HOU MOED, GOD KEN DIE TYD
Kyk, Ek laat hulle bymekaarkom uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn en in my grimmigheid en in groot gramskap; en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon... Want so sê die HERE: Soos Ek oor hierdie volk gebring het al hierdie groot onheile, so bring Ek oor hulle al die goeie wat Ek oor hulle spreek. - Jeremia 32
Soos die HERE die volk Israel aan die Chaldeërs oorgegee het omdat hulle ander gode gedien het, het Hy ook die Afrikanervolk aan ‘n goddelose owerheid vir presies dieselfde rede oorgegee.
Tans betaal hierdie volk vir hulle afvalligheid; die vyandelike aanslag is bedoel om vernietigend te wees. Ons word vermoor, verdruk, verraai, gebreinspoel en belieg. Hierdie poging met sy gevolglike verdeeldheid in ons geledere het daartoe gelei dat daar maar bitter min volksgenote oor is wat die waarheid van ons haglike toestand raaksien; die liberaliste en verraaiers het grootliks daarin geslaag om verwarring en twyfel onder volksgenote teweeg te bring wat die terugkeer ernstig bemoeilik.
Maar God wil ons vergewe en terugbring op sy eie tyd. Toe die tyd reg was en Hy Israel wou vergewe, het Hy hulle bymekaargemaak en hulle teruggebring na veiligheid in die land waar Hy weer hulle enigste God was, en dit is presies wat Hy met ons wil doen.
Dít is dan wat ons nou met ons hele hart van Hom moet vra, dat Hy ook hierdie geloftevolkie bymekaar sal maak, nie net van die uithoeke van die wêreld nie maar sal gaan haal by die sportafgod, die dobbelafgod, die drankafgod, die kring van die spotters, die huis van afvalliges en nog soveel meer plekke in hierdie land waar Hy nie aanbid word nie; dat Hy ons sal vergewe, en ons weer in veiligheid plaas waar Hy ons enigste God, en ons en ons nageslag vir Hom ‘n volwaardige volk in hierdie gelofteland sal wees,, want ons weet by Hom is alles moontlik.
Lees sy wonderlike beloftes hier in Jeremia 32, en weet dit is wat Hy ook vir sy geliefde volk hier aan die suidpunt van Afrika wil doen:
Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar (onmoontlik – NV) wees?
Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek gee hierdie stad oor in die hand van die Chaldeërs en in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, en hy sal dit inneem.
En die Chaldeërs wat teen hierdie stad veg, sal kom en hierdie stad aan die brand steek en dit verbrand, saam met die huise op die dakke waarvan hulle vir Baäl rook laat opgaan het en vir ander gode drankoffers uitgegiet het om My te terg...
Daarom, so spreek dan nou die HERE, die God van Israel, aangaande hierdie stad waarvan julle sê: Dit is in die hand van die koning van Babel oorgegee deur die swaard en die hongersnood en die pes –
Kyk, Ek laat hulle bymekaarkom uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn en in my grimmigheid en in groot gramskap; en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon.
En hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees.
En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle.
En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.
En Ek sal my verheug om aan hulle goed te doen; en Ek sal hulle duursaam in hierdie land plant, met my hele hart en met my hele siel.
Want so sê die HERE: Soos Ek oor hierdie volk gebring het al hierdie groot onheile, so bring Ek oor hulle al die goeie wat Ek oor hulle spreek.
Jeremia 32
Daarom, hou moed, God weet presies wanneer Hy hierdie dinge gaan doen; intussen moet ons stil wees en rustig voortwerk want daar wag later vir ons harde en groot werk!