VREES NIE DIE AFGODEDIENAARS

Ons leef in ‘n tyd van verval op sosiale, ekonomiese, politiese en veral geestelike gebied, en dit het ons gebring by die punt waar alles wat ons rustige voortbestaan verseker omgekeer is. Vir hierdie chaos in die wêreld is die owerhede te blameer, regerings wat voor mammon geswig het. Deur die hele wêreld het die konings of te wel leiers presies soos Psalm 2 daarop wys saam teen die HERE beraadslag, het die wêreldgeldmag die bande met Hom losgemaak en kon Satan sy vernietigingswerk met gemak uitvoer soos ook in Suid-Afrika waar Christene nou ‘n kritieke en gevaarlike fase beleef.

Maar die HERE spot met die vyandelike owerhede, en Hy sal sy belofte hou om hulle in sy grimmigheid te verskrik wanneer sy kinders bedreig word, Hy sal “hulle verpletter met ‘n ysterstaf, stukkend slaan soos ‘n erdepot.” Die spul kan maar almal saam moord skree en toi-toi terwyl hulle hul afgodebeuel blaas, hulle sal nie slaag in hulle vernietigingstog nie. Solank ons op die HERE vertrou, aan Hom alleen gehoorsaam is, en Hom “dien met vrees en bewing.”

Bid dat Hy sy volk se harte sal versterk en hulle meer geloofsvertroue as ooit tevore sal gee om die pad met Hom as die Leier aan te durf. Bid ook dat Hy Suid-Afrika ‘n Christen-owerheid sal gee wat weer stabiliteit en veiligheid sal bewerk.

Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?

Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê:

Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!

Hy wat in die hemel woon, lag: die HERE spot met hulle.

Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik...

U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.

Wees dan nou verstandig o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!

Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.

Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!

Psalm 2