IS SNOEI IN MY LEWE NODIG?

Hannes Ollewagen

Matt. 7:1-29

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”

Ons het al soveel maal die vraag geopper of u maar net van Jesus Christus weet en of u Hom waarlik ken en waarlik ‘n verhouding met Hom het.  Die rede waarom hierdie vraag so baie na vore kom, is omdat dit die deurslag sal gee na u ingang in die Koninkryk van God en of u dalk beskaamd daaroor gaan staan.

Christus leer ons in hierdie gedeelte dat daar soveel mense is wat hulle met godsdienstige dinge besig hou, maar in die proses steeds nie gered is nie, omdat hulle Hom nie waarlik ken nie.  Hierdie godsdienstigheid sal hulle nie toegang verleen tot sy Koninkryk nie, want Hy alleen is die Weg na ewige saligheid en deur Hom alleen word toegang tot die Koninkryk verleen.

Ons leef in ‘n samelewing waar mense nie skroom om Bybelversies aan te haal en met die Bybel onder die arm te loop nie, want dit blyk sosiaal-aanvaarbaar te wees op die tydstip.  Die naam van Jesus moet op voertuie, T-hemde, sosiale mediaprofiele en oraloor sigbaar wees, maar hoe hartseer dat die meeste mense wat op hierdie wyse optree, nalaat om hierdie heilige Naam deur hul lewensvenster te vertoon.  Is dit nie eintlik hoe Hy gesien behoort te word nie?

Dit is skandelik dat daar diegene is wat dink dat die Evangelie winsgewind is en dit probeer misbruik om hulself te verryk met die verkondiging van die Woord.  Laasgenoemde is ‘n algemene norm in vandag se samelewing, aangesien daar menige leraars is wat in hul universiteitsjare al erken dat hulle nie waarlik glo in die Evangelie van Christus nie, maar dat ‘n loopbaan in die teologie baie aanloklik en voordelig blyk te wees en daarom kies hulle om daardie koers in te slaan.  Wee hulle wat nie die waarheid raaklees waar Christus die tafels van geldwisselaars in die tempel omgegooi en sy humeur heeltemal met hulle verloor het weens die skandelikheid wat hulle bedrywe het nie.

Jesus stel dit in hierdie rede weereens vir elke ware gelowige baie duidelik dat ons liefde vir Hom deur ons lewens moet vertoon.  Ons is deeglik bewus daarvan dat ons nie deur goeie werke ons eie saligheid kan verdien nie, maar ons is veronderstel om net so bewus te wees daarvan dat God nie ons dankbaarheid op allerlei wyse van ons vra anders as deur ‘n lewe wat getuig van dankbaarheid, gehoorsaamheid aan en liefde vir Hom nie.

Hy stel dit in verse 16 – 20 baie duidelik dat ‘n mens se dade die vertoonvenster van jou hart sal wees.  Dit beteken natuurlik nie dat jy geen foute maak en nooit sal sondig nie, maar eerder dat jou verkeerde optrede en foute nie ‘n leefwyse sal word nie.  Dit beteken dat ons voortdurend sal selfondersoek instel in ons lewens om te ondersoek of daar nie tog maar iewers besig is om dorings hier-en-daar kop uit te steek in my lewe wat so spoedig moontlik met wortel en tak uitgeroei behoort te word nie.  Dit mag wees dat van die onkruid wat ek sien, bekende onkruid is wat ek weet bitter vinnig vernietig en uitgeroei moet word, aangesien ek dalk kan onthou hoedat hierdie onkruid in die verlede amper my hele lewenstuin oorgeneem en bederf het en hoedat dit baie hartseer en lyding gekos het om alles om te dolwe ten einde hierdie onkruid te vernietig.

Onthou toe die landbouer ondersoek ingestel het na die oes van ‘n boom in die vrugteboord, maar hierdie boom het geen vrug gedra nie en daarom is opdrag gegee dat dit summier uitgekap moet word aangesien dit die grond onvrugbaar maak.  Ons onthou ook hoedat die tuinier gesoebat het om die boom nog ‘n enkele jaar kans te gee en onderneem het om die grond rondom die boom mooi om te spit, dit kompos te gee en baie water en versorging te skenk ten einde te kyk of dit nie dalk einde laaste goeie vrug sal oplewer nie.  Is daar dalk van ons wie se leraar ook voor die Groot Landbouer pleit om asseblief nog ‘n bietjie lankmoedig te wees en te kyk of daar nie dalk verandering en inkeer plaasvind nie?  My Heer, ek sal nog bietjie harder arbei, harder bid, meer Evangelieseer, net miskien kry ons hierdie jaar ‘n verandering en ‘n verrassende drag vrugte!

Ons het die afgelope tyd die eerste lentereëns ontvang en die natuur het opnuut vir ons die voorbeeld gestel wat ons veronderstel is om te doen met die seën wat ons so mildelik uit ons Vader se Hand ontvang – ons moet groei en vrug dra om ‘n lus en ‘n sieraad vir Hom te wees.  As Hy vanoggend moet instap en my lewe onder oë neem, sal Hy tevrede wees met die groei in my geestelike lewe?  Is daar dalk takkies in my lewensboom wat afgesny behoort te word ten einde die voeding en water wat ek ontvang beter te kan aanwend – daardie takkies van verkeerde vriende, verkeerde gewoontes, verkeerde gedagtes en verkeerde begeertes?  As ek moet terugkyk na die afgelope jaar van my lewe en vra hoe die oes lyk wat ek vir Hom opgelewer het, sal ek in groot verwagting kan uitsien na ‘n goeie reënjaar waarin ek gaan poog om ‘n nóg groter oes as die vorige jaar te lewer?

Net so min soos wat ons met absolute presisie die reën en die weersomstandighede kan voorspel en onsself lelik daarmee kan misgis, net so min weet ons wanneer Hy die dag by ons verbygaan om die oes van ons lewens finaal te beoordeel.

Dit is dalk tyd om vandag opnuut te besin hoeveel water u lewensboom nodig het, of u dit gereeld genoeg van die nodig voedsel uit die Woord voorsien, of u wel genoeg arbeid aan die bewerking daarvan spandeer en of dit ook die nodige vrug oplewer wat ons Heer van elkeen van ons lewensbome verwag.