DIEN HOM MET ’N VOLKOME HART

Hannes Ollewagen

2 Kron. 16:1-14

“En in dié tyd het die siener Hanáni na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die HERE u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak. Was die Kusiete en die Líbiërs nie ’n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die HERE gesteun het; want die HERE – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.” (:7-9).

Die HERE stuur die siener na koning Asa om hom oor ’n saak aan te spreek. Hy moet die boodskap aan die koning bring dat God oor ’n spesifieke saak ontevrede is. En waaroor God ontevrede is, is die feit dat koning Asa sy vertroue nie volkome op God stel nie. Toe Bénhaded teen Juda opgetrek het, het koning Asa hom nie tot God om hulp gewend nie.

Nee, hy besluit om eerder die koning van Aram om hulp te nader. Hy sou self, sonder God, met die koning van Aram se hulp, hierdie probleem kon hanteer.   Dit was sy uitgangspunt. En hieroor was God met reg baie ontevrede met Asa. Hierdie optrede van koning Asa was ’n belediging vir God. Dit word vir ons duidelik gestel wanneer God vir Asa daaraan herinner dat Hy hom by vorige geleenthede uit groter bedreigings gered het. Hy herinner Asa aan die stryd teen die Kusiete en Líbiërs waarin God hom vantevore bygestaan het. Hierdie getrouheid en tentoonstelling van God se mag ten spyt, verkies Asa om hom eerder tot die koning van Aram as tot God te wend wanneer Baésa teen hom optrek. En God stel sy afkeur aan hierdie optrede vir ons in Jeremia 17:5 baie duidelik. “So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.”

In ons verhouding met God is hierdie ’n baie belangrike saak om van kennis te neem. Hierdie is duidelik iets waaraan God ’n baie, baie groot afkeur het. En die rede daarvoor is dat ons God beledig wanneer ons nie ons vertroue volkome in Hom stel nie. Kan ek dit met reg sê? Natuurlik! Indien ons nie ons vertroue volkome in God stel nie impliseer ons daardeur een van twee dinge. Ons sou ten eerste kon impliseer dat ons God se Woord in twyfel trek. Hy stel dit dan duidelik in sy Woord dat sy oë oop is en dat Hy raaksien daar waar diegene wat op Hom vertrou sy hulp nodig het. “...sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is;...”. Luister ook na sy opdrag en versekering uit Psalm 50:15. “...en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” En in Núm. 23:19 onderrig God ons ook baie duidelik in hierdie saak. “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” Sou ons hierdie duidelike Woord van God in twyfel trek asof Hy nie sy Woord sal gestand doen nie? Dit sou tog beslis vir Hom ’n belediging wees.

Die tweede ding wat dit sou impliseer wanneer ons God nie met ’n volkome hart vertrou nie is dat ons sy krag, sy vermoë om ons te help in twyfel trek. En dit sou eweneens ’n belediging vir die Almagtige God wees. Dit sou dalk gepas wees om hier terug te dink aan die gesprek tussen God en Moses waarvan ons in Núm. 11:21-23 lees. “Toe sê Moses: Seshonderdduisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal ’n hele maand lank eet! Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is? Maar die Here sê vir Moses: Sou die hand van die Here te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.” En God voorsien nie alleen aan hierdie menigte genoegsaam voedsel vir hul behoefte nie, maar Hy doen dit aanhoudend, met getrouheid, bestendig vir omtrent veertig jaar! Ons behoort nie ooit aan God se vermoë te twyfel nie. Daarin het Hy geen behae nie.

Een van die bevele wat Dawid aan die einde van sy lewe pertinent aan sy troonopvolger gee, is om die HERE met ’n volkome hart te dien. Hy stel nie net dat Salomo God moet dien nie, maar dat hy dit met ’n volkome hart moet doen. “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. ...” (1 Kron. 28:9). En hierin was koning Dawid, nie alleen vir Salomo nie, maar vir ons elkeen ’n voorbeeld. Dawid was nie sonder sonde nie, maar Dawid se hart was trou teenoor God. Dawid het God opreg liefgehad. Dawid het God met ’n volkome hart gedien. “...en sy hart was nie volkome met die Here sy God soos die hart van sy vader Dawid nie.” (1 Kon. 15:3). Dink maar mooi aan Dawid se handelswyse. Wanneer hy in benoudheid verkeer het, was sy eerste optrede om God se aangesig op te soek.   Hy het hom na God gewend om hulp, omdat hy met ’n volkome hart op Hom vertrou het. En ons moet as God se kinders hierdie voorbeeld ywerig probeer nastreef. Ons moet ons ook daarop toespits om God met ’n volkome hart te dien. Hy moenie vir ons die uitweg wees wat oorbly eers nadat ons eie planne onsuksesvol was nie.

Mag ek en u uit hierdie voorbeelde uit God se Woord lering aanneem. En mag ons in ons lewens die nodige eerbied aan God toon deur Hom nie alleen te dien nie, maar om Hom waarlik met getrouheid, met ’n volkome hart te dien. “Laat julle hart dan volkome met die HERE onse God wees om te wandel in sy insettinge en sy gebooie te onderhou, soos vandag.” (1 Kon. 8:61).