Hannes Ollewagen
Jesaja 8:1-23
“En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel – moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?” (:19).
Die samelewing van ons tyd is in ‘n slegte toestand. Baie mense is moedeloos. Baie mense is terneergedruk. Baie mense is raadop. Ons sien dit in die buiteland en ons sien dit hier ter plaatse. En so sien ons ook hoedat mense uitkoms van hul probleme op verkeerde plekke gaan soek.
Ons dink seker dat ons nie meer soos die mense in die Ou Testamentiese tyd onsself tot die geeste van afgestorwenes en allerhande afgode wend nie. Maar kan ons met reg sê dat ons ons waarlik ons vertroue op God stel? Kan u onthou wanneer die laaste keer was dat u waarlik en met alle opregtheid tot God genader het om Hom te raadpleeg? Dit klink dalk vir sommige van u selfs vreemd dat ons die Here moet raadpleeg!
Ons leef dan in ‘n era waarin ons mos ons eie probleme kan hanteer. Wanneer ons siek is, vertrou ons op ons goeie mediese fonds en slim medici om ons te genees. Wanneer ons finansieel noustrop trek, vertrou ons op die bank om vir ons ‘n paar rand te leen. Wanneer ons in politieke nood verkeer, vertrou ons op die buiteland met hulle “sterk leiers” en weermagte om ons te help.
“So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk. En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land. Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.” (Jer. 17:5-7). Of wanneer die politieke nagmerrie in die land vir my te erg lyk, neem ek my toekoms in my eie hande en emigreer bloot na ‘n ander land!En vir die meeste ander goed vertrou ek sommer maar net die meerderheid mense se oordeel en loop hulle agterna – of dit nou is oor my Godsdiensoefening of kind se opvoeding – dit is mos maar sake van “mindere belang”. Indien laasgenoemde stelling nie waar was nie sou baie meer van ons mense baie meer erns met hierdie besluite gemaak het.
Ons verwag van die Here om ons in hierdie lewe langs die “regte weg” te lei. Eintlik verwag die meeste van ons net van die Here om ons langs die weg met die meeste voorspoed en minste teëspoed te lei as ons nou met mekaar baie eerlik moet wees. En tog, terwyl ons van die Here verwag om vir ons leiding te gee, doen ons nie aldag die moeite om na hierdie leiding te vra of te luister nie. Ons doen nie genoeg moeite om die nodige tyd in opregte gebed met Hom te praat en ons lewens met Hom te deel nie. Ons doen nie genoeg tyd om Hom te raadpleeg en voor Sy Aangesig na antwoorde en raad te vra nie. Ons doen nie genoeg moeite om tyd in te ruim om in stil vertroue na Sy Woord te luister en die leiding daarin na te volg nie.
Wanneer is die laaste keer dat u waarlik u lewe en die besluite in u lewe met die Here gedeel en bespreek het? Wanneer laas het u, indien ooit, die Here eers geraadpleeg en op sy leiding en antwoorde gewag alvorens u ‘n besluit geneem het? Wanneer laas het u ‘n besluit geneem met die uitsluitlike oormerk om God te behaag en sy wil te doen eerder as om net u eie voordeel en belang te oorweeg?
U is dalk ook vandag op ‘n punt in u lewe waar u voel dat u buite raad is. Geen van u planne of besluite wil slaag en realiseer nie. My raad aan u is dat dit haas tyd is om opnuut na die Here te soek en om Hom te raadpleeg. Hy is ons liefdevolle Vader wat deel van ons lewe wil wees. Hy soek ons heil en wil vir ons raad en leiding bied. “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” (Ps. 32:8).