TERUG NA U!

“Dink, Here, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad.” Klaagliedere 5 : 1.

In 1902 het die verslane Boerenasie Klaagliedere 5 uit die Nederlandse Statebybel geneem, laat druk en onder die moedelose bittereinders versprei. In ons huis op die plaas het ek as kind die voorreg gehad om jare lank die woorde daarvan te lees en in te neem op die geraamde dokument wat aan die muur in die sitkamer gehang het, want my pa het as bittereinder en oudstryder van die Anglo-Boereoorlog ook ‘n eksemplaar daarvan ontvang.

In hoofstuk 5 van Jeremia se Klaagliedere treur die profeet oor al die ellende wat oor Jerusalem en Juda gekom het deur die Babiloniese wegvoering. In die Nuwe Lewende Vertaling van die Bybel klink sommige van die profeet se klagtes só:

“Here, hou ‘n bietjie in gedagte wat met ons gebeur het. Kyk na die skande wat ons oorgekom het.  Die grond wat ons geërf het, het in vreemde hande beland.  Uitlanders besit ons eiendom.  Ons het geword soos weeskinders wat nie meer ‘n pa het nie.  Ons ma’s het soos weduwees geword.  Ons moet betaal vir die water wat ons drink.  Brandhout moet ons koop.  Agtervolgers blaas in ons nek.  Ons is stokflou gejaag.” (Verse 1 tot 5)

Die ellende wat Israel se toestand na die val van Jerusalem gekenmerk het, is ook in die bitter lewe ná die Tweede Vryheidsoorlog in Transvaal en die Vrystaat ondervind. Wanneer jy Klaagliedere 5 lees, is dit asof die profeet by voorbaat reeds ook die haglike na-oorlogse omstandighede wat die Boere gely het, beskryf en betreur:

“Vreugde het verdwyn uit ons harte.  Ons vrolike dans het in treursange verander, die krone het van ons koppe geval.”(Verse 15 en 16)  “Ons vroue word in Sion gemolesteer en ons dogters in dorpe van Juda verkrag.  Ons leiers word opgehang aan hulle hande.  Daar is geen respek vir ins oumense nie.  Jong mans moet koring maal by die meul.  Jong seuntjies steier onder die vragte hout wat hulle moet dra.” (Verse 11 tot 13)

En as ons kom by die treurige toestand waaronder ons tans onder die hiel van ‘n klompie demoniese terroriste verkeer en ons besef dat die Here die volksverraad wat op ons voltrek is, toegelaat het om deels as ‘n strafgerig te dien vir al ons eiegeregtigde volksondes, dan praat die profeet se klaagliedere tot diep in ons hart as hy bely:

“Ons voorouers het sonde gedoen, ons moet nou daarvoor betaal.  Slawe het nou base geword en niemand kan ons van hulle bevry nie.  Ons loop die risiko om doodgemaak te word, wanneer ons in die wildernis kos bymekaarmaak.” (Verse 7 tot 9)  “Dit het ons swak gemaak.  Ons oë het dof geword.  Sion se heuwel is verlate.  Jakkalse sluip daar rond.” (Verse 17 en 18)

Vanuit ons huidige nood roep die Afrikanervolk met die woorde van Jeremia tot God:

“Hoekom lyk dit of  U van ons vergeet het?  Hoekom hou U so lank aan om ons te vermy? Lei ons terug na U toe, Here, sodat ons by U kan terugkom.  Maak ons lewe weer soos dit vroeér was.  Het U ons dan heeltemal verwerp?  Gaan U dan vir altyd vir ons kwaad bly?” (Verse 20 tot 22)

Maar ons glo dat die Here ons weer op sy gestelde tyd sal verlos van hierdie plaag wat ons teister:

“U regeer, Here, vir ewig en altyd.  U sit op u koningstroon van geslag na geslag.” (Vers 19)

Ons dank Hom uit die grond van ons harte daarvoor.