Hannes Ollewagen
Josua24:1-33
“Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (:14&15).
“Daarop sê die volk aan Josua: Ons sal die HERE onse God dien en na sy stem luister.: (:24).
Mag ek begin deur aan u die vraag te stel : waarom het ons gister Geloftedag herdenk? Die antwoord hiervoor is voor die hand liggend. Ons het dit gedoen om in eerbied en dankbaarheid ons voorsate se Gelofte aan God gestand te doen. Maar is ons verantwoordelikheid in hierdie verband dan afgehandel? ‘n Geloftediens eenmaal per jaar vir ‘n uur of twee om dankie te sê – is dit wat ons voorsate in gedagte gehad het met die aflegging van die Gelofte?
Ons moet dalk vir ‘n oomblik stilstaan by die Gelofte wat afgelê is en noukeurig vasstel presies wat ons voorsate teenoor God beloof het. Hulle het beloof om:
- Hierdie dag as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat deur te bring;
- ‘n Huis tot God se eer op te rig waar dit Hom behaag;
- Die nageslag in hierdie saak te onderrig en hul verantwoordelikheid in hierdie verband te leer.
Ons kan nou seker vra of ons voorsate dan namens ons ‘n Gelofte kon aflê en ons daardeur kon verbind? Ons het dan geen sê in hierdie saak gehad nie en daarom is sommige mense van mening dat die verpligting nie langer op ons rus om hierdie Gelofte te eerbiedig nie. Ons kry die antwoord hierop uit ‘n soortgelyke gebeurtenis in die volk Israel se geskiedenis waarvan ons in Deut. 29 lees. Ons lees hier van die volk wat ook met God ‘n verbond sluit en dan ook hul volksgenote wat afwesig was in daardie verbond ingesluit het. “Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters — al die manne van Israel; julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter, om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God — en in sy eedswering — wat die HERE jou God vandag met jou sluit; sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ’n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het. En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie.” (:10-15). Ons aanvaar dus dat alhoewel ons nie fisies teenwoordig was met die ontstaan van hierdie Gelofte nie ons steeds hierdeur verbind is en die verantwoordelikheid het om dit te onderhou.
Dit is verblydend om te sien dat Geloftefeeste weer besig is om te herleef. Die moeilike omstandighede en uitdagings van ons tyd gee mense duidelik stof tot nadenke. En ek wil dan ook hê dat ons die tweede punt van die Gelofte wat ons genoem het, nl. dat ons beloof het om ‘n huis tot God se eer op te rig waar dit Hom behaag moet oordink en bespreek.Was die oprigting van die Geloftekerkie in Pietermaritzburg die volvoering van hierdie onderneming? Wanneer ons praat van ‘n huis van God en dit verstaan in die konteks van Handelinge 17:24:”Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.” Asook I Kor. 6:19:” Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” begryp ons die omvang van hierdie Gelofte dalk beter. Ons verstaan dat ons elkeen vandag steeds die verantwoordelikheid het om te bou aan hierdie volkshuishouding van ons wat tot eer van God moet strek. ‘n Volkshuishouding waarin elke een van ons onsself daarop toespits om die Heilige Gees van God in ons lewens toe te laat te koester en te gehoorsaam. 1 Pet. 2:5:” en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.”
Die vraag is egter hoeveel van ons mense maak vandag nog erns met hierdie belofte? In hoeveel huisgesinne is dit nog ‘n prioriteit om God bo alles lief te hê en te gehoorsaam? In hoeveel mense se lewens is daar ‘n opregte begeerte om God se wil bo alles te stel? Dink maar aan hoeveel mense u ken waarvan u met opregte oortuiging kan sê dat God van harte in hul huis gedien word. Die mans en pa’s wat hulself manlik en sterk gedra en toesien dat God se gesag in hulle huise die botoon voer, is die uitsondering eerder as die reël. Die hoeveelheid tyd wat ons kinders toegelaat word om rekenaarspeletjies en te speel en video’s te kyk op ‘n daaglikse basis oorskry loshande die hoeveelheid tyd wat ouers in ‘n week daaraan sal spandeer om hul kind in die Woord van God te onderrig.
Ons wil onsself gerusstel dat ons vandag darem Geloftedag gevier het en daarom ons verantwoordelikheid in hierdie verband tot volgende jaar nagekom het. Dit is soos ‘n persoon wat op ‘n Sondag uit die kerk stap en daarmee sy verantwoordelikheid in hierdie verband in sy oë nagekom het tot die volgende Sondag. Daar is van Maandag tot Saterdag nie tyd of plek vir God in sy lewe nie, maar hy sal darem volgende Sondag weer by die kerk ‘n draai maak. Dit was dan ook oor hierdie selektiewe godsdienstige gedrag dat Josua die volk Israel aangespreek het in Josua 24:19:”Maar Josua het vir die volk gesê: Julle kan die HERE nie dien nie, want Hy is ’n heilige God, Hy is ’n jaloerse God;...” Die HERE is ‘n jaloerse God – Hy is jaloers op jou liefde. Hy is jaloers op jou getrouheid aan Hom. Hy is jaloers op jou ywer vir Hom. Jesus Christus bevestig hierdie waarheid in Matt. 6:24:”Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” Ons kan die HERE nie halfhartig en op ons eie voorwaardes dien nie. Ons is mos heeltemal bereid om die HERE te dien en te gehoorsaam in daardie dinge wat vir my maklik is om te onderhou, maar moenie van my vra om enige opofferings te maak nie. En moenie vir my vra om iets te doen wat indruis teen die tydsgees nie, want my aansien in die samelewing is vir my is belangriker as die aansien wat ek in God se oë geniet.
Mense is deesdae haastig om vir allerhande probleme biddae uit te roep. En dit is goed dat die mens weet waar sy hulp vandaan kom. Maar ons moet onsself ook die vraag afvra of ons die reg het om van God te verwag om sy verantwoordelikheid teenoor ons na te kom terwyl ons nie erns maak met ons verantwoordelikheid teenoor Hom nie. Durf ek ‘n ander party in ‘n kontrak of ooreenkoms aanspreek oor ‘n versuim om te presteer terwyl ekself nie die beloofde prestasie lewer nie? Durf ek vir ‘n ander persoon kwaad wees wanneer ek ingevolge ‘n ooreenkoms nie presteer soos beloof nie en dan daaroor aangespreek word of selfs na die gereg gesleep word? Ons verstaan al hierdie nakomingsvereistes van kontrakte, ooreenkomste en prestasie tussen mense en sal dit in die meeste gevalle ook nakom.
Wanneer ons egter met ‘n ooreenkoms met God te doen kry, is dit asof ons geneig is om net van een party prestasie te verwag. Ons moenie die lankmoedigheid van God met ons as mense as ‘n swakheid aansien en Hom vir die gek hou nie. Hy stel dit duidelik in Prediker 5 dat ‘n mens mooi moet besin alvorens ons aan Hom beloftes maak omdat ons nie as ‘n verskoning kan aanvoer dat dit wat ons gesê het ‘n “foutjie” was nie. “As jy ’n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie. Laat jou mond nie toe om op jou liggaam ’n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was ’n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?” ‘n Man wat gedurig aan God beloftes maak met sy mond, maar dit nie betaal nie se gebede sal eerder God se toorn wek as wat dit in genade aangehoor sal word.
As ons op die Here se hulp en redding wil staatmaak, is dit tyd dat ons dalk besef dat ons ook die verantwoordelikheid het om Hom in waarheid en met opregtheid te dien. Is daar ‘n man onder ons waarvan sy vrou hom sal verlaat om by ‘n ander man te gaan bly en hy sal aanhou om haar te koester en te versorg? Maar tog verwag ons dat die Here net altyd moet sorg en seën en beskerm en alles wat mooi is terwyl ons ons gemeenskap met Hom prysgee om die wêreld ter wille te wees.
Nou, of ons as ‘n volk leef op ‘n wyse wat God welgeval, sal elke een sy eie opinie oor hê. Eweneens sal daar selfs die traak-my-nie-agtiges onder ons wees wat dink dat dit met ons goed sal gaan ongeag of ons aan God se verbond trou is, al dan nie. So ‘n mens word egter teen sy dwaling gewaarsku in die woorde van Deut. 29:19&20:”en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel — om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk! Die HERE sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die HERE en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die HERE sal sy naam onder die hemel uitdelg.”
Ek as ‘n mens met my eie swakhede wil nie die regter wees wat oordeel oor ons volk se regverdigheid voor God nie. Ek vertrou egter die oordeel van God as waar en regverdig en daarom laat die woorde van Deut. 28 my met ‘n groot besorgdheid in my hart oor ons volk se lewe en bestaan voor God. Ek lees vir ons net enkele verse uit hierdie gedeelte en dan oordeel u vir uself.“AS jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug. Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan; en Hy sal jou seën in die land wat die HERE jou God jou sal gee. Die HERE sal jou vir Hom as heilige volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van die HERE jou God hou en in sy weë wandel. En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees. En die HERE sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat die HERE aan jou vaders met ’n eed beloof het om aan jou te gee. En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen, en jy nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie.” (:1&2 & 7-11, 13&14). “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Die HERE sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het. En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees. Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is. Jou bees word voor jou oë geslag, maar jy sal daarvan nie eet nie; jou esel word voor jou weggeroof en sal na jou nie terugkom nie; jou kleinvee word aan jou vyande gegee sonder dat daar vir jou ’n helper is. Die vrugte van jou land en al jou werk sal ’n volk eet wat jy nie ken nie; en jy sal altyddeur net verdruk en hard behandel word. Die HERE sal jou en jou koning wat jy oor jou sal aanstel, na ’n nasie laat gaan wat jy en jou vaders nie geken het nie; en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien. En jy sal ’n voorwerp van verbasing, ’n spreekwoord en ’n spot wees onder al die volke waarheen die HERE jou sal wegvoer.” (:12,20, 23&24, 31, 33, 36&37).
Die omstandighede waarin ons verkeer waarin ons in ons eie land die stert geword het laat ons soms in moedeloosheid verval. Dit voel vir ons asof die situasie waarin ons as ‘n volk beland het onomkeerbaar is. Dit voel vir ons asof ons te min is en dat die vyand se oormag teen ons te sterk is om eers te begin om terug te veg.
Dit is uiters belangrik dat ons sal besef en onthou dat ons nie in hierdie toestand beland het omdat God beheer verloor het oor die lot en toekoms van ons volk nie. Inteendeel, ons het in hierdie toestand beland omdat God volkome in beheer is oor ons lot en ook trou is aan Homself en daarom nie ons ontrou teenoor Hom duld nie.
Ons elkeen moet ook die besluit maak soos die volk wat voor Josua gestaan het. Is die wêreld met al sy begeerlikheid dit wat ons bekoor? Of gaan ons opnuut erns maak met ons verhouding met God? Gaan ons in hart en siel tot Hom terugkeer en ons verbond met Hom eerbiedig deur sy insettinge en verordeninge in ons hart te bewaar en dit van harte te probeer gehoorsaam? Sal ons met soveel opregtheid en ywer tot hierdie verbond toetree dat die teken van sy verbond soos ‘n voorhoofband op ons voorhoof sal wees en as ‘n teken aan ons regterhand deurdat alles wat ons dink en alles wat ons doen getuienis dra van die feit dat ons met ons hele hart, siel en lewe aan God behoort?
Ons sal moet besluit of ons verantwoordelikheid vir ons volk se voortbestaan gaan aanvaar deur opnuut en ywerig te help bou aan die huis wat ons voorsate beloof het om tot God se eer op te rig!