DEUR ‘N STERKE HAND UITGELEI

Hannes Ollewagen

Exodus 13:1-16

“Verder het Moses aan die volk gesê: Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgegaan het; want die HERE het julle deur ‘n sterke hand hiervandaan uitgelei; daarom mag geen gesuurde brood geëet word nie.” (:3).

Die ooreenkoms tussen die geskiedenis van die volk Israel en diévan ons eie Afrikanervolk is net heeltemal te duidelik om dit mis te kyk. Hoe is dit dat daar steeds diegene is wat hierdie boodskap wat die HERE vir ons hierdeur gee en wat ook ons geroepenheid as volk duidelik uitstip, wil ignoreer?

Ons leer uit geskiedenisboeke van ‘n volk in die 1900’s aan die Oosgrens wat in baie slegte omstandighede verkeer het. Hierdie omstandighede waarin hulle eiendom geplunder en geroof is, waarin hulle aangeval en vermoor is en waarin die owerhede onwillig was om vir hulle in die bres te tree, het tot gevolg gehad dat hierdie burgers koers gekies het. Waar hulle uiteindelik rus sou vind was vir hulle verborge, maar dat hulle die omstandighede van ongeregtigheid rondom hulle nie meer kon of wou verduur nie was ‘n uitgemaakte saak.

 

Wanneer ons praat van omstandighede van ongeregtigheid, roof, plundery en verdrukking klink dinge al te bekend. Hierdie is alles dinge waaraan ons vandag weer op ‘n daaglikse basis blootgestel word, maar so ook was die volk Israel in Egipte baie goed daarmee bekend. Ons lees in vers 15 van die swarigheid waarmee die Farao van Egipte die volk Israel diensbaar gemaak het. Maar ons lees in hierdie selfde vers dat God hierop ag gegee het en hoedat Hy met ‘n sterke hand hierdie Farao bestry het om sy volk uit te red.

Het ons al ooit daaraan gedink hoe dit gekom het dat God na 400 jaar besluit om op die volk Israel ag te gee? Is Hy dalk op die een of ander wyse aan iets herinner soos byvoorbeeld dat Hy met ‘n eed aan Abraham beloof het om vir sy nageslag ‘n God te wees? “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees. Verder het God aan Abraham gesê: Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag.” (Gén. 17:7-9).

Hierdie belofte het God ook aan Abraham se seun, Isak, bevestig. “Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het.” (Gén. 26:3). En net so het God hierdie selfde eed aan Jakob, Isak se seun, bevestig in die woorde van Génesis 28:13-15:”En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.”

Ons weet natuurlik ook hoedat God dit so beskik het om deur die hand van Josef hierdie groeiende volk in die lewe te hou in ‘n tyddat daar groot hongersnood oor die wêreld gekom het. En as werktuig in sy Hand het God ook hierdie verbond van Hom met die aartsvaders met hierdie seun van Jakob gedeel. Wat meer is, is dat God vir Josef laat sien het dat Hy die kinders van Israel uit Egipte sou lei selfs nog voordat hulle in slawerny beland het. “En Josef het aan sy broers gesê: Ek gaan sterwe, maar God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het.” (Gén. 50:24). Daarom was dit vir die kinders van Israel nodig om ook in hulle tyd van slawerny en swaarkry in Egipte vir God aan sy beloftes te herinner sodat Hy aan Sy eed sou dink. ‘n Lering uit Jesaja 62:6&7 wat ons gerus ter harte kan neem! “...o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!”

Nadat God op sy volk se ellende ag gegee het, het hy ‘n man met die hand uitgesoek om na die Farao van Egipte te stuur met die bevel dat hy die volk Israel moet laat trek. Hierdie Farao het natuurlik nie dieselfde ontsag vir God gehad as die kinders van Israel nie en sou hom nie aan Moses se bevel steur nie.

Inteendeel, Farao het God se bevel om Israel te laat trek eerder as ‘n uitdaging beskou en die werk van die Israeliete swaarder gemaak as antwoord op Moses se versoek dat hy die volk sou laat trek. Natuurlik sou God hom nie deur hierdie heiden laat vermaak nie en sou op sy eie tyd met hom afreken. Ek en u kan dalk wonder waarom God nie sommer met die eerste plaag al sy volle toorn en grimmigheid op Farao laat neerdaal het nie. En tog besef ons na afloop van die geskiedenis van Israel se uittog uit Egipte dat God se handelswyse, soos altyd, net ‘n onverbeterlike meesterstuk was.

Hierdie meesterlike wyse waarop God telkens sy planne ten uitvoer bring, is digterlik deur wyle professor JD du Toit in sy gedig “DINGAANSDAG” as volg verwoord:

“En bo die onheilsnag, waar sterre, na hul wag, die hoë pos verlaat. Sit God wat planne bou – Hy in Sy wonderdaad almagtig!”

Na die uittog uit Egipte het die volk Israel ‘n paar dekades later die beloofde land, Kanaän, binnegetrek. Dit is tragies om te lees hoedat hierdie volk se hart ontrou teenoor God was en hoedat hulle sy weldade met dade van ontrou en afgodery beantwoord het. Hierdie ontrou van Israel teenoor God het telkens weer daartoe aanleiding gegee dat hulle onder die juk van diensbaarheid gebring is.

Terug op eie bodem vertel ons Afrikanervolk se geskiedenis ‘n ewe roemryke en tragiese storie. ‘n Roemryke verlede van mense wat sou buig-of-bars om trou te wees aan hulself, aan hul volk en aan hul God. Daarenteen is daar ook ‘n tragiese verhaal van ‘n volk wat deur God se almagtige wonderdade ook ‘n eie erfenis ontvang het waarbinne ons tot sy eer kon leef en groei. Maar met die verloop van tyd was ons harte ook ontrou teenoor God en het die dinge van die wêreld voorrang bo God se wil oor ons begin geniet. Voordat ons ons kom kry, was ons in diensbaarheid gebring sommer binne ons eie vaderland.

Kyk ons rondom ons, sien ons mense in slawerny. Mense wat gevang is in slawerny van sonde – die Farao van ons tyd! ‘n Harde meester wat jou nie sommer sal laat vrykom wanneer hy jou eers in sy greep beetgekry het nie. Ons leer in Joh. 8:34 van hierdie slawerny: “Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is.” Die tekens van mishandeling en swaarkry onder hierdie dwingelandy is duidelik waarneembaar, maar om uit hierdie toestand pad te gee is vir menige volksgenoot nog nie ‘n uitweg nie. Alhoewel daar oor die slegte toestande en ellende gekla word, is weinig tot die opofferings en stryd vir vryheid bereid.

‘n Grondige kennis van die Woord van God laat ons egter ook in hierdie uitsiglose toestand moed skep en lig in donker tye sien. Ons kan raaksien hoedat ook hierdie Farao van ons tyd deur God getroef is deurdat sy mag gebreek is deur God se eie, geliefde Seun – onse Here Jesus Christus. Dit word vir ons bevestig in die woorde van Matt. 1:21:”...want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Hierdie Christus wat deur Johannes die Doper as die nuwe Leidsman na ons ewige erfenis aangekondig is: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Die verhewenheid en goddelikheid van God word telkens daarin openbaar dat Hy trou bly selfs wanneer ons as mensekinders ontrou is soos wat ons uit 2 Tim. 2:13leer: “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” Ten spyte van die feit dat Abraham se nageslag aan God ontrou was, het Hy getrou gebly en hulle die beloofde land laat beërwe. En wat meer is, is dat ons uit Exodus 13 leer dat God aan Moses opdrag gegee het dat die volk al die eerstelinge vir God sou heilig na hul uittog uit Egipte as ‘n dankbare nagedagtenis vir Sy verlossing uit hul slawerny. Hulle moes egter die eersgeborenes van hul seuns loskoop. Eeue later sou God Sy trou en goddelikheid bevestig deurdat Hy Sy eie eersgeborene nie sou loskoop nie, maar Hom ten behoewe van ons sou offer om die sondemag van Satan ‘n nekslag toe te dien.

Die dankbaarheid van Israel vir hul verlossing moes volgens vers 16 van Exodus 13 as ‘n teken op hul hand en as ‘n voorhoofsband tussen hul oë waarneembaar wees. Dit laat noodwendig die volgende vraag by myontstaan: “Hoe lyk ons teken van dankbaarheid vir ons verlossing?” Die teken op ons hand en voorhoof, m.a.w. hoe lyk ons dade, ons optrede, dit wat ons met ons hande verrig? Is dit optredes wat getuig van diepe dankbaarheid teenoor God wat neerslag vind in dade wat van ‘n duidelike diensbaarheid aan God getuig of is dit hande wat vinnig is om kwaad te doen?

Dit wat ons doen, het gewoonlik sy oorsprong in dit wat in ons hart en gedagtes aangaan en daarom verdien ons gedagtes ook deeglike ondersoek na wat daarin gekoester word. Dit is om hierdie rede dat Paulus in sy brief aan die Filippense hulle daarop attent maak om hul gedagtes in die regte rigting te stuur – omdat dit uiteindelik tot getuienis sal dien. “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.” (Fil. 4:8).

God is nie met die taktiek van sy teëstander onbekend nie. Daarom het Hy ons alreeds eeue vooruit gewaarsku dat hierdie getuienis op ons voorhoofde en hande onder ‘n sterk aanval sal kom. Hy waarsku ons dat dit wat ons dink en dit wat ons doen onder geweldige druk sal kom in die Satan se stryd om ons in diensbaarheid te bring. Kyk maar met hoeveel sukses die televisie ingespan word om mense se gedagtewêreld te besoedel. Was daar al ooit in ons volksgeskiedenis ‘n tyd waarin soveel mense aan pornografie verkneg was as vandag? Was daar al ooit ‘n tyd waarin mense hulself so maklik aan onsedelike verhoudings skuldig gemaak het as vandag? Was daar al ‘n tyd waarin mense so maklik en blatant gelieg, bedrieg en verraai het as vandag? Die waarskuwing dat die vyand hom daarop gaan toespits om mense se denke en handelinge te beïnvloed, is duidelik in Openbaring 13:6: “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;”

Ek kan u vanoggend met vrymoedigheid verseker dat ons geslag nie die eerste is wat onder baie moeilike omstandighede gebuk gaan nie. Dit is nie net die geskiedenis van die volk Israel wat van stryd om die juk van slawerny af te werp getuig nie, maar ook ons eie en meer onlangse volksgeskiedenis getuig daarvan dat solank daar stryd is, is daar lewe.

Stryd vereis dan ook noodwendig aktiewe en daadwerklike optrede, wel dit is nou natuurlik as jy nie wil verloor nie. En daarom is die passiwiteit van mense in ons tyd teleurstellend. Dit is tog duidelik dat God telkens van sy kinders ook verwag het om hul kant te bring. Hy het Israel nie op vere kussings die beloofde land ingedra nie en daar is telkens van hulle verwag om oorlog te voer, hard te werk, te trek en sy opdragte noukeurig uit te voer. Hierdie opdrag word uiteraard vir ons in soveel woorde in Jakobus 2:14,17,22&24 uitgedruk. “WAT baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werk en nie alleen uit die geloof nie?”

Laat ons daarom in hierdie stryd waarin ons tans verkeer om weer opnuut weg te breek uit die greep wat die bose in ons volksgeledere gekry het, onsself bereidwillig verklaar as knegte wat die koninkryk werk van onse Here getrou sal doen. Ons moet werk asof alles van ons afhang, maar bid asof alles van God afhang. Dít sal noodwendig daartoe lei dat die geskiedenis ook vir die komende geslagte ‘n verhaal sal vertel waarin God se Naam geëer en verheerlik sal word. En wat daardie nageslag met hierdie getuienis sal maak is vir hulle boek. Maar daarenteen is die behoud van ons volk in hierdie tyd vir ons boek.