BLY VLEKKELOOS

Hannes Ollewagen

Jakobus 1:19-27

Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld. (:27).

Hierdie duidelike riglyn uit die Woord bring weer perspektief in tye van misleiding en verwarring wat ons samelewing kenmerk. Almal is mos deesdae met een of ander vorm van godsdiens besig. Dank die Here vir hulle wat dit in waarheid doen en besorg is oor siele wat verlore gaan, maar wee hulle wat dit om vuil gewin doen en in die proses soveel verwarring bring.

Die Woord stel dit vir ons duidelik wat die ware Godsdiens behels. Ons lees in Ps. 50 van die ware gelowige se afhanklikheid van God, sy vertroue op Hom, dankbaarheid en trou teenoor Hom en dat n gelowige aan God al die eer sal bring.

Ons lees ook in Jakobus dat die ware geloof veel meer as net lippediens is, maar dat ons diensbaarheid aan God deur ons dade sigbaar moet wees. God se ontferming oor die weerloses (weduwees en wese) blyk duidelik uit sy bevel dat gelowiges hierdie mense goed moet versorg. Dit herinner tog aan Hom wat ons as mense ook gehelp het omdat ons uit onsself by onvermoë is. Daarbenewens beveel die Woord ook dat ons diensbaarheid aan God sigbaar sal wees daarin dat ons onsself vlekkeloos van die wêreld sal bewaar, m.a.w. dat ons n rein lewe sal lei en die heiligmaking sal nastreef. Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; (Heb. 12:14).

Ja, maar jy kan nie jou plek in die hemel met n vroom lewe verdien nie, sal menige mense sê. Ek weet en verstaan dit. Uit genade is ek gered toe ek nog onbewus was van die grootheid van my skuld en verlorenheid het Hy my besoek om aan my die bekering te skenk. Die feit dat ek dit (die gawe van bekering en verlossing) sonder prys ontvang het beteken nie dat ek dit nie moet koester en geen waardering daarvoor moet hê nie. Inteendeel, as ek nie n diepe dankbaarheid teenoor God het vir hierdie gawe nie moet ek selfondersoek instel oor die waarde wat ek aan hierdie gawe van die ewige lewe heg. n Seun wat n handelsaak, plaas of iets dergeliks van sy pa erf sal tog uit sy handelswyse met hierdie erfporsie laat blyk hoeveel waardering hy daarvoor het en hoeveel waarde hy daaraan heg. Die feit dat hy dit gratis ontvang het beteken nie dat hy moet kyk hoe vinnig hy dit kan vernietig nie. En as hy dit nie koester nie kan hy verseker wees dat hy sy erfdeel voor sy dood kwyt sal wees.

Daar is geen geld of ander prys wat ons van die skuld van sonde kon vrykoop nie. Alleen die kosbare soenbloed van Christus Jesus, die geliefde Seun van God, was hiervoor voldoende. Sy bloed moes vloei sodat ons daarin gewas kon word om ons te reinig dat die Satan geen verdere aanklag teen ons kan hê nie. Ons moes skoongewas word van n vuil lewe sodat ons met n nuwe kleed (lewe) oorklee kon word. En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan. Daarop het Hy aangeheg en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere. (Sag. 3:3-4).

Ons as gelowiges het die verantwoordelikheid om hierdie feeskleed wat ons aangetrek is rein te hou. Dit is n groot uitdaging in die samelewing waarin ons woon wat met vuilheid oorspoel word. Dit is in tydskrifte en koerante, oor die radio, op die televisie, in mense se gesprekke, in die skole en feitlik elke lewensterrein. Maar ons word deur die Woord beveel dat ons nie met die sondes van ander gemeenskap moet hê nie ten einde onsself vlekkeloos van die wêreld te bewaar. ...en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein. (1 Tim. 5:22).

Wees egter verseker dat die lyding en die opoffering in hierdie lewe nie opweeg teen die heerlikheid en loon wat op die oorwinnaars wag nie. Moenie deur ander se ongeregtigheid ontmoedig word soos wat koning Asaf ook gedoen het nie. ...Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is. Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien. (Ps. 73:1-3).

Fokus u eerder daarop om u eie lewe voor die Here rein te hou en toenemend vir Hom te heilig in afwagting op sy wederkoms. Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. (Open. 22:11-12). Ons weet dat hulle wat met sy koms nie met n bruilofskleed geklee is nie in die buitenste duisternis uitgewerp sal word en geen deel in sy bruilofsmaal sal hê nie. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. (Matt. 22:11-13).