"As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het,
wat is die mens dat U aan hom dink en die mensekind dat U hom besoek?" Psalm 8: 4-5
In hierdie wonderlike kort Psalm 8 vertel Dawid dat God die mens in 'n besonder bevoorregte posisie geplaas het in sy skepping, "skaars minder as die engele om sy troon." Ons dank Hom daarvoor en roem sy Naam: "O Here, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!"
So staan die hele boek van die Psalms in die teken van lofprysing tot God. Die verskillende skrywers van die Psalmboek, Dawid, Moses, Salomo, Asaf en die Koragiete prys die Here.
Elkeen prys Hom in sy heiligdom, hulle prys Hom onder sy magtige hemelgewelf, oor sy kragtige dade en in sy magtige grootheid. Hulle loof Hom met musiekinstrumente soos die ramshoring, harp en lier, met tamboeryn en koordanse, met snaarinstrumente en fluite en met galmende
simbale! "Laat alles wat asemhaal die Here prys!"
Wanneer ons die laaste vyf Psalms, 146 tot 150 lees, dan voel dit of ons saam met 'n juigende skare in jubeling opstyg om ons hallelujas deur die heelal te laat weerklink. Hierdie lofprysingpsalms begin almal met die aanhef "Prys die Here!" en sluit dit af met "Halleluja!"
Die besielende boodskap van die Psalms is: Prys die Here want Hy is goed en sing 'n danklied tot sy eer. Psalm 150 noem al die musiekinstrumente wat ons moet gebruik om sy lof mee te besing. Daar is vandag nog veel meer ander instrumente tot ons beskikking. Psalm 150 sluit af:
"Laat alles wat asem het die Here loof! Halleluja!"
Waarom moet ons dit doen? Ons kan die Here nooit genoeg dank dat Hy ons nie in ons verlore toestand waarin die sondeval ons gedompel het, gelaat het nie, maar toegelaat het dat sy geliefde eniggebore Seun, ons Here Jesus Christus, vir ons die ontsaglike prys aan die kruis betaal het, wat ons van ons sondeskuld en die ewige verdoemenis losgekoop het.