AANGESTEL OOR DIE WERKE VAN SY HANDE

Hannes Ollewagen

Hebreërs 2:1-18

...maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? U het hom n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. (:6&7).

Die skrywer van die brief aan die Hebreërs haal die bekende woorde van koning Dawid uit Psalm 8 aan. ...wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom n weinig minder gemaak as n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: (Ps. 8:5-7).

 

En was hierdie nie ook juis wat van Dawid so n bewonderenswaardige persoon gemaak het nie die feit dat hy as koning oor Israel geheers het en n magtige en aansienlike man was, maar tog deurgaans bewus van die feit dat hyself ook onder gesag staan? Hy is self ook maar n dienskneg in God se skepping en God verwag van hom, soos enige ander mens in sy skepping, om sy verantwoordelikheid voor God na te kom.

So gepraat van verantwoordelikheid - n woord waarvan die meerderheid mense in ons hedendaagse samelewing die betekenis nie meer ken nie. En tog wonder ons waarom ons samelewing so wanordelik is. Ons is vinnig om kommentaar te lewer oor die swak huishouding van hierdie land of hierdie of daardie politieke party en so meer. Dit is immers soveel makliker om die splinter in n ander se oog raak te sien as die balk in jou eie. Ons sien egter nie so maklik raak hoedat ons self ook nalaat om ons eie verantwoordelikhede, dit waaroor God ons aangestel het, na te kom nie.

Ons wil al die mooi gawes in hierdie lewe so graag hê, maar nie die verantwoordelikheid daarvan nie. En tog loop hierdie twee dinge, voorregte en verantwoordelikhede hand-aan-hand. Die jonges wil tog so graag n lewensmaat hê, maar die verantwoordelikheid om na die ander persoon se behoeftes om te sien, is darem baie moeite. Die jong getroudes wil so graag kinders hê, maar om daardie kindertjies mooi op te voed, goeie maniere, respek en werksaamheid te leer, is darem baie moeite. Die sakewêreld is vol van mense wat bestuursposte wil beklee, maar om daardie ekstra myl te loop, n ekstra uur sonder vergoeding te werk, ekstra ergernis te verdra en probleme te hanteer, is nie deel van hul gedagte oor hoe n bestuurspos lyk nie. Die politici van vandag wil die finansiële voordeel en eer van invloedryke mense geniet, maar hul aanvaar maar min verantwoordelikheid vir hul besluite en optrede.

Dit is hierdie gebrek aan verantwoordelikheid en eintlik gebrek by die mens om sy optrede voor God te verantwoord wat ons wêreld in die chaotiese toestand het waarin dit tans is. Die sieklike humanistiese gedagtes wat mense soos n kanker besmet, laat ons samelewing in eiewaan en selfsug verdrink. Die enigste oorweging by die meerderheid mense wanneer hulle besluite moet neem, is die maksimum voordeel wat hulself uit die situasie kan put, ongeag die gevolge wat dit vir ander mag inhou. En ons dink nie daaraan dat ons as God se diensknegte nie hier op aarde geplaas is om die Skepping leeg te tap nie, maar om daarna om te sien en dit te versorg. Ons is as sy diensknegte aangestel om te heers oor die werke van sy hande om dit wat Hy mooi gemaak het op te pas en te versorg.

Ek en u moet dalk ook weer vir n oomblik stil raak en onsself vra tot watter mate is ons getrou in ons diensbaarheid aan God? Hoe getrou is ons oor dit waaroor Hy ons hier op aarde aangestel het? Is ek as n vader, deur God as priester-koning van my huis aangestel, getrou in die geestelike versorging van my familie? Is ek getrou in die opvoeding van my kinders om hulle na die eis van God se Woord te dissiplineer wanneer dit nodig is en in liefde te vermaan wanneer hulle verkeerd handel? Bid ek genoeg vir my naaste? Is ek as n man getrou in God se Skepping om aan my vrou die nodige liefde en eer te bewys? Is u as vrou getrou in God se Skepping in die ondersteuning van u man en in die betoning van eerbied en respek soos die Woord van God vereis? Is u as vrou getrou in God se Skepping in die liefdevolle versorging en opvoeding van u kinders? Is ons as kinders getrou in God se Skepping deur aan ons ouers die nodige eerbied en respek te betoon? Is ons in ons onderskeie beroepe getrou deur ons verantwoordelikheid teenoor ons naaste hoër te stel as ons eie finansiële belang?

Ons moet dalk weer opnuut besef dat ons nie maar toevallig hier op aarde is nie. Ons is nie hier maar bloot om net gebore te word, kinders groot te maak en te sterf nie. Ons is hier op aarde geplaas vir n rede daar is n doel met ons bestaan. Dit is ons elkeen se verantwoordelikheid om so naby aan ons Skepper te leef dat ons hierdie doel sal verstaan. En daarná is dit ons elkeen se verantwoordelikheid om so naby aan ons Skepper te bly leef dat ons gedurigdeur daardie doel ten uitvoer sal kan bring.