Hannes Ollewagen
Matt. 24:1-14
“En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (:11-13).
Geliefdes, sien ons nie in ons dae hoe toepaslik hierdie waarskuwing van Christus is nie! Ons sien baie valse profete. Ons sien hoedat hierdie valse profete mense mislei. Ons sien hoedat die ongeregtigheid van mense deur hierdie dwaalleringe aangehelp word. En dan is dit bitter hartseer om te sien dat namate die ongeregtigheid vermeerder word, die liefde van soveel mense verkoel. Ten spyte van die waarskuwing aan die mens dat dit hom duur te staan kan kom!
“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.” (Open. 3:15&16).
Ja, geliefdes, dink maar aan die lewe ‘n paar dekades gelede. Daar was soveel dinge wat absoluut taboe was. Iets soos ‘n homoseksuele verhouding was ‘n absolute skande vir ‘n Christen-Afrikaner familie. Beslis iets wat jou van jou familie en gemeenskap sou vervreem as jy jou daarmee sou ophou. Maar vandag het dit sosiaal aanvaarbaar geraak. Ja, dit is selfs aanvaarbaar vir sommige predikante om in só ‘n sondige en verderflike praktyk te leef en steeds as predikant op te tree. En dan het ‘n saamblyery buite die huwelik en egskeiding meer algemeen geword as ‘n rein huwelik tussen een man en vrou. Ek sidder om melding te maak van gruweldade soos aborsies wat lankal nie meer net ‘n vieslike moordpraktyk is wat net onder ander heidense volke gesien word nie, maar ook deur ons eie volk in hul sedeloosheid omarm word.
Geliefdes, die HERE stel dit vir ons duidelik dat ‘n samelewing vol ongeregtigheid en ‘n gebrek aan liefde vir Hom mekaar aanvul. Die een voed die ander. Namate die ongeregtigheid vermeerder, sal die mens se liefde vir Hom verkoel. En namate daar ‘n gebrek aan liefde vir Hom is, sal die ongeregtigheid toeneem. Dit is juis daarom dat die HERE die gebod verorden het vir die mens dat ons Hom bo alles moet liefhê. Ja, hierdie gebod is as eerste en belangrikste gebod daar gestel.
“En nou Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?” (Deut. 10:12&13).
En om Hom bo alles lief te hê sluit in dat ons Hom ook bo ons eie sondige en vleeslike begeertes moet liefhê. Enige sogenaamde prediker wat aan u anders leer, of aan u leer dat gehoorsaamheid aan die Woord, insettinge en gebooie van die HERE nie belangrik is nie, is ‘n valse profeet wat die liefde tot God afbreek. Ja, so ‘n mens verwek vyandskap tussen God en die mense en is aandadig tot die hartseer en ellende wat ons samelewing kenmerk.
Wanneer ons die ellende rondom ons sien moet ons nie vir ‘n oomblik daaraan dink om te wonder of God se liefde dan enigsins te kort skiet dat sulke dinge sigbaar is nie. Onthou, die gesig van sy geliefde Seun aan die vloekhout op Gólgotha sou vir my en u ook op daardie stadium liefdeloos voorgekom het – minwetend dat dit sekerlik die grootste toonbeeld van ware liefde in menseheugenis was! Maar ten spyte daarvan dat dit die grootste toonbeeld van God se liefde aan die mens was, het dit God se Vaderhart diep getref. Daarom behoort ons deur die hartseer en ongeregtigheid rondom ons nie verhard te word nie, maar eerder herinner te word wat die gevolg daarvan vir Hom was, geliefdes. En mag daardie herinnering my en u diep in die hart tref en ons herinner aan Christus se voorbeeld van liefde teenoor ons Vader. Ja, so groot was sy liefde vir die Vader dat Hy Hom in alles gehoorsaam het – selfs tot die mees vernederende dood toe.
Mag ek en u in ons liefde vir Hom volhard, geliefdes. Ja, mag ons volharding in ons gehoorsaamheid aan Hom van ons opregte liefde vir Hom getuig.
“As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Joh. 14:15).
Onthou, diegene wat in hul liefde vir Hom tot die einde volhard, sal gered word!