DIE GEREGTIGHEID VAN GOD IN CHRISTUS

Hannes Ollewagen

Rom. 3:21-31

“MAAR nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God – om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.” (:21-26).

Geloof, geloof, geloof! Die antwoord tot ons redding. Geloof in Hom wat deur God gestuur is as die volmaakte offer vir ons sonde. Daar is geen ander een, nog is daar geen ander manier waardeur die mens gered kan word nie. “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand. 4:12). Elke sterfling het gesondig en is derhalwe die dood skuldig met die ewige verderf as ons lot. Maar die Een wat sondeloos was, is geoffer om daardeur die volmaakte offer tot ons redding te bring. “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Kor. 5:21). En hierin is die geregtigheid van God openbaar. Ons sien hierin die geregtigheid van God dat die sonde nie ongestraf kan bly nie. Daardie straf van die sonde wat ons met reg sou moes ontvang, het op Hom neergekom. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5).

Daar is myns insiens gedurig ’n neiging om regs of links van hierdie waarheid af te wyk. Daar is die een kant waar die Fariseërs ook heen afgewyk het, naamlik waar die mens probeer om sy eie geregtigheid op te rig. Hierdie trotse illusie waarin die mens dink dat hy deur sy eie vrome wandel binne die reg van God kan leef. “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. (Rom. 10:3). Daar is natuurlik geen fout daarmee wanneer ’n mens God se insettinge en gebooie onderhou en ’n vrome lewenswandel lei nie. Inteendeel, God verwag dat ons aan Hom gehoorsaam sal wees en ’n vrome en heilige lewe sal nastreef. “WANT die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,” (Titus 2:11&12). Maar selfs die vroomste lewe sonder geloof in Christus sal in ’n groot ontnugtering eindig omdat enigeen wat Christus as Redder nie erken nie die wil van God weerstaan. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:21-23).

Ons moet dan ook aan die ander kant daarteen waak om nie die “geloof in Christus” as ’n verontskuldiging te gebruik om ’n lewe van ongeregtigheid te probeer regverdig nie. Ons kan nie aanvoer dat Christus vir ons sonde gesterf het en ons daarom geen verantwoordelikheid in die geloof het om ’n lewe van geregtigheid na te jaag nie. Christus is die einde van ’n lewe waarin ons uit eie krag probeer om God te gehoorsaam en sy gebooie na te kom. “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.” (Rom. 10:4). Dit beteken egter nie dat Hy die wet tot niet gemaak het nie. Hy het juis in gehoorsaamheid aan God die wet vervul. “MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” (Matt. 5:17). Christus is die begin van ’n lewe van versoening en vrede met God. Hy is die begin van ’n lewe waarin ons daarna streef en dit begeer om volgens sy voorbeeld aan God die Vader in alles gehoorsaam te wees. En dit nie om onsself te probeer regverdig nie, nog minder om daardeur verdienstelik voor God te probeer wees, maar in dankbaarheid dat Hy ons geregverdig het.

Dit is ook belangrik dat wanneer ons daaraan herinner word dat ons sonder verdienste deur Christus geregverdig word ons ook aan ons geloofsverantwoordelikheid herinner word. Ons is sonder verdienste geregverdig, maar dit onthef ons nie van alle verantwoordelikheid nie. “...en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (Rom. 3:24). Ons het as gelowiges die verantwoordelikheid om hierdie onverdienstelike genadegawe van regverdigmaking en geloof wat ons van God ontvang te beskerm en te koester. “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.” (Open. 3:11). Ek dink dat Heb. 10:26-29 hierdie verantwoordelikheid vir ons duidelik onderstreep en ons ernstig waarsku om nie hierdie gawe van God op onverantwoordelike wyse te hanteer nie. “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”

Laat ons ons geloofsverantwoordelikheid opneem en nakom deur Hom wat ons geregverdig het gedurig voor oë te hou in die vaste wete – in die geloof – dat ons deur Hom alleen geregverdig word. En laat ons met ’n vaste geloofsvertroue in Hom bly terwyl ons daarna streef om self volgens sy voorbeeld te leef.

“Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1 Joh. 2:6).