Hannes Ollewagen
Exodus 14:1-31
“En jy, het jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek.” (:16).
Hierdie spesifieke pad wat Israel moes volg na die beloofde land was nie die enigste pad vanaf Egipte na Kanaän nie. Tog was dit die pad wat God wou hê waarmee hulle moes trek, omdat Hy sy mag langs hierdie weg aan die kinders van Israel sou vertoon. “Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg.” (:31).
Egipte is natuurlik simbolies vir swaarkry, lyding en slawerny in die Woord. En hoewel baie mense onder die indruk verkeer dat daar in die hedendaagse tyd nie iets soos slawediens bestaan nie is hulle tog slawe – slawe van die sonde. “Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword.” (2 Pet. 2:19). Trouens, die meeste van ons was in hierdie bande van slawerny vasgevang in ‘n hopelose toestand totdat God ons in sy grote barmhartigheid daaruit gelei het.
Die volk Israel moes vanuit Egipte deur die see (water) trek wat natuurlik reiniging simboliseer. Net so moes die volk onder Josua se leiding weer deur die Jordaan (water) trek voordat hulle die beloofde land kon beërwe. ‘n Sondaar mens wat tot bekering kom en uit die slawerny van ‘n bedorwe lewe wil ontvlug moet ook gereinig word – gereinig deur die suiwer Woord van God wat jou silwerskoon sal was. Dink maar aan Christus se antwoord toe Petrus wou weier dat Jesus sy voete was. “...Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie.” (Joh. 13:8). En dit maar net omdat Hy nie op daardie stadium besef het waarmee Jesus in sy lewe besig was nie.
Hy wat hom nie deur Jesus laat afwas nie het geen deel aan Hom nie en sal nie die ewige lewe kan beërwe nie.Wanneer ons egter die lering van God uit die Woord aanneem, word ons daardeur rein gewas van ons vuile lewenswandel. “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.” (Joh. 15:3).
Ware bekering beteken nie dat ons gou uit Egipte trek wanneer die diens vir ons te swaar raak net om‘n vinnige draai in die see gooi en daarna weer tot Egipte (ons ou verkeerde weë) terug te keer nie. Dit beteken eerder dat ons daardie ou en verkeerde lewenswyse vir goed sal afwas deur ons lewe, hart, siel en gees met die suiwer Woord te reinig en te heilig. “om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,” (Efés. 5:26).
Wanneer ons hiertoe bereid is – dat die Woord ons van ons onheiligheid reinig, word ons al meer en meer bruikbare instrumente in die Hand van die Here. “As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ‘n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.” (2 Tim. 2:21).
Ek hoop dat u ook daartoe bereid is om die Here ten volle te vertrou op die weg waarlangs Hy u lei. Wanneer ons soms nie die weë en leiding van die Here verstaan nie, moet ons tog onthou dat Hy nie ons leiding of raad vra nie, maar ons nederige gehoorsaamheid.