Hannes Ollewagen
Jesaja 51:1-16
“LUISTER na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is. Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig.” (:1&2).
Onthou ons nog die rots waaruit ons gekap is? Ons moet dalk terugdink sover as die begin om te onthou dat die mens geskape is na die beeld van God. “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” (Gen. 1:27). Ons moet dink hoedat God die mensdom vernietig het deur die sondvloed, maar deur sy genade agt siele in die lewe gehou het. Ons moet dink hoedat God aan Abraham se nageslag in Egipte gedink het en hulle deur ‘n sterke Hand uit slawerny verlos het. Ons moet dink hoedat God hierdie verloste volk deur die see laat trek het op droë grond en hulle vir veertig jaar in die woestyn onderhou het.
Ons dink terug hoedat die volk van God in die OT gedurig van Hom afvallig geword het, maar wanneer hulle ellende hul begin verteer het, hul weer na Hom gewend het en beloof het om Hom getrou te dien. Wanneer die swaarkry vergete was, het die volk Israel maar weer teen God gesondig en van hulle voornemens om Hom getrou te dien, vergeet. Hierdie verskynsel het homself telkens herhaal totdat God ‘n finale oordeel oor Israel en Juda uitgespreek het en hulle oor die aarde heen versprei is omdat hulle nie instaat was om Hom getrou in liefde te dien nie.
Ons dink terug aan sy ontferming deur die volmaakte Koning vir sy volk na die aarde te stuur wat alle gelowiges in Hom kom verlos het van die mag van sonde. Ons dink hoedat Hy ‘n vlekkelose lewe gelei het en vir ons die voorbeeld gestel het om ‘n lewe van geregtigheid te lei. Ons dink hoedat Hy, sy vlekkelose lewe ten spyt, deur die wêreld verag en aan ‘n vloekhout vasgenael is om daarna selfs die mag van die dood te oorwin en op te vaar na die hemel waar sy troon gevestig is.
Ons dink op eie bodem hoedat God in sy voorsieningheid die Evangelie van Jesus Christus (die volmaakte Koning) van vernietiging gered het uit Europa en ‘n klein groepie mense aan die suidpunt van Afrika kom vestig het om hierdie hierdie Evangelie in die lewe te hou. Ons dink op eie bodem aan die Bloedrivier-wonderwerk en roemryke geskiedenis van die Afrikanervolk as draer van die Christendom as ‘n lig vir die nasies om die deugde van Hom in ons midde te kon verkondig. . .
Dit is ons gedagtes aan hierdie wonders uit die verlede wat ons harte vinniger laat klop en vir ons laat voel asof ons ‘n bestaansreg het hier op aarde. Dit is die gedagtenis aan ons geskiedenis, wat ons herrinner aan ons roeping en doel, wat ons nie laat skuldig voel oor onsself nie, maar laat hoop op die krag en genade, goedertierenheid en verlossing van ons God. Dit is die herrinering aan ons oorsprong, wat ons herrinner dat ons ‘n verdere eindbestemming as net môre en volgende week en volgende jaar het. Dit is die besef en fokus op ons werklike eindbestemming wat ons laat besef dat ons ‘n verantwoordelikheid teenoor God hier benede het om na te kom.
Is dit nie hartseer hoeveel mense reken dat jou geskiedenis van geen belang is nie? Mense reken verkeerdelik dat geskiedenis dinge is wat gebeur en afgehandel is en geen verdere invloed op jou lewe kan uitoefen nie en derhalwe vergeet moet word. Myns insiens is die groot rede hiervoor dat mense bang en skaam is oor hul foute en dit maar doodeenvoudig wil doodswyg, maar nooit bely en laat staan nie.
Dit is inderdaad so dat almal van ons verkeerde dinge in ons lewens doen en/of gedoen het waaroor ons (hopelik) baie skaam voel en dit liefs wil vergeet. Dit is egter van kardinale belang dat ons hierdie dinge nie probeer onder die mat invee nie, maar dit aan die voete van Jesus gaan neerlê terwyl ons Hom om vergifnis vir hierdie verkeerde optrede smeek. Dit is hier waar die keerpunt in my lewe kan plaasvind waar hierdie verkeerde dinge in my lewe my nie meer rondjaag nie, maar my laat terugdink aan die wonderlike genade wat Hy aan my bewys het deur my daarvan te verlos! Dit is dan wanneer ek wel van my slegte dade wil vergeet, maar nooit van my geskiedenis nie, want my geskiedenis sluit dan my wonderlike verhaal van bekering in wat my toekoms vir my ‘n hoopvolle toekoms maak om na uit te sien! My geskiedenis sluit dan my ontmoeting met my Saligmaker in – hoe durf iemand verwag dat ek daarvan sal vergeet!
Dit is ‘n fatale fout om te dink dat ‘n mens nie hoef te weet waar jy vandaan kom nie, want dit sal veroorsaak dat jy nie kan bepaal waarheen jy oppad is nie. Is die Bybel nie ook (alhoewel met groter Gesag) ‘n Boek wat vol geskiedenis is nie? Wat sal die uiteinde daarvan wees indien gelowiges die geskiedenis in hierdie Boek ook maar net vergeet of ignoreer as dinge wat gebeur het en geen verdere invloed op die toekoms kan uitoefen nie? Dit sal wees asof Christus weereens hier op eie bodem verag word, nie waar nie? “Wie die Woord verag, moet dit ontgelde;…” (Spr. 13:13).
Die vraag wat dan nou aan ons gestel word, is of die Afrikaner die rots kan onthou waaruit hy gekap is? Kan ons die wonderwerke in ons volksgeskiedenis onthou en die lotsbeskikking van God Drie-enig in die vorming en onderhouding van ons volk? Kan ons as volk ons Gelofte aan God onthou - dat ons onderneem het om vir Hom ‘n volkshuishouding op te rig tot sy eer?
Die antwoord op bogenoemde vrae is voor-die-hand-liggend wanneer ons die samelewing rondom ons aanskou. Daar is net ‘n baie klein oorblyfsel wat wel hierdie geskiedenis onthou en vashou aan die Rots waaruit ons gekap is. Dit is hierdie klein oorblyfsel wat in ‘n smelkroes geplaasi is om die onreinheid wat aan ons kom kleef het van ons af te smelt en om ons te louter en te suiwer as kosbare edelstene, ‘n egte diamant as versiering van ons Koning se kroon. “Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte.” (Spr. 17:3).
Die antwoord op die vraag of ons sterk genoeg is om hierdie foltering en suiwering as volk deur te maak, word deur die geskiedenis aan ons gelewer – defnitief nie, want daarvoor is ons as mense te swak en nietig.
Die bemoedigende boodskap dat sy genade, goedertierenheid en trou egter groot genoeg is om ons as sy eiendom deur hierdie smeltkroes met liefdevolle Vaderhande te dra, is ook te lese uit die geskiedenis. Dit is nie bevestigend uit die geskiedenis van die Afrikanervolk alleen nie, maar uit die ganse geskiedenis vanaf Génesis! Dit is juis alles te danke aan die klipharde Rots waaruit ons gekap is, dat onse God vir Homself diamante hieruit kan vorm.