Hannes Ollewagen
Maleági 1:1-14
“’n Seun eer die vader en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag?” (:6)
Ons bid tog so gereeld tot ons Vader wat in die hemel is en noem Hom ook ons hemelse Vader. Die vraag word dan ook vandag aan my en u gestel : As Hy vir ons ‘n Vader is, bewys ons aan Hom die nodige eer?
In ‘n samelewing wat uiters mensgerig geraak het, is die norm om God ons Vader te noem vir die eenvoudige rede dat ons mos maar na Hom kan gaan vir alles wat ons nodig het. Hy is daar wanneer ons begeertes openbaar moet word, maar dit is die enigste beeld wat ons van Hom as Vaderfiguur het – die Gewer van gawes.
Dit is natuurlik waar dat God as ‘n liefdevolle Vader vir ons voorsien in ons daaglikse behoeftes en selfs meer as net in dit wat ons benodig. Hy verwag egter meer as net ons alewige smekinge na ons vleeslike behoeftes – Hy verwag ons toegewydheid aan Hom. Hy verwag dat ons waardering sal hê vir dit wat Hy vir ons doen en vir sy onverdiende liefde wat Hy aan ons bewys. Hy verwag dat ons Hom sal eer. “Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.” (Ps. 50:23).
Ons Vader verwag van ons om nie maar net godsdienstig te wees soos die afgodedienaars nie. Hy verwag dat ons Godvrugtig sal leef en Hom met ons hele hart sal dien en liefhê. “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra;…” (Joh. 15:8). Hy verwag dat ons nie maar bloot sal bestaan hier op aarde nie, maar dat ons sal lewe! Hy het ons die lewe geskenk en ons is aan Hom gehoorsaamheid en toegewydheid uit ‘n dankbare hart verskuldig. Dit is nie vir Hom genoeg dat ons maar vir ‘n uur op ‘n Sondagoggend oor Hom sal praat by die gemeentesamekoms en sy lof net vir ‘n wyle hier sal besing nie. Hy verwag dat ons Hom daagliks met ons lewens sal dien en eer in alles wat ons doen – in my werk, in my gesinslewe, in my kinderopvoeding en selfs in my ontspanning. Ons kan laasgenoemde doen deur dankbaar te wees vir dit wat Hy aan ons toevertrou het en dit te bestuur asof in diens van Hom.
Alhoewel ons nie meer diere op ‘n altaar offer soos in die Ou Testamentiese tyd nie, beteken dit nie dat ons nie in vandag ook skuldig staan aan die aanklag van vers 8 van die gelese gedeelte nie. “En as julle ‘n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ‘n lam of ‘n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ‘n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare.” Hoe lyk die offers wat ek wel aan God bring? Ek bring dalk ‘n offer van tyd aan Hom, maar nie die beste van elke dag nie. Die enigste tyd wat ek het om aan Hom te offer, is daardie twee of drie minute wanneer ek vanaand in die bed klim om gou die kortste moontlike teksversie te lees en die gewone gebedsrympie af te ransel, want dan het ek my daaglikse offer aan Hom gebring. Dit was immers al wat ek oor gehad het van die 1 440 minute van die dag wat ek as gawe uit sy Hand ontvang het sonder dat Hy vergoeding daarvoor gevra het. Die enigste Sondae wat ek sal moeite doen om by my gemeente aan te sluit, is daardie Sondae wanneer my vriende almal dinge het waarmee hulle besig is en niemand anders as Hy vir my tyd het nie. Die enigste deel van my sake-onderneming wat ek aan Hom wy, is daardie gedeelte wat vir my soveel hoofbrekens besorg dat ek dit nie self kan hanteer nie en sy Raad en hulp nodig het. Die enigste deel van my kinders se opvoeding wat ek aan Hom wy, is om hulle te leer dat hulle my moet respekteer en eer, want dit is God se bevel wat “toevallig" my lewe baie makliker kan maak. . .
Dit is jammerlik om te sien hoedat mense bereid is om die duurste skoeisel vir die een sekulêre funksie na die ander aan te skaf, maar dit ‘n moeite is om netjies geklee na die huis van God te gaan. Daar wil ons sommer in kortbroeke en T-hemde gaan sit, want Hy gee mos nie om nie? Dit is duidelik dat God nie tevrede is daarmee om tweede viool in ons lewens te speel nie. Hy eis van ons om te onthou dat ons die nodige eerbied en vrees vir Hom moet koester en dat Hy nie met die tweede of laaste beste tevrede sal wees nie. Hy eis immers van ons dat ons Hom moet liefhê bo alles in ons lewens. “…Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” (Matt. 22:37&38).
God kon enige ander volk uitverkies het om sy eiendom te wees en sy deugde te verkondig, maar uit genade het Hy sy hand na ons volkie uitgestrek om ons as sy eiendomsvolk te berei. Hiermee bedoel ek nie dat ons die enigeste uitverkore volk van God is nie, maar dat ons wel ‘n volk is wat deur Hom geroep is as sy diensknegte.
Die tyd het verseker aangebreek dat ons geloof in Hom en ons diensbaarheid vir Hom weer die ereplek in ons lewens sal inneem, m.a.w. dat Hy weer die ereplek op die troon van ons harte sal inneem. Die tyd het aangebreek dat ons geloof in Hom en ons liefde vir Hom die hoofsaak van ons lewens sal word en nie ‘n bysaak nie. Dit is voorwaar tyd dat ons uit dankbaarheid aan Hom die nodige eer sal bewys vir die genade wat Hy aan ons bewys het! Hy is immers ‘n groot Koning en dit is derhalwe ons voorreg, en nie ‘n moeite nie, om Hom te eer en te dien!