GETUIG U LEWE VAN DIE WARE GOD EN SY EVANGELIE?

Hannes Ollewagen

Ps. 53:1-7. “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie.” (:2).

Geliefdes, u kan gerus Psalm 53 lees. U kan selfs uit Psalm 14 lees waar u hierdie selfde Psalm, met enkele verskille, sal vind. Ek glo nie dat hierdie Psalm per ongeluk twee maal in die Woord van die HERE ingesluit is nie. Ek glo dat die herhaling van hierdie selfde boodskap juis vir ons ‘n beklemtoning daarstel. Dit is om die belangrikheid van die boodskap vir ons duidelik te beklemtoon.

Wanneer ons dink aan iemand wat sê dat daar geen God is nie, dink ons gewoonlik aan diegene wat die evolusie-teorie (eintlik evolusie-dwaalteologie) se misleiding volg. Hulle wat op allerhande maniere die wonder van die Skepping en die ontstaan van alle dinge probeer “verduidelik”. Hulle probeer “bewys” dat die wêreld op ‘n ander wyse ontstaan het as wat daar in Génesis geleer word. En die doel hiervan is niks anders as om die bestaan en die heerskappy van God oor alle geskape dinge te probeer ontken nie. Daarom dat ons met waarheid kan stel dat die evolusieleer ‘n dwaalteologie is en ligjare van ware wetenskap staan. Die ontkenning van God se bestaan bied tog die grondslag vir ‘n algehele verwerping en vernietiging van sy insettinge, gebooie en verordeninge. En dit is eintlik die doelwit van hierdie verwerplike kettery wat selfs op universiteite as waarheid voorgehou word.

Geliefdes, die ontkenning van die bestaan van die ware, lewende God maak dit vir die mens “maklik”en regverdigbaar om in totale vrysinnigheid en ongebondenheid te leef. Ja, dit verwyder die grense wat vir die mens deur God se insettinge en verordeninge daargestel word. Dit verwyder die grens van ‘n huwelik wat net tussen man en vrou kan wees. Tewens die grens dat die huwelik soos deur God daargestel net tussen een man en een vrou kan wees. Dit verwyder die grens vir kinders om aan hulle ouers onderdanig te wees en aan hulle eerbied te betoon. Dit verwyder die grens om aan enige gesag erkenning te gee. Dit verwyder die grens teen allerhande vergrype waaraan die mens homself ongetwyfeld sal skuldig maak as hy vrye teuels gebied word om na hartelus te leef. Ja, die dwase ontkenning van God se bestaan en die verwerping van sy insettinge en verordeninge onthef die mens van sy verantwoordelikheid op aarde wat deur geen ander as God self aan die mens gegee is nie. Jesus Christus het meesterlik en met pynlike presisie in die kol getref met sy woorde uit Johannes 8:43-45. Hy stel dit hier prontuit waarom hierdie mense die waarheid van God se Woord nie wil glo nie. Dit is omdat hulle aan hul vernietigende begeertes wil uiting gee. “Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.”

Dit is hartseer dat die misleidende evolusie-dwaling in sy doelwit deur baie teoloë en sogenaamde “kerke” ondersteun word. Ja, wanneer ‘n mens hoor hoedat soveel teoloë ook aan mense ‘n soortgelyke dwaling verkondig, nl. dat God se insettinge en verordeninge nie nagekom hoef te word nie. En die verskonings verskil natuurlik van dwaalleraar tot dwaalleraar, want hierdie mense is vindingryk. Hierdie vindingrykheid was ook by die satan te bespeur tydens Christus se versoeking in die woestyn. Hy het telkens uit die Woord van God ‘n stelling gemaak waarom Christus eerder aan sy eie onmiddellike begeerte uiting moet gee eerder as om God die Vader te gehoorsaam. Nietemin, die uiteindelike boodskap verskil nie wesenlik van dit wat die evolusie-dwaalteologie wil uitbasuin nie, nl. dat God nie gevrees en gehoorsaam hoef te word nie en dat die mens maar aan sy eie, vernietigende, afskuwelike vleeslike begeertes na hartelus uiting kan gee.

Geliefdes, ek gaan vir u die verskil in dwaalleraars se “evangelie” (eintlik net ‘n nabootsing van die ware Evangelie) en Christus Jesus se ware Evangelie op ‘n baie eenvoudige wyse probeer oordra. Die Evangelie is ‘n blye boodskap wat gebring word. En hierin lê die verskil. Die evangelie, die blye boodskap, van dwaalleraars en mense wat verkies om God se Oppergesag te ontken, is die blye boodskap dat die mens kán leef soos hy wil! Ja, daar is niemand, nie eers ‘n God, wat jou sal keer nie. Ja, hoe lieflik om so “vry” te wees en vrye teuels aan my vleeslike begeertes te gee. ‘n Blye dag om te kan doen en leef soos wat ek wil. Dit is ten minste die dwase gedagtes wat hierdie mense koester. Die ware Evangelie daarenteen is die blye boodskap dat daar Een was wat waardig is, wat in absolute selfopoffering en volkome gehoorsaamheid aan God Homself vir ons geoffer het. En dit het Hy gedoen sodat Hy ons uit die smet van ons vrysinnigheid kan uitruk en ons van ons besoedelde lewe kan skoon was. Ja, Hy het dit gedoen sodat ons weer met God die Vader versoen kan word eerder as om in vuil van ons sonde te bly verdwaal en die ewige verdoemenis tegemoet te gaan.

Geliefdes, ek verwys u graag na Lukas 3:17&18 as bevestiging van die verskil tussen die ware Evangelie en die evangelie-nabootsing van valse leraars. Luister hoedat Johannes die Evangelie met “baie ander vermaninge” aan die volk gebring het. ‘n Mens wat aan ander sê dat hulle na hartelus kan leef en optree, vermaan mos nie mense nie? Vermaning impliseer juis teregwysing. “Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig.” Daarbenewens wil ek ook u aandag op die hemelvaart van Christus vestig. Daar waar niemand anders as Christus self die opdrag aan sy dissipels gee om die Evangelie te gaan verkondig nie. En wat is sy opdrag? Gaan en leer die mense dat God se insettinge en verordeninge nie bestaan nie of nie saak maak nie? Gaan en leer die mense dat hulle volgens hul eie vleeslike en sondige begeertes kan voortleef? Stellig nie. Luister na die DUIDELIKE OPDRAG uit Matt. 28:19. “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Ja, geliefdes, “en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Hy wat hierdie waarheid nie kan sien nie, wil nie sien nie.

Mag die HERE in sy barmhartigheid aan ons die wysheid skenk om die verskil tussen waarheid en leuen te ken. En mag Hy ons help om die dwaasheid van hierdie wêreld te weerstaan en elke dag met volharding in die wysheid van sy Woord te wandel.

Amen.