Hannes Ollewagen
Jak. 2:14-26
“Want soos die liggaam sonder die gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.” (:26).
Suid-Afrika word algemeen as ‘n Christelike land beskou. Ek is geneig om hiervan te verskil aangesien die verval rondom ons van die allerverskriklikste goddeloosheid getuig. Ons is tans nog bevoorreg genoeg om Bybelstudie te doen, te bid en eredienste by te woon sonder om daarvoor vervolg te word, maar wat betref die uitleef van ons Christelike beginsels, word ons leefruimte ingeperk.
Wanneer ons ons kinders wil onderrig vanuit ‘n akademiese instansie met ‘n Christelike grondslag, word hierdie instansies algemeen teengewerk en word allerhande nie-Christelike leermateriaal op ons kinders afgedwing. Wanneer ons ‘n liefde vir ons eie toon en ‘n voorkeur het vir dit wat na aan my is terwyl ek in die proses my ook distansiëer van gelowe en kulture wat vir my vreemd en onaanvaarbaar is, is dit nie lank voordat die brandmerk van rassis op my sal val nie.
Ware gelowiges is egter nie veronderstel om deur moeilike omstandighede ontmoedig te word om aan God gehoorsaam te wees nie. Dit is juis in tye soos hierdie dat die onderskeid gemaak word tussen mense wat God waarlik wil dien uit ‘n opregte liefde en diegene wat maar net altyd vir die skyn daarvan godsdienstig was. God het geen behae in ‘n oppervlakkige godsdienstigheid nie, maar wel in ‘n ware kennis van Hom, gepaardgaande met ‘n opregte liefde vir Hom. Hierdie liefde wat ek vir Hom het, moet deur my lewenswandel betuig word. “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is,” (Jes. 29:13).
Ons weet dat geen mens deur goeie werke geregverdig kan word om die Ewige Saligheid te beërwe nie. Ons dink maar aan die rower aan die kruis wat deur geloof en genade alleen gered is. Hierdie was egter ‘n uitsonderlike geva wat vir ons bevestig dat ons redding nie van ons goeie lewenswandel afhang soveel as van God se genade nie. Desnieteenstaande getuig die hele Woord daarvan dat ‘n ware gelowige se dade ‘n getuienis moet wees van sy geloof in God. “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.” (Jak. 2:17&18).
Dit was dieselfde Jesus wat die bekeerde rower by Gólgota vrygespreek het en die lewe in die Paradys beloof het wat ook vir mense geleer het dat jou dade getuig van dit wat waarlik in jou hart en siel aangaan. “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.” (Matt. 7:16-18). So het die rower langs Jesus op Gólgota net betyds die vrug van bekering gedra deur die belydenis van sy skuldbesef en sy geloof in Jesus as die Regverdige. “ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar hy het niks verkeerds gedoen nie. En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” (Luk. 23:41-42). Sou ontkenning van sy verkeerde dade dieselfde redding vir hom tot gevolg gehad het?
Soos wat ‘n vrugteboom wat geen vrug oplewer nie eintlik maar nutteloos is, so word ‘n godsdienstige mens wat nie ‘n ware kennis van God en liefde vir Hom het nie, as lewendig-dood voorgestel. Alhoewel so ‘n persoon se vlees leef, is die gees van hierdie mens dood. Dit geld natuurlik ook vir ‘n volk wat in sy werke vrugteloos geraak het en in sy gees dood is.
Dit is ontstellend hoeveel Afrikaners vir ons geen vooruitsig, geen toekoms meer in ons Vaderland sien nie. Dit is asof mense maar net bestaan om elke dag deur te worstel. Is dit dalk omdat mense in hulle gees alreeds dood is? Is die volkshuishouding van die Afrikaner nie besaai met hope doodsbene nie? “En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ‘n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor. Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit.” (Eség. 37:2-3). Dit is asof daar ‘n moedelose lamheid op die Afrikanervolk neergesak het wat blyk hom selfs die lus om te leef, ontneem het. As ons enigsins hierdie platgeslane volk wil sien herleef, moet ons besef dat die lewensaar van hierdie herlewing alleen die Gees en krag van God is. “Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word.” (Eség. 37:4-6).
Nadat Eségiël sy geloof bely het dat God by magte is om hierdie hoop doodsbeendere te laat herleef, het God van hom verwag om sy geloofsbelydenis met ‘n geloofsdaad op te volg – hy moes oor hierdie doodsbene profeteer! So het Abraham ook nie alleen sy liefde vir God en geloof in God alleen met sy mond bely nie. Abraham het die opdrag wat God hom opgelê het, daadwerklik bewys. Hierdie geloofsdaad, eerder as ‘n geloofsverklaring, is hom tot geregtigheid gereken. “Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun op die altaar geoffer het nie?” Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?” (Jak. 2:21-22).
Dit is belangrik vir my en u om ook deurgaans ons geloofsverantwoordelikheid na te kom deur dade (optrede) wat strook met dit wat ons waarlik glo. Gehoorsaamheid hierin maak dalk van ons huidige geslag diegene wat deur God se Gees hul volksgenote uit die “grafte” van moedeloosheid, armoede, ellende, depressie, minderwaardigheid en ander kerkers uitlei terug na die Lig in die lewe wat ook oor hul lewenspad die ware Lig wil laat skyn. “Daarom, profeteer en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle bring in die land van Israel. En julle sal weet dat Ek die HERE is, as Ek julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE.” (Eség. 37:12-14).
Luister mooi – ‘n Individu, en so ook ‘n volk, wie se gees waarlik vry is, kan jy nêrens gevange hou nie. Die teendeel is ook waar. ‘n Individu, en so ook ‘n volk, wat in sy gees gebonde is, sal nêrens vryheid ervaar nie.
Onse Here Jesus Christus alleen is die ware Lig in die lewe. Mag Sy teenwoordigheid in my lewe só helder skyn dat dit die duisternis ook uit ander lewens, waar daar nie lewenslig is nie, laat verdwyn. Ek en u is self nie die Verlosser nie, maar ons kan vir ander die weg aandui na die Enige Verlosser en Saligmaker, hetsy met woorde of dalk deur ‘n lewenswandel en dade wat soveel gewig dra dat ander dit sal nastreef.