RESPEK – SKAARS, MAAR KOSBARE EIENSKAP

Hannes Ollewagen

1 Sam. 26:1-25

“Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die Here en bly ongestraf?” (:9).

“Mag die Here my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die Here sou slaan! …” (:11).

Geliefdes, ons kry in hierdie gelese gedeelte te doen met koning Dawid wat op ‘n besonderse wyse optree. Hy is op ‘n stadium in sy lewe waar die verwagting van koningskap oor Israel vir hom wink. Maar benewens hierdie vooruitsig beland Dawid ook in ‘n situasie waar hy vir Saul met gemak kan verslaan. Hy kan nie alleen die persoon wat tussen hom en die koningskap staan verslaan nie. Hy het ook die geleentheid om ontslae te raak van hierdie man, Saul, wat hom uit jaloesie gedurig agternasit en sonder enige geldige rede probeer doodmaak. “ Verder sê hy: Waarom agtervolg my heer sy dienaar tog? Want wat het ek gedoen? Of watter kwaad is daar by my?” (:18).

Dawid maak egter nie van hierdie geleentheid gebruik om sy vyand te verslaan nie, geliefdes. En wat sou die rede hiervoor wees? Was hy dan ‘n papbroek of ‘n lafaard wat nie kans gesien het om sy vyand dood te maak nie? Hierdie is eintlik ‘n retoriese vraag. Ons weet dat Dawid ‘n baie dapper man was wat nie gehuiwer het om die baasvegter, Góliat, die stryd aan te sê nie. Ja, hierdie dapperheid van Dawid word ook deur Húsai in 2 Sam. 17:10 duidelik verwoord. “Dan sal selfs hy wat 'n dapper man is, wat 'n hart het soos 'n leeu se hart, heeltemal versmelt; want die hele Israel weet dat u vader 'n held is, en dat dapper manne by hom is.” Dit is dus duidelik dat Dawid hom hiervan weerhou omdat sy eerbied en respek vir God swaarder as sy eie belang en ambisies geweeg het. En dan verstaan ons waarom Dawid ‘n man ná aan God se hart was. “En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, 'n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.” (Hand. 13:22).

Geliefdes, Dawid het dit beskou as ‘n belediging en verontagsaming van God om sy hand uit te steek na Saul wat God se gesalfde was. Ja, alhoewel hy in vyandskap met Saul was, het hy hierdie respek aan hom bewys omdat hy hom steeds as die gesalfde van die HERE beskou het. En derhalwe sou oneerbiedige optrede teenoor Saul indirek oneerbiedig teenoor God wees. Christus het self ook van hierdie afgeleide gesag van God gespreek. “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.” (Matt. 10:40).

Hierdie optrede van Dawid gee vir ons ook in ons tyd genoeg stof tot nadenke. Ons samelewing gaan mank aan respek. Mense het nie respek vir hulself nie en ook is daar nie veel respek vir ander nie. En wat aan die grondslag hiervan lê, is ‘n absolute gebrek aan respek vir God, geliefdes. Daar is mos oor die afgelope paar dekades ‘n totale afbreek hieraan gedoen deur ketters wat voorgee dat God se wese net tot twee eienskappe beperk is, nl. ‘n liefde vir die mens wat geen perke het nie en Hom byna as verleë teenoor die mens stel en dan ook dat Hy net gereed moet wees om opdragte van die mens uit te voer om die mense te seën en na hulle wil te handel.

Geliefdes, die gevolg van mense wat nie verstaan om vir God respek te hê nie is ‘n samelewing wat in chaos ontaard. Ja, omdat daar nie selfrespek en respek teenoor jou medemens is nie is chaos jou voorland. Ons hoor hoedat kinders met ‘n totale gebrek aan respek teenoor hul ouers optree. En so word die liefdevollde raad van ouers wat vir hul baie hartseer en skade in die lewe kon verhoed, verontagsaam. Ja, indirek is dit God se raad wat verontagsaam word. “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spr. 1:8). Ons hoor hoedat kinders onderwysers in die klaskamers met totale minagting en sonder respek behandel. En so verkwis hulle kosbare tyd wat aangewend kon word om kennis op te doen wat vir hulle later in die lewe tot groot nut kon wees.

Ons sien aan mense se kleredrag die gebrek aan selfrespek en ook die gebrek aan respek teenoor die samelewing. Ons hoor uit mense se gesprekke die gebrek aan respek vir ander mense. En dan is die seksuele losbandigheid ook onder ons eie volk sekerlik ‘n onderstreping van ‘n totale gebrek aan selfrespek en minagting van God. Ons leer uit 1 Kor. 6:18&19 duidelik dat seksuele losbandigheid ‘n teken van ‘n gebrek aan selfrespek en ‘n gebrek aan eerbied vir God is. “Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat 'n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam.Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”

En hierdie lys van optredes wat van oneerbiedige gedrag en ‘n gebrek aan selfrespek, gebrek aan respek vir medemens en God sal omkring, sal ons ure lank kan besig hou geliefdes. En omdat ons midde só ‘n samelewing leef, is dit dalk vir ons ook moeilik om nie hieraan gewoond te raak nie. Maar dit is nie ‘n verskoning nie. Dawid het nie toegelaat dat die omstandighede rondom hom die oorhand kry en sy optrede dikteer nie. Dawid se liefde vir God het steeds sy optrede bepaal. En so behoort ons liefde vir God ook vandag vir ons daartoe aan te spoor om daarop te let dat ons teenoor God, ons medemens en onsself met die nodige respek optree.

Amen.