WEES VERSIGTIG, MAAR NIE STIL NIE

Hannes Ollewagen

Efésiërs 4:17-32

“Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” (:29).

Soms is dit lekker om net opsy te staan en luister. ‘n Mens kan soms nie anders as om te glimlag wanneer jy na twee kleuters luister wat met mekaar probeer kommunikeer nie. Dit is vir my so kosbaar om die onskuld in hulle gesprekvoering met mekaar te beluister.   Dinge kan só eenvoudig wees in ‘n kind se gedagtewêreld waar daar óf reg óf verkeerd is en geen tussenin nie. Dit gebeur ongelukkig ook dat daar uit kleuters se gesprekke krake van gebrekkige opvoeding deurslaan. Maar dit sal oneerlik wees om te ontken dat daar soms uit kleuters se monde ook dinge kom wat jy beswaarlik verwag om uit ‘n volwassene se mond te hoor!

‘n Uitdrukking wat sedert my kinderdae holrug gery is, is natuurlik dat ‘n mens tweemaal soveel moet luister as wat jy praat. Die samelewing sou dalk heelwat anders daar uitgesien het as ons hierdie raad gevolg het, of sal ek eerder sê - as ons maar net geluister het.

Ons kan soveel kosbare inligting deur te luister inwin. Dink maar hoeveel beter die verhouding tussen ouers en kinders sou wees as die televisie se rumoer in die aand stilgemaak word sodat ‘n gesin onder die geklank van die Woord gebring kan word rondom die huisaltaar. U sal verstom staan oor hoeveel hegter ‘n gesin saamgesnoer word wanneer daar rondom die tafel saam geëet word eerder as tussen die geblêr van ‘n televise. Alhoewel daar ook rondom die etenstafel meningsverskille kan voorkom, sal ouers met ‘n noukeurige oor oplet waaroor dit werklik gaan en dienooreenkomstig leiding kan bied.

Wanneer ons noukeurig na mense se woorde luister kan ons ook te wete kom wat baie diep in hul harte aangaan.   So sal ‘n persoon wat daadwerklik ‘n verhouding met God het en sy wette dag en nag in sy hart koester en oordink, onwaarskynlik praat oor sy drinkpartytjies, losse verhoudings of selfs bedenklike saketransaksies. Dit is eweneens ondenkbaar dat ‘n nederige en ootmoedige persoon die hele dag sou loop en praat oor sy uitsonderlike prestasies. Menigmaal onwetend, verraai mense deur hul woorde dit wat waarlik in hul harte aangaan. “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.” (Luk. 6:45).

So gepraat van ‘n gepratery. So beleef ons toe mos verlede jaar (2016) een van die ergste droogtes in ons land. En mense het d.m.v. e-posse, artikels, koerantberigte en elke denkbare sosiale kommunikasiemedium gevra om biddae vir reën te hou. Te midde van al hierdie wekroepe was daar maar min stemme vanuit die stof wat gevra het dat ons asseblief nie moet vergeet van die dankdae, sou God ons gebede beantwoord nie. Nodeloos om te sê dat die voorblaaie van die nuusmedia wel beskikbaar was vir biddae om reën, maar ons sal nog lank na die artikels oor die dankdae moet soek. So was daar sekerlik tien monde wat uitgeroep het om hulp, maar, was daar wel één wat in dankbaarheid neergekniel het?

Net soos wat die verkeerdheid wat in die vorige paragraaf beskryf word ooglopend is, is die besorgdheid oor wat in ons volksgenote se harte aangaan nie ongegrond nie. Asof die Afrikaanse taal nie ryk genoeg is aan beskrywende woorde nie is daar blykbaar deesdae net vier of vyf kru woorde wat aangewend word om “krag” aan menige spreker se uitdrukkings te gee. Hierdie is ‘n verskynsel wat die geestelike armoede onder ons nog duideliker as die gebrekkige taalkennis uitbasuin.   

Die vermaning in ons gelese gedeelte van vandag is wel tweeledig. Eerstens is dit om te waak teen die gebruik van onversigtige woorde. Daarnaas word ons ook aangespoor om in versigtigheid die regte woorde te spreek om mense tot inkeer te bring en in liefde te berispe. “...maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” Hierdie verborgenheid om mense met goeie oorleg tereg te wys deur verstandige lering is ‘n les wat die wyse heerser , koning Salomo, wel ter harte geneem het. Hy het ook gemeen om hierdie kosbare les met die nageslagte te deel. “Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer;... Die lippe van die regverdige help baie mense reg;... “ (Spreuke 10:20&21).

Ons leer nie verniet uit Jakobus 3 dat een van die grootste uitdagings vir die mens is om te leer om verstandig met sy woorde om te gaan nie. “Want ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou.” (:2).

Só dikwels hoor ons die talle vrae rakende die onsekere toekoms van die Afrikaner. Hoe lyk die toekoms van die Afrikaner? Is daar hoop vir die Afrikaner? Waar begin ons in ons vryheidstrewe om te ontkom aan ‘n heidense juk wat ons opgelê is? Dit is dalk nodig om by hierdie groot uitdaging wat aan ons in Jakobus 3 gestel word te begin. As ons kan leer om met die tong die ongeregtigheid aan die brand te steek en vernietig, en mekaar eerder op te bou en bemoedig in plaas van ongeregtigheid te vermeerder en mekaar te belaster en beswadder, neem ons só meer beheer oor ons omstandighede en toekoms as wat ons besef.

Dit is waarskynlik dat ek en u nog menigmaal in woorde gaan struikel. In ons strewe na volmaaktheid volgens die voorbeeld van ons Leidsman, Jesus Christus, kan ons egter vandag die keuse maak om ons woorde voortaan meer versigtig te weeg. Dit is ‘n goeie begin om deur ons woorde die aangename verskil rondom ons te bewerk wat ons en ons hemelse Vader graag sal wil sien. “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.” (Kol. 4:6).

Wie weet of die sout in ons woorde nie die wondergeneesmiddel vir ‘n swaargewonde volk is nie? Ek kan daarvan getuig dat Jesus se woorde al menigmaal vir my genesing gebring het selfs in die mees ondenkbare omstandighede. Ek sal daarom nie verbaas wees nie as die herstel van ons volk by ‘n suiwer en welgesproke woord as eerste tree begin. Waar beter sal ons dan ook soek na die regte woorde as juis in die Woord van God? “Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.” (Ps. 12:7).