DANKBAARHEID IS 'N GESOFISTIKEERDE EMOSIE

"Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle."

I  Thessalonicense 5 :18

Hierdie woorde wat Paulus as 'n vermaning gerig het aan die kinders van die Here in die gemeente van Thessalonika, is van die uiterste belang vir Christene van ons dag, om dit ter harte te neem en in ons Christelike lewe na te kom.  Die feit dat ons hele lewe, vanaf ons geboorte tot aan die einde daarvan, volkome van die liefdevolle versorging van ons hemelse Vader afhanklik is en dat dit nie 'n enkele dag met ons goed kan gaan indien Hy sy bewarende hand nie oor ons sou hou nie, vergeet ons so maklik in die geploeter van ons daaglikse bestaan.

Ons gaan maar voort asof ons by magte is om self die verloop en besonderhede daarvan te bepaal.  Ons besef nie dat ons teëspoede en mislukkings deur God toegelaat en gebruik word om vir ons aan te toon hoe hulpeloos ons sonder Hom is en hoe volkome afhanklik ons van Hom vir ons tydelike en ewige welsyn is nie.

In Kolossense 3:15 sê Paulus vir die gemeente:  "Laat die vrede van God ... in julle harte heers, en wees dankbaar." In vers 16 sê hy:  "...en sing in julle hart  met dankbaarheid tot eer van die Herë." In vers 17 sê hy:  "Doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom."

Hoe belangrik dit vir ons bestaan is om 'n dankbare Christelike lewe te lei, word ook verder in Efésiërs 5:19 en 20 beklemtoon met hierdie besielende woorde:  "Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van ons Here Jesus Christus."

Ons moet die Here vir alles dank, nie net vir sy seëninge wat ons oomblik na oomblik geniet nie, maar ook vir die teëspoed, terugslae en rampe wat in ons lewens plaasvind, want daarmee besef en erken ons dat dit nie sonder die kennis en wil van God plaasgevind het nie, maar dat Hy dit kan gebruik om ons van verflouing en afdwalings in ons geloof terug te roep en dat Hy ons weer tot nuwe toewyding en diens vir Hom wil opskerp.  Wanneer ons die Here met 'n opregte hart vir teëspoed in ons lewe dank, dan erken ons dat Hy dit tot ons beswil laat plaasvind het, nie veroorsaak het nie, maar toegelaat het.  Ek dank hom omdat Hy my waardig genoeg geag het om met my op hierdie wyse te praat, want ek weet dat wanneer Hy sy doel daarmee bereik het, sal Hy dit weer ophef.  Daarom dank ek hom by voorbaat daarvoor.

Gewoonlik vind Christene dit moeilik om die Here te dank vir teëspoede wat hulle tref, maar die getuienisse van baie wat dit met opregte harte gedoen het, vertel hoe die Here daardie teëspoed verander het in 'n seën.  Dis die moeite werd om die Here volgens die vereistes van sy Woord altyd vir alles wat in jou lewe plaasvind te dank, want dis deel van die belydenis van jou geloof in Hom.  Loof die Here want Hy is altyd goed!