NET EEN REGTE MANIER

DAAR IS MAAR NET EEN MANIER EN DIT IS DIE REGTE MANIER

Hannes Ollewagen

2 Sam. 12:1-31

“Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het.” (:9).

Die ou gesegde lui: “Goeie dinge neem tyd.” Dink maar vir uself. As u nou regtig ‘n lekker maaltyd wil geniet, sal die voorbereiding daarvan gewoonlik ‘n tydjie neem. Indien u goeie werk in u beroep wil lewer, sal u klante of kliënte maar geduldig moet wag terwyl u met die nodige sorg aan ‘n goeie eindproduk arbei. So maak ons dan ook dag na dag kennis met verskeie mense en kom met baie van hulle goed oor die weg, maar daar is in ons lewens net ‘n paar mense wat met verloop van tyd ware, goeie vriende geword het.

Ons het onsself in die hedendaagse lewe laat verstrik in die gejaag na nietigheid. Dit is alewig ‘n harwar om alles gedaan te kry, maar dit is tog ironies dat daar in hierdie gejaagde lewensomstandighede weinig vooruitgang te bespeur is. Inteendeel, die verval en agteruitgang op geestelikse, sedelike, morele, sosiale en ekonomiese gebied is duidelik rondom sigbaar. Die rede hiervoor is natuurlik omdat ons op verskeie lewensterreine daaraan gewoond geraak het om na kortpaaie te soek in plaas daarvan om na die regte manier van optrede te soek.

In die gelese gedeelte was Dawid vir ons ‘n sprekende voorbeeld. Terwyl sy manskappe besig was om oorlog te voer teen die kinders van Ammon, het Dawid in Jerusalem owerspel gepleeg en dit boonop met die vrou (Bátseba) van een van die manskappe (Uría) wat getrou vir sy koning geveg het. Bátseba het daardeur swanger geraak met koning Dawid se kind. Dawid het gemeen om sy misstap met ‘n kortpad reg te stel deur Uría van die slagveld te laat terugkeer, hom te onthaal, dronk te maak en na sy vrou terug te stuur.

Uría se getrouheid aan die koning en sy weiering om na sy vrou te gaan terwyl die manskappe van die koning in gevaar verkeer, was egter vir Dawid ‘n hindernis langs hierdie kortpad. Dawid besluit toe om homself tot ‘n ander kortpad te wend en beland hierdeur op die dwaalspoor waar hy besluit om Uría in die geveg te laat vermoor ten einde die skande van sy eie oortreding te probeer vryspring.

Na afloop hiervan gaan die profeet Natan na Dawid en lê aan hom ‘n saak voor waarop hy die koning se oordeel verlang. Koning Dawid is briesend oor die ooglopende ongeregtigheid waarvan die profeet hom vertel en fel ‘n strawwe oordeel oor die saak - sonder enige wyfeling. En dit is hier waar die profeet se woorde Dawid met ‘n kolskoot tref om hom tot besinning te bring – “U is die man!”. Dawid besef opslag met die aanhoor van die man van God se woorde dat sy ongeregtighede nie God se oog en regverdige oordeel ontgaan het nie. Ten spyte van die feit dat hy ‘n liefling in God se oë was, was hy steeds aan God se regverdigheid onderworpe.

Dawid besef dat hy God deur sy optrede diep teleurgestel het en Hom deur sy ongehoorsaamheid verag het.   In verse 7 tot 9 van die gelese gedeelte stel God dit aan Dawid duidelik hoedat Hy die Een was wat hom deur sy lewe op die regte lewenspad gelei het en op groot hoogtes gestel het. Hy wys egter vir Dawid daarop dat sy keuse om God se leiding op die pad van geregtigheid te verlaat ‘n daad van veragting teenoor Hom was.

Dit bring my by die volgende vraag: “Hoeveel kerkgangers en gelowiges maak hulself nie ook vandag nog hieraan skuldig nie?” Mense gaan kerk toe en word dalk hier aangespreek oor ongeregtigheid en dwaling in hul lewens waardeur hulle veronderstel is om tot die besef te kom dat hierdie verkeerdheid voor God se oë nie verborge is nie. Maar hoeveel mense is bereid om soos Dawid in diepe berou voor God belydenis van hul ongeregtigheid te doen en dit te laat staan en hoeveel mense verkies om hul maar eerder doof te hou vir die aanklag of vermaning wat opklink? Daar is selfs diegene wat verkies om die uitdraai pad te neem omdat hulle dalk nie hou van die onaangename konfrontasie met hul verkeerdheid nie.

Menige mense probeer soos Dawid eers allerhande ompaaie om hul ongeregtigheid te ontvlug, maar dit sal in alle geval in ‘n doodloop eindig aangesien daar net één regte weg tot herstel is en dit is die weg van vergifnis en versoening met God die Vader deur Jesus Christus. “...Ek is die weg en die waarheid en die lewe; ...” (Joh. 14:6). Ontkenning van sonde in ons lewens sal ons niks baat nie; dit is inderwaarheid veragtelik omdat ons God daardeur tot leuenaar maak. ‘n Ware berou en skuldbelydenis van ons sonde sal lei tot ons reiniging daarvan.   “AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1 Joh. 1:8-10).

Moenie die fout maak om u doof te hou vir die wekroep van deeglike selfondersoek, bekering en herstel in u lewe nie.   Moet ook nie probeer om u foute langs die dwaalweë van drankmisbruik, werkverslawing, beheptheid met prestasie, genotsug, materialisme of watter ander wyse ookal te ontvlug nie. Erken eerder u ongeregtighede sodat u lewe ook herstel kan word en dat u die regte rigting langs die weg van die lewe onder leiding van die getroue Herder kan vind.