"Wyn maak jou tong los. Sterk drank maak jou lawaaierig. Hy wat hom aan drank vergryp, is nie verstandig nie." Spreuke 20: 1.
So waarsku die Woord van die Here die mens teen die oormatige gebruik van sterk drank, want dit bevat die bedwelmende alkohol, wat die verbruiker se sinne verdoof, sodat hy deur hallusinasies allerlei drogbeelde ervaar. Dan is hy dronk.
Hoor hoe beskryf die Woord van die Here so 'n persoon se aaklige toestand in hoofstuk 23 verse 29 tot 35: "Wie het kopseer en lyfseer? Wie maak rusie en kla?
Wie het onnodige kneusplekke? Wie se oë is bloedbelope? Dis dié wat tot laat sit en drnk en allerlei mengsels proe. Moenie dat jy verlei word deur die rooi glans van wyn, die vonkel in die beker, die gladde manier waarop dit in jou keel afloop nie. Nadat jy dit gedrink het, pik dit soos 'n slang, spoeg dit gif soos 'n kobra. Jy sien dan vreemde dinge en jou gedagtes is verward. Jy voel of jy rondsteier soos 'n matroos op see, of op 'n seilboot rondslinger. Jy redeneer by jouself: 'Hulle het my geslaan en ek het nie seergekry nie! Ek weet nie eers dat hulle my geslaan het nie. Wanneer sal ek wakker word om iets te gaan soek wat ek kan drink?'"
Só skilder die Bybel vir ons 'n prentjie van die alkoholverslaafde. Deur middel van hierdie dwelmmiddel het die duiwel al legioene mense in die afgrond en die verderf gestort. Alkohol se tweelingbroer, nikotien, wat rokers van tabakprodukte inadem, werk stadiger, maar uiteindelik verwoes dit die roker se gesondheid en sy lewe. Daarom is publieke advertensies van tabakprodukte in ons land verbode. Maar waarom word die vrye advertering van alle vorme van sterk drank nie verbied nie?
Net die Here alleen kan 'n drankverslaafde van sy knellende bande verlos.