VLUG VIR DIE AFGODEDIENS!

Hannes Ollewagen

1 Kor. 10:14-22

“DAAROM, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.”

Die Woord van God stel dit onomwonde dat Hy onverdeelde trou en toewyding van sy kinders vra.  Hy is ‘n jaloerse God wat eis dat ons Hom alleen sal dien, liefhê en eer.  God het ons as mense nie nodig nie en is allermins verleë daaroor dat ons Hom moet dien.  “En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep. (Luk. 19:40).  Die skepping sal sy lof verkondig wanneer die mens dit nalaat!

Dit het God egter behaag om die mens na sy Beeld en vir sy doel  te skape.  Dit is uit liefde vir die mens dat God die uitnodiging aan hom rig om Hom te dien, maar om die uitnoding te aanvaar, is elkeen se eie keuse.

Wanneer ‘n gelowige Homself aan God onderwerp en kies om Hom te dien en lief te hê, sal God in sy hart woon en ook van sy hart se troon af regeer.   ‘n Ware gelowige kind van God se lewe en besluite sal dus NOODWENDIG aan God se gesag onderworpe wees.  1 Kor. 6:19-20:  "Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”

Dit is belangrik dat elke gelowige kind van God sal onthou dat die satan alles in sy vermoë sal doen om hierdie heiligdom (hart) waarin God woon, binne te dring.  Hy sal met talle aanloklike voorwendsels probeer om jou hart weg van God af te rokkel.  Die satan se modus operandi is in die tuin van Eden blootgelê, dog slaag hy steeds vandag met groot welslae daarin om mense van God af te verlei op dieselfde slinkse wyse as in die tuin van Eden.

Ons leef in ‘n samelewing waarin politieke korrektheid en sosiale aanvaarbaarheid groter gewig dra as die Woord van God.  En dit is nie ‘n ongegronde mening nie, want selfs in die kerke word drastiese omwentelinge gemaak om die mens te akkomodeer en in die gehoor te streel, ongeag wat die Woord van God beveel.  Ek verwys op hierdie punt in besonder na die besluit wat die NGK oorweeg om die kerkraad se gesag te verhef bo die Skrifgesag!  Hierdie optrede getuig van mense wat hulself in hul grootheidswaan verhef bo die gesag van God se Woord eerder as om hulle in ootmoed aan die Woord te onderwerp.  “Wie die Woord verag, moet dit ontgelde; maar hy wat die gebod vrees, ontvang vergelding.” (Spr. 13:13).

Die toets van die ware karakter van ‘n man lê daarin opgesluit hoe hy sal handel wanneer hy die versekering het dat hy nooit uitgevind sal word nie.  Die toets van ‘n ware gelowige sal dus daarin lê of hy sal doen wat reg is voor God, selfs al sal dit ten koste van homself wees.  ‘n Ware gelowige sal doen wat reg is voor God, nie alleen wanneer dit volgens wetlike vereistes nie meer nodig is nie, maar selfs deur owerheidswetgewing verbied word.

Die direkte gevolg van ‘n goddelose regering is ‘n goddelose samelewing waarin wanorde en chaos seëvier.  Dit is sekerlik ‘n logiese gevolg wanneer elke mens in sy eie oë ‘n tipe van ‘n god geword het wat reken dat hy nie nodig het om enige gesag na te kom en te eerbiedig nie.

Die lewenswandel in bogenoemde paragraaf is egter vir enige ware kind van God afstootlik.  God se kinders verkies om in liefde en uit dankbaarheid aan God Drie-enig gehoorsaam te probeer leef na die beste van ons menslike vermoëns.  Hulle word nie geforseer om God te aanbid, te eer en te dien nie, maar doen dit vrywilliglik.  God se kinders kan Hom selfs in moeilike omstandighede met ‘n rustige hart dien, stil in die wete dat God die enigste ware Heerser in die hemel en op die aarde is en dat Hy die ganse wêreld in ware geregtigheid sal oordeel.  “Maar die HERE sit vir ewig; Hy het sy troon reggesit vir die oordeel.  En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke vonnis met reg.” (Ps. 9:8&9).

Dit is vandag weer die gulde geleentheid vir elke ware gelowige kind van God om ondersoek in te stel in sy/haar lewe ten einde vas te stel hoe rein daardie heiligdom (u hart) van God in u lewe is.  Sou u afgodery en boosheid daarin bemerk, moenie versuim om daarvan weg te vlug nie, want voordat u weer sien, is hierdie boodheid só tuis in u lewe dat daar geen plek meer vir God en sy gebod is nie.