheid en met opregte sorg na ons volkslewe kyk en my hart uitgaan na volksgenote wat Hom mis, sien ek dat daar in soveel lewens nie plek vir Hom is nie. Hy moet maar kyk of daar tussen die gejaag na geld, die partytjies, die sport, televisie, rekenaarspeletjies en die vriende dalk nog iewers ‘n plekkie vir Hom is. . . Ek verwag sy seën in my lewe, maar wil my nie aan sy gesag onderwerp nie? Ons moet indringend besef dat hoe minder plek daar vir Hom in my lewe is, hoe meer plek is daar vir Satan met allerhande afgodediens wat smart en ellende in menigte sal aanrig. Die eerste ding wat Satan sal steel, is vrede en daarna sal hy verwoesting aanrig totdat jy soos ‘n lopende lyk net ‘n bestaan voer, maar nie meer lewe nie, want dan het jy self gekies dat daar nie plek vir die Lewe in jou hart is nie. . .
Die Bybel is allermins ‘n stel vol duisende reëls wat ‘n mens in der ewigheid nie sal kan nakom nie. Die Bybel is die Woord van God wat vir ons moet rig en lei gedurende ons lewens. Dit is nie ‘n towerstaffie waarmee alle hartseer en probleme verdwyn nie, maar ‘n onfeilbare riglyn om jou te ondersteun in hartseer, en jou leer om beproewing en lyding te deurstaan. Die Woord is ‘n onuitputbare bron van krag en wysheid wat jou bewaar teen verkeerde lewenswandel en lewensterreine waar Satan groot verwoesting saai. Die Woord is in liefde aan die mens gegee, maar soos die ewige lewe, word dit op niemand afgedwing nie. Dit is ongelukkig net diegene wat die waarde van die Woord ontdek het, wat weet hoe arm diegene is wat daarsonder probeer leef.
As jy dalk voel asof jou lewe so deurmekaar en uitmekaargeskeur is en daarin nooit weer orde en herstel moontlik is nie, is dit baie raadsaam om die Skepper van jou liggaam te nader om raad. Dit sou raadsaam wees om op te hou wegvlug van Hom, maar eerder jou skuld voor Hom te bely en om vergifnis te vra. Dit sou baie voordelig wees om Hom die ereplek in jou lewe te gee wat Hy graag wil inneem (1 Kor. 3:16: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?”), want dan kan Hy as die Hoof van jou lewe ook vanaf die troon van jou hart op ‘n punt begin om orde te skep, om te herstel om jou weer te laat leef. Die feit dat Hy dalk nie na jou kom in die glorie en toestand waarmee jydit verwag nie, beteken nie dat Hy nie wel by jou hart se deur staan en klop nie. Die keuse lê egter by elke individu persoonlik of hy aan Jesus Christus die ereplek wil gee. ‘n Toegewyde lewe aan Hom lyk dalk nie so roemryk soos wat die lewe van ‘n Koningskind moet wees nie.
Maak seker dat jy jou erfdeel in God se Koninkryk betyds opeis.