ONS EIE VOOROPGESTELDE IDEES KAN OOK ONS Oë BEDEK
Hannes Ollewagen
Lukas 19:29-44
“...As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.”
Nadat die volk Israel uit Egipte gelei is, het God sy uitverkore volk in vele opsigte groot en roemryk gemaak. Hy het vir hulle groot oorwinnings in oorloë bewerk en die volk ook geseën met goeie en wyse konings wat hul ryksgebied uitgebou en versterk het. Ons dink byvoorbeeld aan koning Salomo na wie mense van oraloor in die wêreld na hom gereis het om hom te raadpleeg. En hoe is God se heilige, wonderlike Naam nie hierdeur verheerlik nie! “Geloofd sy die HERE u God wat behae in u gehad het om u op die troon van Israel te laat sit! Omdat die HERE Israel vir ewig liefhet, het Hy u as koning aangestel om reg en geregtigheid te doen.” (1 Kon. 10:9). Dit was natuurlik waartoe God sy volk verordineer en geroep het – om sy heilige Naam hier op aarde te verheerlik.
Namate Israel se heerlikheid gegroei het, het sy liefde vir God, sy noue verbintenis met God, begin kwyn. Dit blyk namate Israel se voorpoed toegeneem het, het hy al meer op sy eie vermoë begin steun en daarom al hoe minder op God vertrou. Dit het aanleiding gegee tot ‘n verkoeling van sy liefde vir God. Israel se ingesteldheid van ‘n geestelike erfenis en rykdom moes plek maak vir dié vooropgestelde idee van ‘n verganklike erfenis en rykdom wat hom in ‘n feitlik geestelike bankrotskap laat beland het. Só erg het hierdie volk se geestelike oppervlakkigheid geraak dat God hul oorgegee het om deur heidene in ballingskap weggevoer te word.
Hierdie verowerde volk moes nou daagliks hard arbei net om die opbrengs van hul arbeid aan heidene te lewer. Hierdie volk het egter in hul moeilike omstandighede die belofte van ‘n Verlosser gehad waaraan hulle kon vashou. Ongelukkig het Israel se geestelike afgestompdheid tot gevolg gehad dat hulle nie hierdie Verlosser herken en dan uiteindelik erken het toe Hy wél sy opwagting gemaak het nie.
Israel se vooropgestelde idee van die beloofde Verlosser was ‘n sterk militêre en staatkundige held wat met mag die Romeinse juk waaronder hulle in daardie tyd diensbaar was, sou kom afwerp. Daardie dag waarop die beloofde Verlosser sy intog in die moederstad – Jerusalem - gemaak het, was die grootste deel van Israel se oë só bedek deur hul hul eie vooropgestelde idee van hierdie Verlosser dat hulle Hom nie eens herken het nie. Dit kan ook wees dat hul eiesinnigheid hul harte só verhard het dat hulle Hom nie wou erken nie, want dit sou beteken dat hulle baie van hul eie idees en strewes sou moes laat vaar ter wille van diensbaarheid aan sy koninkryk! En hoe groot was die prys nie wat hulle uiteindelik vir hul kortsigtigheid moes betaal nie – hul erfdeel in die ewige koninkryk van God!
Die verskynsel in die voorafgaande paragraaf het nie by die volk Israel geëindig nie. ‘n Noukeurige ondersoek na die lewe van kerkmense kan soms die tragiese toneel skets van hoeveel dinge in die geskiedenis onveranderd gebly het en dit ten spyte van die eindelose lesse uit die geskiedenis! Ons bevind onsself ook tans binne-in ‘n samelewing waarin soveel mense se oordrewe klem op die uiterlike, hulle innerlike skoonheid en welsyn oorskadu. Kyk hoeveel kerkgangers hulself uitmergel om mense na die uiterlike te probeer beïndruk. Soms so erg dat dit hul selfs tot oneerlikheid, leuens, bedrog en ander skandelikheid dryf. Meesal is dit om die uiterlike vertoon of hul eie strewes te handhaaf in plaas daarvan om te vra na God se wil vir hul lewens. Leer Christus dan nie juis vir ons dat sy las lig is en dat sy juk ‘n sagte juk is om te trek nie? “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:28-30).
Ek wil veral die klem op laasgenoemde teksvers uit Matthéüs lê. Dit blyk dat die gemiddelde Afrikaner in sy leeftyd bykans R 5 000 000.00 (vyfmiljoen rand) aan rente sal betaal. Hierdie klink vir my nogal na ‘n harde juk om te trek. Die hartseerste hiervan is dat mense in menige gevalle vrywillig onder hierdie juk inklim. net om die wêreld te probeer beïndruk. Ek moet mos die nuutste motor ry of die nuutste tegnologiese toerusting besit of net ‘n sekere handelsmerk klere dra. My kind moet mos elke liewe sportaktiwiteit bywoon, want dit is waarvoor kinders deesdae op skool eer ontvang. In sommige gevalle word kinders selfs ingespan om die doelwitte van ouers te bereik waarby hulself as kinders nie kon kom nie. Boonop sal my kind universiteit toe gaan, hetsy hy/sy geroepe is deur God vir ‘n beroep, al dan nie.
Op hierdie manier raak mense eindelik só verstrengeld in hul eie strewes dat hul nie meer al die kosbare dinge waarmee God hul in die lewe omring, raaksien nie. Daar is nie meer tyd om saam met geliefdes net lekker saam te kuier en opreg vir mekaar om te gee nie. Daar is nie meer ruimte in my beroep om God diensbaar te wees nie, want my enigste ingesteldheid is op Mammon ten einde al die rekeninge en rente te kan betaal. Dit is dan ook nie lank voordat die satan dit regkry om vir mense in hul binneste die twyfel te saai of God hul dan nie waarlik liefhet nie, want as Hy hulle liefgehad het, waarom sou hulle so swaarkry? Dieselfde verhaal wat homself in die Paradys afgespeel het. God gee aan die mens meer as wat nodig is en ook die nodige waarskuwings met grense daarby. Die mens maak die besluit om dit te ignoreer en aan God ongehoorsaam te wees en aan die verkeerde begeertes toe te gee. Kort voor lank word die skuld voor God se deur gelê en dit terwyl die satan met sy misleiding en die mens met sy blindheid die rede vir die swaarkry is.
Ek wil u vandag daaraan herinner dat ons as God se kinders geroep is om sy deugde en heerlikheid deur ons lewens te verkondig. Ons doen laasgenoemde nie deur een of ander oppervlakkige of skyn-glansryke manier nie, maar juis in nederige gehoorsaamheid aan die Woord van God. As ek u sou vra om in alle eerlikheid in retrospek na u lewe sedert die begin van 2017 te kyk, hoe sou u werke daar uitsien? Hoeveel ywer, moeite en inspanning het u gekanaliseer om uiterlike, verganklike en ydele strewes te verwerklik en hoeveel moeite het u gedoen om daagliks aan God diensbaar en gehoorsaam te wees in dit wat u aanpak?
As ons nie vandag kan sien dat God daadwerklik besig is om hierdie “glansryke” ydelheid binne die Afrikanervolkshuishouding af te breek nie, is ons waaragtig stokblind! “Hoogheid van oë en trotsheid van hart – die glans van die goddelose is sonde.” (Spr. 21:4). Dit is droogte, vloede, pes onder die gesaaides, orkane, universiteite wat brand. Dit is die bloed van bejaardes, jonges, mans, vrouens en selfs suiglinge wat vloei terwyl ons swaar belas word om ‘n heidense staatsbestel te finansier.
Ek vra u dan opnuut : Hoe lank sal ons aanhou ywer aan ‘n ydele glansrykheid alvorens ons oë sal oopgaan om te besef wat dit is wat waarlik tot ons en ons nageslag se heil en vrede sal dien? Die evangelie van Verlossing is daar, maar ons moet die keuse maak om die sware wêreldse juk af te werp ten einde die sagte juk van ons Verlosser op te neem.