HY IS DEUR GOD TOT LEIDSMAN VERHOOG

Hannes Ollewagen

Hand. 5:17-42

“Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ‘n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.” (:30-32).

Geliefdes, die samelewing in ons tyd verkeer in groot verwarring. En mense soek na leiding. Dit is tog ironies dat in die era waarin ons so vryelik tot inligting toegang het, die onsekerheid en verwarring onder mense so groot is, nie waar nie? En die rede hiervoor is eintlik eenvoudig – nie alle inligting is betroubare inligting nie.

Die tegnologie maak die verspreiding van kommunikasie en inligting deesdae baie maklik. Ons almal ontvang op ‘n daaglikse basis videos van mense wat ‘n opinie het oor al wat ‘n saak is. Ja, mense lig hul mening oor die sogenaamde “pandemie” in hierdie dae, oor politieke kwessies, oor die Godsdiens, eintlik oor alles en nog wat. En al hierdie inligting oefen tog op ons elkeen ‘n invloed uit en veroorsaak dat ons menigmaal dink oor wat in hierdie lewe waar is en wat nie. Ja, dit laat ons dalk ook besluite neem en vrae vra wat die rigting van ons lewens kan beïnvloed.

Ek wil vandag ‘n baie belangrike stukkie inligting opnuut onder u aandag bring. Ek wil u daaraan herinner dat daar vir ons in hierdie tye maar Een betroubare Bron van inligting is. Ja, daar is vir ons as gelowiges maar net een betroubare Rigtingwyser hier op aarde wat ons nooit sal laat verdwaal nie. Daar is vir ons maar Een wat die lewensweg vir ons kan aandui en dit is Hy wat deur niemand anders as God die Vader self tot Leidsman verhoog is nie. Onse Here Jesus Christus het die weg deur God vir Hom aangewys, met volharding gestap tot by die vloekhout op Golgóta. Ja, geliefdes – Hy het hierdie weg gestap sonder om ‘n voet verkeerd te sit. Hy het hierdie weg gestap wat God vir Hom aangedui het tot voor die vloekhout waarteen Hy met vernedering vasgenael sou word. Maar God sou hierdie vernedering gebruik om Hom te verhoog! Daar sou Hy vir ons word die Een na Wie ons ons oë kan ophef en besef dat Hy aan ons bekering en vergifnis van sondes kan skenk! Hy sou vir ons die Een word wat ‘n helder lig oor ons lewens gee waarin ons die weg van die lewe kan sien.

Geliefdes, daar is nie een van ons wat die weg tot God die Vader sal vind sonder die getroue leiding van onse Here Jesus Christus nie.

“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6).

Ja, ons bekeer onsself nie tot God nie, maar word deur Christus tot God bekeer. Ons versoen onsself nie met die Vader nie, maar onse Here Jesus Christus bewerk vir ons met God die Vader versoening! Daar is nie een van ons wat by vermoë is om homself van sy eie ongeregtighede te verlos nie. Ons word hiervan bevry deur onse Here Jesus Christus, ons Verlosser! Ons het onsself nie losgekoop van die sondemag nie, maar is deur onse Here Jesus Christus hiervan vrygekoop!

“Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Rom. 6:22&23).

Ja, geliefdes, ons het nie die ewige lewe in onsself nie, maar in Christus Jesus.

Dit is baie belangrik dat ons onsself daagliks tot hierdie getroue leiding van God sal wend. Die Woord, ons leiding tot die lewe, kan ook vir ons in hierdie dae waarin die wêreld verdwaald rondtas, duidelike rigting bied. God het Christus as Leidsman, as ‘n Lig in hierdie wêreld gestel sodat ons in Hom die weg na die lewe kan vind en nie verdwaal nie. Ons moet ons net in ootmoed tot Hom wend en in gehoorsaamheid sy troue leiding volg.

“...As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.” (Joh. 11:9&10).

Amen.