HOM MOET ONS AANBID EN HOM ALLEEN DIEN
Hannes Ollewagen
Luk. 4:1-13
“En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (:8).
Die derde maal dat die satan vir Jesus versoek, merk ons dat hy basies dieselfde taktiek aanwend as met die versoeking van Adam en Eva in die Paradys. (“Is dit ook so dat God gesê het . . .”–Gén. 3:1). Hy gebruik woorde uit God se mond as aanhaling om die versoeking in toe te draai sodat dit heel aanneemlik voorkom. (“Want daar is geskrywe . . .”– Luk. 4:10). Die doel van sy oefening bly egter onveranderd – hy wil die mens oorhaal om ook te doen wat hy as satan gedoen het. Hy wil die mens oorhaal om sy eie wil hoër te ag as die bevel en wil van God om dit dan ook uiteindelik te verontagsaam.
Die satan gebruik eers Jesus se behoefte, sy nood, om Hom te probeer oorhaal om aan God ongehoorsaam te wees. Jesus is honger nadat Hy vir veertig dae lank niks geëet het nie en die satan doen homself voor asof hy dan Jesus se welstand op die hart sou dra. Waarom sou u so swaar kry – u kan mos die probleem oplos en u lyding beëindig deur my raad te volg? En dink maar hoedat hierdie versoeking nie die laaste maal oor Jesus se pad gekom het in die tyd waarin Hy op aarde as mens geleef het nie. Hy het gedurig daarmee te doen gekry selfs tot aan die einde van sy lewe as mens hier op aarde. Die satan probeer tot in die doodsnikke deur allerhande versoekinge om Jesus tot ongehoorsaamheid aan God te verlei. “...As U die Christus is, verlos Uself en ons.” (Luk. 23:39). Hierdie woorde is duidelik geuiter deur die gees van die duisternis van hierdie eeu wat in hierdie kwaaddoener se lewe geheers het.
Die satan wend homself ook daartoe om Jesus te versoek om van God se eer en wil te vergeet en sy eie eer en heerlikheid daarbo te verhef. Hy beloof aan Christus ‘n ongekende mag en heerskappy op voorwaarde dat Hy voor hom as Satan sou neerval en hom aanbid. Terwyl God U gestuur het om as mens hier op aarde te kom ly, die smaad van mense te verduur en uiteindelik op ‘n wrede, pynlike en uiters vernederende wyse vermoor te word, sal hy wat satan is vir hom die son, maan en sterre bied. Die keuse blyk tog voor die hand liggend te wees. Die liefde van Jesus Christus vir die Vader word juis hierdeur onderstreep dat Hy tot alle opoffering bereid is om aan God eer te bewys. Hy eer God deur sy uiters gehoorsame optrede.
Die satan slaag so dikwels daarin om in ons lewens hierdie versoekings te bring. Hy oortuig ons so maklik dat ons nood so groot is, dat ons hartseer so intens is, dat ons woede teenoor ‘n ander persoon so groot is of dat ons so erg te nagekom is dat ons ongehoorsaamheid “geregverdig” is. Hy oortuig ons so maklik dat omstandighede mos verander het en daarom sal God verstaan waarom ons ongehoorsaam is aan sy gebod. Ek kan maar saamwoon voor die huwelik, want my begeerte na ‘n lewensmaat is só groot en daar is nie eintlik ‘n ander manier waarop ek kan sien dat ek ‘n lewensmaat sal kan kry as om dit op die manier te doen waarop “almal” dit doen nie. God verbied uitdruklik hierdie tipe optrede. “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. ...” (Ex. 23:2). God se wet verander nie om by veranderende tye en omstandighede in te pas nie. “Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.” Luk. 16:17. Sy wet is só volmaak dat dit in enige tyd sfeer en omstandighede die botoon kan voer.
Die tragiek is dat die satan se versoeking en misleiding nie by Adam en Eva geëindig het nie. Dit het ook nie by Jesus se versoeking in die woestyn geëindig nie. Dit het ook nie by Jesus se sterwe aan die vloekhout geëindig nie. Wanneer ons noukeurig luister, hoor ons hoedat die satan sy werk voortsit om mense van God afvallig te maak. En in ons tyd word ‘n aansienlike hoeveelheid van hierdie werk deur sogenaamde predikers en geestelikes gedoen. Mense wat handig deur die satan gebruik word om, soos die satan, die Woorde van God te verdraai om mense oor te haal en te sus om die gebod van God te verontagsaam. Mense wat op slinkse wyse in ander se lewens God onttroon sodat hulle hulself as heersers in hul lewens kan aanstel. Mense wat die Gees van God uitblus in mensehart deur die gees van verleiding.
Ek en u is nie opgewasse teen hierdie fel aanslae van die satan wat hy so berekend en slinks uitstuur nie. Maar God sy dank wat ons laat triomfeer in Christus Jesus. Ons moet die Heilige Gees van God in ons lewens koester en so vervuld wees met die Gees van God dat ons volgens die voorbeeld van Jesus Christus en die krag van God se Gees sal kan weerstand bied teen die aanslae van Satan. “EINDELIK, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God – terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efés. 6:10&11, 17&18).