WAARHEEN MET DIE OORBLYFSEL?

Hannes Ollewagen

Jeremia 42:1-22

“...en aan die profeet Jeremia gesê: Laat ons smeking tog voor u kom en bid tot die HERE u God vir ons, vir hierdie hele oorblyfsel – want ons het as ‘n klein klompie oorgebly, soos u oë ons sien – dat die HERE u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen.” (:2&3).

Nadat die stam van Juda in ballingskap weggevoer is soos wat die profeet Jeremia in opdrag van God geprofeteer het dat dit sal gebeur, kom die oorblyfsel van die volk na Jeremia in verwarring om na raad te vra en die pad vorentoe te probeer vind.  Hierdie manne het voor hulle oë gesien hoedat die profesieë van Jeremia oor die volk in vervulling gaan en besef dat Jeremia erns maak met sy diensbaarheid aan God.  Hulle besef derhalwe dat hierdie man van God dan ook natuurlik na God kan gaan ten einde Hom te raadpleeg wat die enkelinge wat uit die volk oorgebly het, te doen staan.

Die volk was op hierdie punt so verward, bang en onseker, dat hulle geen uitweg gesien het as na God alleen nie.  Ons sien hoedat Jeremia 10 dae later eers na die volk terugkeer met ‘n antwoord van God, wat hulle moes laat besef het dat hy nie sondermeer net ‘n storie aan hulle kom opdis het nie, maar werklik erns gemaak het in die raadpleging van God namens die oorblyfsel van die volk.

Die raad wat die volk ontvang, is egter bitter eenvoudig.  Hulle moet rustig bly daar waar hulle is en op God wag vir leiding in die toekoms.  Die enigste ander waarskuwing is dat hulle nie moet terugkeer op die ou weë na Egipte nie, aangesien God sy volk uit die slawerny van Egipte verlos het en nie wil toesien hoedat hierdie volk na die heidene om hulp gaan smeek asof hulle nie ‘n God het wat by magte is om hulle te verlos nie.  Laasgenoemde sal noodwendig sy eer aantas en daarom dat dit God se toorn laat ontvlam.

Die Afrikanervolk is vandag ook in ‘n situasie waar ons verward rondkyk en soek na ‘n Jeremia wat God namens ons kan raadpleeg om vir ons die rigting aan te wys waarheen ons moet gaan.  Die boodskap aan ons Afrikanervolk is dan ook nie veel anders as die boodskap aan die oorblyfsel van Juda nie.

Aangesien die “moderne samelewing “met sy sport, vermaak en geldgierigheid die ware karakter van die Afrikaner laat vervlak het na ‘n bejammeringswaardige vlak waar jy as ‘n Afrikaner beskou word wanneer jy braai, brandewyn drink, rugby kyk, ‘n sekere soort bakkie of trekker besit, het daar vir ons volk ook maar net ‘n oorblyfsel oorgebly deur die genade wat nog erns maak met dit wat God se wil vir ons is.

Die karaktereienskappe van integriteit, eerlik, opregtheid met mekaar en met ons God, ware Godsvrees, sagmoedigheid, nasionalisme en ‘n liefde vir ons eie en bo alles ‘n liefde vir ons God, is dinge wat eie aan ons volk was, maar net in die harte van ‘n klein oorblyfsel oorgebly het – weliswaar ook deur genade alleen!

Die pad na genesing en terugkeer vir die Afrikanervolk word al vanaf die tye van dr. D.F. Malan se “Quo Vadis”-toespraak aan die Afrikaner voorgehou, maar sonder dat daar daadwerklik ag gegee word hierop.

Die Afrikanervolk het voor sy oë die lewenswandel van Godsvresende manne soos pres. Paul Kruger, M.T. Steyn, dr. D.F. Malan en dr. H.F. Verwoerd aanskou en gesien na watter hoogtes hierdie Godsvresende manne ons volk geneem het.

Ons kan terugkyk deur die geskiedenis en vra na ‘n enkele geval waar God sy kinders in die steek gelaat het waar hulle in nood was en Hom in waarheid aangeroep het en sal nie ‘n enkele geval kan noem nie.   Ons kan terugkyk na die koms van die Hugenote uit Europa, die Groot Trek, Vegkop, Bloedrivier, die Vryheidsoorloë en onthou dat ons ‘n God het wat Hom met ons bemoei.  Ons kyk na wat hierdie mense anders as ons gedoen het, en ons besef dat hulle gehoorsaam was, dat hulle God met ‘n volkome en opregte hart gedien het en dat hulle bereid was om die offers aan Hom te bring wat nodig was op daardie tydstip.

Ons kyk terug oor ‘n volk wat gelewe het as knegte van die Allerhoogste en hulle was teen die hele wêreld vry!  Hierdie was mense wat na God geroep het asof Hy kan hoor en red!  Hierdie was mense wat aan God gegee en afgestaan het, asof alles aan Hom behoort.  Hierdie was mense wat God gedien en liefgehad het, asof Hy die middelpunt van hulle bestaan was.  Hierdie was mense wat God gevrees het, asof Hy die Koning van hul lewens was en hulle sy dankbare en nederige diensknegte!  Hierdie mense was – my en u voorsate.  Hierdie mense se bloed, is die bloed wat deur my en u are vloei.  Hierdie mense was maar net mense soos ek en u, maar God was vir hulle die hoofsaak in hul lewens en nie ‘n blote bysaak nie!

Dit voel dalk vir u in u huidige omstandighede by die huis, by die werk of in u familiekring, asof u die enigste oorblywende is wat probeer om te doen wat reg is in God se oë?  Dit voel dalk vir u asof die hele Afrikanervolk wat op ‘n tyd so diep Godvresend was, heeltemal verstrik geraak het in die wêreld met sy begeerlikhede en dit mag dalk voorkom asof die enigste uitweg op oorlewing is om toegewings te maak in u lewe.  Laasgenoemde is egter die grootste fout wat u kan maak, want om beginsels prys te gee, het nog nêrens vryheid en lewe gebring nie, inteendeel dit is die eerste stap in die verlies van vryheid en die begin van verknegting.  Onthou, die prys vir die vryheid wat ons ontvang het, was ‘n dure prys wat Jesus Christus betaal het en ons mag dit nimmer oorweeg om toegewings aan die sonde te maak en weer daardeur verkneg te word nie, want Hy het ons juis daarvan vrygekoop.

Die verlossing van sonde word in die NT telkens vergelyk met die bevryding van die volk Israel uit die slawerny van Egipte.  Die ontstaan van ons Afrikanervolk is te danke aan die ingryping van God ten einde die Christendom te bevry uit die mag van die Roomse Katolieke kerk in die 16de eeu.  Dit is hier waar ons roeping as God se volk begin het om ‘n volk vir Hom te wees tot eer van sy Naam en solank as wat ons op ons roeping ag gee en dit ons lewensdoelwit maak, sal ons kan reken op God se hulp, redding en bystand!  “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”  (1 Pet. 2:9&10).

God het ons weg as volk op so ‘n wyse gerig, dat ons in Desember 1838 ‘n Gelofte afgelê het waarin ons onsself aan Hom verbind het as Sy eiendomsvolk en onderneem het om vir Hom ‘n heiligdom te wees waar Hy in ons midde kan woon (‘n huis vir Hom op te rig).  Ons voorouers het ywerig gebou aan hierdie huis van Hom, maar die satan het ingesluip om te kom afbreek en te vernietig.  Ons sien vandag hoedat die satan met aanvalle van egskeidings, korrupsie, bedrog, buite-egtelike verhoudings, moord, dronkenskappe, diefstal, verslawings, dobbelary, hoerery, tweedrag en dies meer felle aanslae afstuur ten einde die laaste paar boustene van hierdie heiligdom van God ten gronde te probeer rig.  Die vraag is vandag of ek en u op die vlug gaan slaan vir hierdie aanvalle en of ons dalk gaan probeer om met die vyand te onderhandel oor ‘n wyse waarop ons in vrede in God se heiligdom kan probeer saamwerk, asof laasgenoemde ‘n opsie is?

Ek dink ons almal weet wat die duidelike antwoord van God ook aan die oorblyfsel van die Afrikanervolk is – die antwoord wat ons geloof gaan beproef, offers gaan vra, maar wat ons baie nader aan Hom sal bring.  Die antwoord wat ons kan verwag wanneer ons opnuut onthou Wie die Hoeksteen van hierdie huis is waarop daar gebou moet word.  “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n  uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir die dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen  van aanstoot en ‘n rots van struikeling-“ (1 Pet. 2:4-7).

Die besluit wat vandag geneem moet word is of ons as oorblyfsel van die Afrikanervolk opgebou of uitgeruk wil word hier aan die suidpunt van Afrika, want ons gehoorsaamheid aan die Woord van God sal ons keuse en derhalwe ook ons volk se lotsbestemming bepaal!