Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Tyd is die natuur se manier om te voorkom dat alles gelyktydig gebeur. Moet dan nie stukkies tyd vermors nie, benut elke oomblik, anders gebeur alles later gelyktydig.
SKULDBELYDENIS
Hannes Ollewagen
Spr. 28:1-28
“Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind. Gelukkig is die mens wat gedurigdeur vrees; maar hy wat sy hart verhard, sal in die onheil val.” (:13&14).
Die wyse Salomo raak in hierdie gedeelte ’n saak aan wat elke mens seker só geneig is om te doen – om ons verkeerde dade te probeer wegsteek. Ons wil graag hê dat dit wat ons verkeerd gedoen het eerder verborge moet bly. Ek glo dat dit nie alleen is omdat ons dalk oor die verkeerde skaam voel nie, maar ook is dit mos so dat indien ons, ons verkeerde optrede verborge kan hou, is ons van mening dat ons nie daaroor rekenskap hoef te gee nie.
Hierdie soort optrede was alreeds by die eerste geskape mense te bespeur. Nadat Adam en Eva gesondig het, het hulle vir God probeer wegkruip – hulle wou die rekenskap oor hul verkeerde dade probeer ontwyk. En toe dit nie moontlik was om God te ontvlug nie, het elke party probeer om sy skuld in die saak te verberg deur dit te ontken of die vinger na die ander te wys. Niemand wou egter erken en bely dat hulle verkeerd gehandel het nie.
God stel deur die mond van Salomo aan ons in geen onduidelike taal nie dat dit baie belangrik is dat ons, ons sonde sal bely en dit laat staan. ’n Ontkenning van ons sonde sal mos tot niks anders as verdere sonde ly nie? Dink maar aan die voorbeeld uit koning Dawid se lewe. Hy het gesondig deur owerspel met die vrou van Uría te pleeg. En sy eerste reaksie hierop was natuurlik om dit verborge te probeer hou. Nadat Bátseba swanger geword het as ’n gevolg van hierdie daad van owerspel, het Dawid besef dat sy oortreding openbaar gaan word. Hy besluit toe om verdere planne te beraam om sy oortreding verborge te hou. Hierdie planne lei toe tot die verdere sonde van moord. Eindelik kom die profeet Natan na Dawid en spreek hom hieroor aan. Indien Dawid sou poog om sy sonde verder te verberg, sou hy seker ook die profeet laat vermoor het. Dawid besef egter op hierdie stadium dat hy in hierdie saak verkeerd gehandel het en hy bely sy oortreding. “En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die HERE! En Natan sê vir Dawid: So het die HERE dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie.” (2 Sam. 12:13). En die gevolg van Dawid se skuldbelydenis was vergifnis tussen hom en God asook ’n voorkoming van verdere sondige optrede in daardie saak.
Ons lees in Núm. 5:6&7 waar God alreeds op hul reis na die beloofde land hierdie insetting baie duidelik aan sy volk gegee het. “Spreek met die kinders van Israel: As ’n man of vrou enige menslike sonde doen, sodat ontrou teen die HERE gehandel word, en dié siel skuldig word, dan moet hulle hul sonde wat hulle gedoen het; bely; ...”. En in hierdie saak was daar vele Godvresende manne wat vir ons in hul lewens ’n voorbeeld hierin was. In die tyd van Israel se ballingskap het Nehemía nie alleen sy eie sonde bely nie, maar ook die sonde van sy volk het hy voor God bely. “...laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig.” (Neh. 1:6). En Daniël het dieselfde gedoen. “Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ...” (Dan. 9:20).
Ons lees ook in Psalm 32:5 van die voorbeeld in hierdie saak uit koning Dawid se lewe. “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.” En dan onderrig God ons verder in hierdie saak baie duidelik by monde van die apostel Johannes. “AS ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” (1 Joh. 1:8-10).
Dit is vir niemand van ons lekker om te besef en te erken dat ons verkeerd gehandel het nie. Ons moet egter baie, baie mooi verstaan – ’n ontkenning van ons skuld hou absoluut geen voordeel in nie – dit wis ook nie daardie skuld uit nie. Dit is ons skuld wat ons erken (nie ontken nie) en bely waarvoor ons vergifnis ontvang. En ’n ontkenning van ons sonde is niks anders as verdere sondige optrede nie.
Laat ons die HERE bid om ons deur sy Woord en Gees van ons sondes te oortuig en ons te versterk om die skuld in ons lewens met eerlikheid te erken, met berou voor Hom te bely en met krag en selfbeersing ook af te lê en te laat staan.