"En Ek sal die Vader bid en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid." Johannes 14 :16
Soos die aangehaalde teks aandui, leer die Bybel vir ons dat God drie persone in een natuur is. Daar word tot die VADER (God) gebid deur sy SEUN (Christus) om 'n ander TROOSTER (die Heilige Gees) te stuur. Die drie Persone is gelyk in aard, onderskeie in Persoon en ondergeskik in take wat hulle verrig. God is drie Persone in een aard, naamlik God die Vader, Jesus Christus die Seun en God die Heilige Gees.
As ons in Matthéüs 3 vers 16 en 17 saam met die belangstellende skare langs die Jordaanrivier gaan staan, onderwyl Johannes die Doper besig is om mense te doop, beleef ons 'n gebeurtenis waarby aldrie Persone van die goddelike Drie-eenheid betrokke is: God die Vader se stem weerklink uit die hemel oor die skare: "Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het," onderwyl God die Heilige Gees soos 'n duif neerdaal en op Jesus kom.
Maar ons moet daarop let dat God 'n Drie-eenheid én 'n Eenheid is; drie, maar tog een; God uit God. Die eenheid van God beteken daar is net een God en dat die goddelike natuur ongedeeld en ongeskeie is. Daar kan dus slegs een oneindige en volmaakte wese wees. Daar word in die Skrif gesê dat die goddelike natuur ongedeeld en ongeskeie is: "Luister Israel, die Here is ons God. Hy is die enigste Here." (Deut. 6: 4). God bestaan nie uit dele nie en Hy kan ook nie in drie dele verdeel word nie, want God is Gees en kan nie daarvolgens verdeel word nie.
As ons dus ons God die Vader aanbid vir sy wonderlike genade en liefde wat Hy vir ons in ons lewens bewys en die Here Jesus dank vir ons redding en God die Heilige Gees loof vir krag en leiding in ons lewe, dan aanbid ons net één almagtige, alomteenwoordige, ewige God, wat Homself in ons geredde lewens openbaar as ons Vader wat ons liefhet, as ons Middelaar en Saligmaker wat ons van die ewige verdoemenis gered het en wat ons met sy universele krag op die pad na ons ewige bestemming lei. Hoe wonderlik is dit nie!